2 maande gelede
Peeping Lucian help Marky om in die flat te loer
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Marky sit een en een bymekaar en besef Cynthia, sy bevelvoerder se dogter, sit agter die moord op die twee mans. En Deidre, sy kollega, het haar gaan konfronteer. Cynthia ontken Deidre was by haar. Brig. Ndlozi daag ook op en jaag Marky soos ’n hond weg. Maar Marky haas hom na die woonstelkompleks se operasionele kantoor, waar hy dadelik besef Lucian, die operateur, is ’n peeping Tom wat dalk kamera-oë in Cynthia se woonstel het. Geniet nou die slothoofstuk van ELDRIDGE JASON se Kry vir Jou.

LUCIAN is anderkant bleek. Hy lek met ’n passie oor sy droë lippe.

“Ek... ek... weet nie waarvan –”

“Jy kan daai k*k vir ’n fool gaan vertel,” val Marky hom kras in die rede. “Ek ken jou soort.

“En ek het gesien hoe jou oë ophelder toe die mooie Cynthia Ndlozi op die rekenaarskerms verskyn het.

“Jy eye haar, en ondervinding het my geleer ouens soos jy wat met kameras werk, is gewoonlik peeping Toms wat devices in mense se plekke plant.

“So, moenie my tyd mors nie. ’n Lewe is op die spel en as jy nie die res van jou lewe in ’n helhool van ’n tronksel wil opeindig nie, moet jy nou hier met die waarheid uitkom.”

Die ontvangsdame loer nuuskierig na Lucian. “Dan is dit mos waar dat jy by jou vorige werk weggejaag is oor –”

“Hou jou bek!” gil Lucian. Hy klou asof sy lewe daarvan afhang aan sy lessenaar se rand vas.

Sweetkorrels so groot soos gholfballe kraam teen sy voorkop.

“Ek het ’n kamera in haar huis geplant, maar ek sweer ek het nog nie na enige iets gekyk nie.”

“Waar het jy die kamera gemonteer?” vra Marky.

Vir eers gaan hy hom nie bemoei met watter hofsake op Lucian gaan wag nie. Deidre en haar veiligheid kom eerste.

“In haar sitkamer waar sy altyd joga-oefeninge doen.”

Lucian bly meteens stil, wetende dat hy sy ek-het-nog-niks-gekyk-verweer so pas eiehandig in die wiele gery het.

“Hou op k*k praat en wys my wat daai kamera wys,” sis Marky.

Lucian tokkel met natgeswete hande op sy rekenaar se sleutelbord. Binne oomblikke is ’n beeld op een van die groot skerms in die operasionele kamer.

Marky herken dadelik Cynthia se sitkamer. Cynthia sit op daai peperduur couch van haar en wieg.

Dan verskyn brig. Ndlozi op die skerm en Marky se maag gee ’n draai toe hy Deidre gewaar.

Duct tape is oor haar mond en haar hande is vasgemaak.

“Het jy sound?” vra Marky aan Lucian, maar voor dié kan antwoord, blaf Marky: “En moenie kom met ’n k*k verskoning nie. Pervs soos jy sorg altyd vir sound.”

Sonder ’n woord druk Lucian vinnig ’n knoppie op sy sleutelbord.

“En nou moet ek ’n klomp verduidelikings doen,” kla brig. Ndlozi teenoor sy dogter.

“Maar Pappa kan mos alles fix,” sê Cynthia in ’n temerige, byna kinder­like stemmetjie.

“Watter verskil gaan nóg ’n moord maak? Niemand gaan mos hierdie b*tch mis nie en daai cop wat so onbeskof teenoor Pappa was, kan mos net gefire word. Niemand sal ooit iets vermoed nie.” Sy pruil haar mond.

Marky voel ’n rilling langs sy ruggraat afhardloop.

Brig. Ndlozi se dogter draai haar pa om haar moorddadige pinkie, dink hy. Sy hart word week toe hy die desperaatheid en pleitende uitdrukking in Deidre se oë sien.

“Hierdie is anders, Poplap,” sê die brigadier en vryf oor sy oë.

“NastyBoy G en daai k*k regter Arends het verdien wat hulle gekry het, maar Deidre ... dit gaan mos nie reg wees nie.

“Is dit dan reg dat ons tronk toe gaan oor ons net wou regmaak waar die regstelsel ons gefaal het?

“Daddy het beloof om hulle te laat boet. Daddy het gesien hoe seer hulle my gemaak het.

“Ek was ’n wrak. Maar noudat ek weer besig is om heel te word, wil Daddy nie ’n laaste struikelblok uit die weg ruim nie. Daddy is nie lief vir my nie.”

Marky draai na Lucian. “Record jy hierdie?”

Die ou knik net sy kop. Hy is steeds asvaal om die kiewe.

“Jy beter,” antwoord Marky. Dan voeg hy in ’n effens sagter stemtoon by: “Ek sal ’n woordjie vir jou doen by die staatsaanklaer. Dit maak nie wat jy gedoen het f*kk*n reg nie, maar as dit nie vir jou en jou perv-streke was nie ...”

Lucian knik dankbaar.

“Ek gaan daai goose se deur aftrap, met skarniere en ál,” sê Marky skielik.

Lucian wip van die skrik.

“Moenie ophou record nie,” blaf Marky sy laaste bevel af en storm dan die vertrek uit.

Die ontvangsdame skree nog iets agterna, maar Marky voel hy het dalk reeds te veel tyd gemors.

Hy hardloop na die hysbak en druk ongeduldig totdat dit op die grondvloer tot stilstand kom.

Dit voel vir hom soos ’n ewigheid voordat die hysbak op die sesde vloer oopmaak. Hy is skaars uit, toe storm hy met alle mag en mening op Cynthia se voordeur af.

’n Aardige kraakgeluid tuit deur Marky se ore en hy weet instinktief dit is afkomstig van sy skouer en nie van die voordeur nie.

Sy momentum laat hom met deur en al in die woonstel val.

Hy staan met ’n kreun op en haas hom in die rigting van Cynthia se sitkamer, sy Z88-dienspistool in die hand.

Brig. Simphiwe Ndlozi staan grootoog agter Deidre. Sy pistool sekuur teen haar slaap.

Marky rig sy pistool op sy bevelvoerder. “Moenie iets simpels aanvang nie, Brigadier,” sê Marky. “Jy is klaar in soveel k*k, laat val jou gun.”

Die sweetdruppels pêrel op brig. Ndlozi se bolip.

“Ek wou net my kind beskerm,” prewel hy. “Ek werk vir die law, maar die law kon dan nie my kind beskerm nie.”

En toe gebeur dinge vinnig. Deidre slaan met al haar krag die brigadier in die ribbes en duik eenkant toe. Voor Ndlozi van sy skok kan herstel, blaf die Z88 in Marky se hand.

Sy bevelvoerder plof soos ’n sak aartappels op die vloer neer en lê doodstil. Cynthia gil note wat ’n sopraan jaloers sou maak, maar Marky steur hom nie aan haar nie.

Hy haas hom na Deidre en pluk die duct tape van haar mond af.

“Wat het jou so lank laat draai?” vra Deidre met ’n pynlike trek op haar gesig.

“Jislaik, julle kinders van vandag darem,” sê Marky en lag.

“Geen ore nie en dan nog ondankbaar as ek jou lewe red.”

“O, ek is dankbaar, Marky,” sê Deidre en plant onverwags ’n soen op sy wang.

Marky voel hy raak rooi. ’n Jong, lekker girl soos Deidre moenie nou die duiwel in ’n ou man losmaak nie, dink hy. ’n Ou man soos hy het ook mos feelings.

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters