22 dae gelede
Pieter besef hy moet opmaak vir sy aaklige gedrag
Oom Sonnie
Oom Sonnie  ~ ~

HAAI, Sonlanders! “ ’n Ware­ Vriend” is ons huiskind SALMON SMITH se jongste pennevrug. Geniet die laaste hoofstuk!

PIETER trek sy asem skerp in toe Norman hom vertel wie sy lewe gered het.“Jy sê C-Clive Cupido? Daardie klong van die onderdorp?” hyg hy dit uit.

Norman kyk op na sy pa. Trane stroom oor sy wange.

“Ja, Pa. Clive Cupido van die onderdorp het my lewe gered.

“Hy was die enigste een wat my kom help het toe daai jongens my wou beroof.

“Die ander kinders het almal weggehardloop.

“Toe skiet daai skollies hom in plaas van vir my!”

Pieter kyk vlugtig na sy vrou. Sy mond hap nou oop en toe soos hy na woorde soek …

Hy is heeltemal sprakeloos.

Hy gaan sit op ’n stoel eenkant en vou sy hande om sy kop. Sy gedagtes is nou ’n warboel.

Die gebeure laas Vrydagmiddag kom by hom op.

Hy dink aan sy laakbare gedrag toe hy ’n onskul­dige, jong klong soos ’n hond uit sy huis gejaag het. ’n Klong wat toe ’n week daarna sy eie lewe waag om sý seun se lewe te red.

Hy wat Pieter is, het voorwaar ’n groot lewensfout begaan.

En dít is om ’n onbekende persoon na willekeur te judge.

Nadat hy die gesprek laas Vrydagaand tussen sy vrou en seun afgeluister het, toe sy seun uitgepak het oor Clive se huislike omstandighede, het hy al besef dat hy ’n gruwelike fout gemaak het.

Maar hy was tot nou toe te trots om dít te erken. Die spanning laat ’n pyn deur sy kop skiet. ’n Sagte kreun ontsnap uit sy mond.

“Pieter, is jy okay?” vra Cathy versigtig. Norman staan ook bekommerd nader. “P-Pa …?”

Pieter staan van die stoel af op. Hy ignoreer sy vrou se vraag en kyk nou direk na sy seun.

“Norman, hoe ernstig is Clive gewond?” vra hy.

“Die ambulansmense het gesê dit lyk of die koeël gelukkig nie die belangrike organe geraak het nie en dat Clive sal oorleef, Pa.”

“Weet jy waar hulle huis is, my kind?”

“Nee, Pa. Clive het my baie keer soontoe genooi, maar ek was bang oor wat Pa sou sê.

“Ek weet net wat hulle straat se naam is.”

Pieter kyk vlugtig na sy vrou en toe weer na Norman.

“Julle, ek het ’n gruwelike fout begaan en ek wil dit vanaand gaan regstel,” sê hy.

Dit klink asof sy stem wil breek van die swaar emosie.

LATER die aand ry Pieter stadig in Bitterbosstraat in die onderdorp af. Die gebied lyk maar baie creepy, met jongens wat oral agter hul knieë sit en hom in die fancy kar aangluur.

Dit stuur ’n rilling agter Pieter se rug af.

Hy stop langs ’n vrou wat met inkopiesakke in die pad af sukkel. “Ag jammer, Mevrou, ek soek na die huis van Anna Cupido?” vra hy deur sy oop venster.

Die vrou beduie na ’n armoedige huisie verder die straat af.

“Meneer, daai dronk jaarttief bly daarso!” sê sy sommer sonder om ’n oog te knip.

Pieter is effe geskok oor die vrou se uitlating. Hy besluit egter om dit net daar te laat en ry verder na die huis waarna die vrou beduie het.

’n Skraal vroutjie, wat lyk asof sy die hele wêreld op haar skouers dra, kom uitgestap toe Pieter voor die huis stilhou.

Sy kom leun oor haar hekkie en kyk vraend na die ghrênd man wat uit die ewe ghrênd kar klim.

Toe Pieter hom bekend stel, kyk sy hom eers agterdogtig aan.

“Is jy een van Clive se onnies?”

“Nee, Mevrou, ek is Clive se vriend se vader en ek wil graag met u kom gesels.”

Anna is verbaas oor die posh man haar so eervol aanspreek. Sy maak onmiddellik haar hekkie oop en nooi die man binne.

“Jammer oor my huis. Dis nou nie so ghrênd soos Meneer se huis nie,” maak sy vinnig verskoning.

Binne in die sitkamer hang Pieter egter nie slange nie.

“M-mevrou …, e-ek is eintlik hier oor ek ’n g-gruwelike fout begaan het,” stotter Pieter en trane huiwer vlak agter sy ooglede.

“U seun, Clive, het my vandag ’n belangrike lewensles geleer en ek wil graag uit die diepte van my hart opmaak waar ek verbrou het …”

DIE volgende dag kry Clive onverwagte besoekers. Sy oë rek groot toe hy Norman en sy ouers by sy hospitaalkamer sien instap.

“Clive!” gil Norman opgewonde en omhels versigtig sy maatjie.

“Dankie, Clive, vir wat jy gister vir my gedoen het. Dit was baie dapper van jou,” sê Norman en die trane dam agter sy ooglede op.

“Jy is al vriend wat ek het, Norman. Ek móés jou beskerm,” sê Clive.

Hy kyk op na Norman se ouers. Daar is ’n onsekere uitdrukking op sy gesig.

“M-middag, Oom …, middag, Antie …” groet hy.

Pieter lyk bewoë toe hy Clive aankyk. “Clive, my kind, dankie vir wat jy gister vir Norman gedoen het,” sê Pieter.

“E-ek was so naar met jou, maar tog het jy my kind se lewe gered.

“Dit is net ’n ware vriend wat dít sal doen. Asseblief, vergewe my oor my laakbare gedrag.”

’n Ligte glimlag speel om Clive se mondhoeke.

“Dit is okay, Oom. Kan ek maar Norman se maatjie wees?”

“Maar natuurlik, my kind! Daar is nie ’n beter maatjie vir Norman as jy nie,” sê Pieter.

“Jy het my weer perspektief op die lewe gegee. Ek het altyd al die inwoners van die onderdorp veroordeel, maar jy het my tot ander insigte gebring.

“Ek is jammer dat ek jou ook veroordeel het.

“Ek wou maar net my seun beskerm teen die woeste wêreld daar buite.

“Maar in die meantime het ek byna laat hy ’n juweel verloor.

“Jy kan maar vir ewig my seun se maatjie wees, Clive.”

Norman se hart jubel toe hy dit hoor. Hy kyk sy vriend aan met blydskap in sy hart.

“Ek het nóg goeie nuus vir jou, Clive. My ouers het besluit dat sodra jy hier ontslaan word, kan jy by ons kom bly.”

Clive se hart bokspring toe hy die nuus hoor. “Jislaik! Dankie, Oom en Antie!” gil hy dit uit.

Sy gesig versomber skielik. “E-en wat van my ma?” vra hy versigtig.

“Jou ma is fine daarmee, boeta. Ek het haar gisteraand ontmoet,” sê Pieter.

“Sy is eintlik ’n lieflike vrou wat maar net deur ’n krisis in haar lewe moes werk.

“Ek het haar ’n werk aangebied en sy gaan nou haar lewe verander. Sy kan jou kom besoek daar by ons soveel kere sy wil.”

Clive se gesig helder op. “Joh! Dankie, Oom … Antie!”

“Nee, my kind, ons moet vir jóú dankie sê oor hoe jy ons lewe kom verander het,” sê Cathy.

“Jy het vir ons kom wys dat ons nie almal oor dieselfde kam kan skeer nie. Dat daar ook goeie mense in die onderdorp is en ons ons medemens moet liefhê deur alle omstandighede.”

Sy en Norman slaan hul arms om Clive se skouers. Trane van blydskap stroom nou behoorlik oor die twee laities se wange.

Eenkant vee Pieter ongemerk ’n lastige traandruppel van sy regterwang af voordat hulle dit sien.

  • Einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters