11 dae gelede
Pics van die crime scene vertel nie die helfte van die feite
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Die hoofkarakter van ons nuwe verhaal blyk ’n cop te wees wat pas van verlof af terugkeer na die span. Maar op sy eerste dag terug is daar reeds ’n moord op sy spyskaart – een wat die werk van ’n reeksmoordenaar blyk te wees. Geniet nou die tweede hoofstuk van ELDRIDGE JASON se verhaal “Die Gemaskerde Killer”.

TERWYL hy op Layla wag, staan hy by die hek van sy woonstelkompleks en rook sy soveelste entjie.

In die geheim het hy homself al hoeveel keer uitgeskel oor hierdie kankerstokkie-habit van hom.

In hierdie tye van lockdown is sigarette hoeka skaarser as hoendertande. ’n Sekere doek-tannie het mos besluit ’n entjie is ’n zol propvol saliva.

Dagga rook is deesdae minder van ’n crime as om deur ’n magdronk cop met ’n pakkie entjies gevang te word.

Hy skud sy kop. Sy kollegas verstaan hy nie aldag nie.

Hoe mense opgewonde kan raak daaroor om ander se plesiertjies te spoil, gaan sy verstand te bowe.

Hy blaas weer ’n string rook uit.

Net toe kom Layla met skreeuende tyres om die draai gery.

Haastig vat hy nog ’n paar diep skywe. Dan smyt hy die sigaret-stompie eenkant toe en sit vinnig sy masker op.

Om sonder ’n masker in die openbaar gesien te word, is mos ook mos deesdae ’n crime teen human­ity, dink hy gegrief.

Hy klim haastig in die Ford Focus wat met die polisiediens se eie blou en geel go faster-strepe geverf is. Hy het nog skaars die deur agter hom toegemaak toe Layla ’n klein botteltjie hand sanitiser na hom uithou.

“F*kk*t,” vloek hy van agter sy masker. Nietemin vat hy die hand sanitiser, gooi ’n bietjie daarvan in sy hand en begin dit verwoed aan sy hande smeer.

“ ’n Mens moet deesdae so baie jou hande sanitise, al die krip-notas van skooldae gaan een van die dae wys,” grom hy.

Layla gee een van haar kenmerkend vrolike laggies.

“Jy, speurkapt. Nigels Fluks, ’n kripper op skool? Ek sal dit nooit glo nie.”

Sy gooi haar kop agteroor en lag dat wie weet almal haar kan hoor. Maar net so vrolik soos wat sy ’n breukdeel van ’n sekonde tevore was, net so ernstig is sy toe sy skielik na hom kyk.

“Alle grappies op ’n stokkie,” sê sy. “Die brigadier is ’n bol senuwees oor hierdie saak. PK is op sy case. Nou het hy dit sy werk gemaak om die cutting torch se vlam onder ons stert te hou.

“Sedert jy op leave was, k*k ons soos niemand dit sal kan oorvertel nie.”

Nigels knik bot. So ken hy brig. Beneke: baie goed om orders uit te blaf; k*ksleg om sy eie werk te doen.

“Remind my weer: Hoekom het jou ma-hulle jou Nigels gedoop?” onderbreek Layla sy gedagtegang.

“Moes dit nie Nigel sonder die ‘s’ gewees het nie?”

Nigels grinnik. “Die kort van ’n baie lang storie is dat ek een van twins was.

“My broer is tydens die geboorte dood en ’n skaap by home affairs het ’n fout gemaak deur die ‘s” agter my naam te voeg.

“Toe sien my ma-hulle dit as ’n sign om hierdeur vir altyd my broer wat dit nie gemaak het nie te onthou en te eer.”

Layla se masker kreukel soos sy glimlag. “En nou moet jy twee mense se lot deur die lewe dra?”

“And what a lot I got,” antwoord Nigels. “Maar genoeg van my, wat is die storie met die moorde?

“Weet jy al waarmee ons hier te make het?”

Layla trek haar skouers op. Die kommer kom sit weer vlak in haar pragtige bruin oë. Dan leun sy oor na die agterste sitplek, gryp ’n dunnerige bruin lêer en hou dit na Nigels uit.

Hy maak dit oop. Sy oog val dadelik op die stackie toneelfoto’s wat met ’n rekkie vasgebind is.

Hy haal die rekkie met bewende hande af.

“Iemand het weer sy hele vakansie omgedrink,” sê Layla giggelend.

“Ag, f*kk*f, jy,” antwoord Nigels en grinnik.

“As jy tydens die lockdown nie na ’n pub kan gaan nie, dan bring jy die pub na jou flat.”

Hy frons toe hy die eerste foto sien.

Dis ’n foto van ’n jong meisie wat op die staaloppervlak van ’n morgue lê.

Albei haar oë is potblou. Daar is ’n verstarde uitdrukking van angs in haar lewelose oë, so asof die laaste toneel wat sy moes aanskou vreesaanjaend was.

Dan merk hy op dat haar ore albei missing is.

“What the ...”

“Die ore-lose meisie?” vra Layla en leun nader om beter te kan sien.

“H’m, nie ’n mooi prentjie nie, nè? Pragtige meisie. Jy moet die lekker paar borste sien wat sy gehad het. Mans hou mos van ’n girl met lekker boobs.

“Maar dit lyk of iemand nie van Heather Lawrence se ore gehou het nie. So ook nie van die ore van die ander twee girls nie.”

“Ander twee girls?” vra Nigels en frons.

“Lerato Modisane en die meisie na wie se murder scene ons nou-nou gaan.

“Sover my kennis strek, is die identiteit van die mees onlangse victim nog nie bekend nie.

“Maar ek vermoed sy was nes die ander twee ’n sekswerker,” sê Layla.

Nigels fluit deur sy tande. “In hierdie tyd dat almal so gatvol is van gender-based violence?

“As die aktiviste hiervan uitvind, dan gaan–”

“Dan sit ons met ’n helse probleem,” val Layla hom in die rede.

“Wat die foto’s nie vir jou wys nie, is wat die siek psycho met die meisies se ore gemaak het.”

Nigels draai nuuskierig na haar. “Ek is amper te bang om te vra wat met hul ore gedoen is,” sê hy met ’n hees stem.

“Meisiekind, jy laat my dan nou na my leave terugverlang.”

Layla byt op haar onderlip en staar deur die voorruit.

Daar is ’n trek van hartseer in haar oë.

Nigels merk haar onderlip bewe liggies. Dit is nie vir haar maklik nie, besef hy.

“Hul ore was in hul mond gedruk, tot by hul kleintongetjie,” sê Layla saggies.

“Die nadoodse ondersoek het getoon albei vroue het nog geleef het toe hul ore afgesny is.

“Hulle het nog geleef toe hul ore tot diep agter in hul keelgat afgedruk is. Hulle het in alle waarskynlikheid versmoor.”

Nigels skud sy kop in ongeloof.

“Wat ’n siek, siek etter,” prewel hy. Hy sit sy hand liggies op Layla s’n.

Layla trek haar arm weg. “Social distancing, onthou,” probeer sy ’n grap maak en start die Focus.

“Kom ons gaan kyk wat op die ander toneel aangaan. Ek verwag die ergste.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters