4 maande gelede
Peter dink terug aan toe hy die wet oortree het
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Die droom bly Peter die hele dag by. Al sê Martin hy moet hom nie daaraan steur nie, maak dit hom nogtans senuweeagtig. Boonop lyk dit asof Nicolene hom by die skool vermy. Lees vandag die tweede hoofstuk van CHRISTO MEYER se nuutste verhaal, Die Droom.

DAAR is ’n spotlaggie in Martin se stem toe hy antwoord: “Hemel, Pietie, steur jy jou tog nie aan drome nie? Dis bog, man.

“Ek sê nou vir jou jy kwel jou onnodig. Niks gaan gebeur nie, jy sal sien.”

As Martin probeer het om oortuigend te klink, het hy heeltemal in sy poging misluk.

Peter kan aanvoel iets gaan gebeur en dit hou hom aan die raai. Hy onthou nog goed hoe hy destyds gedroom het Karel, sy neef, gaan sterf en skaars twee dae daarna is Karel deur ’n trein getrap.

Peter loop vandag nog met die selfverwyt omdat hy nooit vir Karel van sy droom vertel het nie.

Wie weet, dalk kon Karel nog geleef het as hy hom gewaarsku het.

Dié keer is dit iets wat gaan verhoed dat hy teen Bernadino Heights uitdraf.

Hy wens hierdie droom word nie ’n werklikheid nie.

By die huis aangekom, stoot Peter die voordeur oop en groet haastig toe hy sy ma gewaar.

Sy knik net, want hoewel sy dit nie vanoggend wou erken nie, het Peter se droom haar tog ontstel.

Sy weet hoe lief haar seun vir rugby is en sy weet ook hoe graag hy kaptein wil wees.

Nogtans het sy nie vanoggend laat deurskemer hoe die droom haar geraak het nie.

Sy het heeltyd gesit en tob oor wat haar seun van die veld af kan hou. Die sterkste moontlikheid waaraan sy kon dink, is ’n besering.

Maar sy weet Peter is topfiks en hy sal hom nie deur ’n besering laat onderkry nie.

Sy berei vir hom iets te ete terwyl hy uittrek.

Peter se kamer is met die eerste oogopslag dié van ’n agtermekaar tienerseun.

Elke dingetjie is presies op sy plek en teen die muur hang ’n groot plakkaat van die legendariese Springbokvleuel Bryan Habana. Nes Habana wil Peter ook eendag vir die Bokke uitdraf.

Peter is bevoorreg om ’n TV en DVD-speler in sy kamer te hê.

Op sy boekrak lê heelwat rugbytydskrifte.

Nadat Peter klaar middagete geniet het, skenk hy aandag aan sy skoolboeke.

Vanaand gaan daar nie veel tyd wees vir televisie kyk nie, want hy wil graag meer as 70% in die wiskundetoets behaal.

Teen 22:30 pak hy sy boeke weg en maak gereed om bed toe te gaan.

Peter lê lank wakker. Sy gedagtes gaan terug na die jaar toe hy besluit het om die wet te oortree.

Dis ’n jaar waarop hy nie trots is nie. Hy was 11 en ’n half.

Hoekom hy dit gedoen het, weet hy tot vandag nie. Hy is net bly hy is nie uitgevang nie.

Miskien was dit nie regtig ’n besluit nie, net iets wat op die ingewing van die oomblik gebeur het.

Daar was ’n geleentheid om kattekwaad aan te vang en hy het dit met albei hande aangegryp.

Hy het toe al die betekenis geken van ’n gegewe perd in die bek kyk. Hy kry sommer lag as hy weer daaraan dink.

Dis tog nie asof die omstandig­hede by die huis hom gedwing het om ’n vrou se beursie uit haar handsak te gaps nie.

Hy kry genoeg sakgeld. Hy het dit ook nie vooraf beplan nie.

Hy was gelukkig om weg te kom daarmee, maar sy moeite was pure verniet.

Daar was geen kontant in die beursie nie, net ’n klomp kaarte. Nadat hy die beursie in ’n vullisdrom gegooi het, het hy begin bewe.

Vir dae aaneen het hy weggekruip as hy ’n polisievoertuig gewaar.

Dit het gevoel asof hulle weet wat hy gedoen het en dat hulle hom gaan arresteer. Dis toe dat hy homself beloof het om dit nooit weer te doen nie.

Hy het nooit vir Martin of enige iemand anders daarvan vertel nie.

Hy kan net dink watter drag slae sy pa hom sou gee as hy daarvan moes geweet het.

Dis eintlik hartseer, besef Peter, dat daar wel skoolseuns is wat ’n gewoonte daarvan maak om grootmense te beroof.

Peter skuif sy kussing reg.

Hy het skaars aan die slaap geraak of die onplesierige droom herhaal hom.

Die volgende oggend is daar chaos voor skool.

Almal het intussen verneem van Peter se kapteinskap en dis duidelik dat hy elke leerling se held is.

Die leerlinge loop met plakkate rond wat wys sy kapteinskap dra hulle goedkeuring weg.

Sommige plakkate vra selfs waarom Peter nie lankal as kaptein gekies is nie.

Met die intrapslag word Peter omring en deur almal gelukgewens.

Hy voel heeltemal ongemaklik toe ’n onbekende meisie hom onverwags soen.

Die gelukwensing duur voort totdat die klok die begin van die eerste periode aankondig.

Peter kyk of hy nie dalk vir Nicolene iewers gewaar nie, maar daar is geen teken van haar nie.

Snaaks, dink hy, Nicolene is nie iemand wat laat by die skool opdaag nie.

Hy merk haar tussen ’n klomp giggelende meisies op en waai vir haar. Nicolene kyk in sy rigting, maar waai nie terug nie.

Dit lyk asof sy onbewus is van hom. Peter aanvaar sy het hom nie gesien nie.

Hy haas hom toe na die klas­kamer.

Martin is reeds by die klas toe hy daar aankom, besig om sy mening te lug oor Scottsdene se kanse om vanjaar in die eindstryd te speel.

Gedurende eerste pouse probeer Peter vir Nicolene opspoor.

Sy hart brand om weer ’n slag in haar pragtige bruin oë te kyk, haar naby hom te voel en aan haar hand te raak.

Hy begeer om weer aan haar te noem dat hy haar steeds as die oulikste meisie op aarde beskou.

Hy kyk oral rond, maar Nicolene Kotze is nêrens te sien nie. Nie eens in die gang waar hulle gewoonlik ontmoet nie.

Peter begin geleidelik moedeloos raak.

Probeer sy my doelbewus vermy of is daar dalk iemand anders? praat hy met homself.

Dit kan mos nie wees nie.

Sy het dan nou die dag nog gesê sy is lief vir hom ondanks sy rugbyverpligtinge.

Hy kyk nog ’n paar keer rond, maar loop hom in ’n klomp bewonderaars vas.

Elkeen wil sy handtekening hê asof hy nou ewe skielik ’n celebrity is. Vir die oomblik is Nicolene heeltemal vergete.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters