Verlede maand
Paul verwag nie wat Janine hom wys nie
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons ’n storie van CHRISTO MEYER uit die dae voor Covid-19. Hy noem dié een “My Grootste Vyand”.

SONDAGOGGEND. Ek lê en dink oor my lewe en die pad vorentoe.

Hoe gaan ek al die stukke van die grond af optel?

Dit gaan bitter moeilik wees om net aan te beweeg. Daar is nie ’n knoppie wat ek kan afskakel en sommer net vergeet nie.

Baie dinge het die laaste tyd gebeur. Dinge wat my snags laat rondrol.

Ek, Paul Poggenpoel, huil nie sommer nie, maar ek sukkel die laaste ruk om my trane binne te hou. Alles raak party aande net te veel.

Ek verlang nog na Lucinda. Ek kan nie glo dis werklik verby tussen ons nie.

Dit gaan nie maklik wees om haar net so uit my gedagtes te kry nie. Ons was immers vier jaar in ’n ernstige verhouding. Wat het haar laat besluit om op te breek?

Sy’t op ’n dag net kom sê ek moet van haar vergeet.

Sommer net so, sonder enige verduideliking.

“Haal my nommer van jou foon af, Paul. Moet my nooit weer bel of boodskappe stuur nie. Ek wil jou nooit weer sien nie.”

Ek wou nog weet wat dit is wat ek verkeerd gedoen het en of iemand anders my hand in die as geslaan het, toe klap sy die deur in my gesig toe.

Stom van verbasing het ek daar gestaan en haar deur die venster agterna gestaar.

Dit was seer, maar daar was niks wat ek daaraan kon doen nie. Ek het haar besluit gerespekteer.

Om alles te vererger, het Ma ’n paar dae later haar stryd teen kanker verloor.

Ek was van plan om haar daardie middag in die hospitaal te besoek toe ek ’n oproep van my ousus kry. Die wêreld om my het in duie gestort.

Daar is nog iets wat my pla. Ek is nie seker of ek nog ’n beste vriend het nie. Dit vreet aan my.

Vandat Ruan verloof is, het hy nie meer tyd vir my nie. Hy bel my nooit, hy kom loer nie meer in nie en hy reageer nie op my WhatsApp- en Facebook-boodskappe nie. Hy het net oë en ore vir sy verloofde.

Ek wens dinge kan weer soos voorheen wees, maar ek dink nie my wens sal vervul word nie.

Die winde van verandering het alles kom bederf.

Ek staan op om badkamer toe te gaan toe my selfoon lui.

Dit verbaas my om Janine se naam op die skermpie te sien. Sal interessant wees om te hoor wat sy wil hê. Het sy en Ruan uiteindelik besef ek bestaan ook nog?

“Hallo, Nina.” Ek probeer vrolik klink, maar hoe kan ek opgewek wees as ek so seergemaak voel?

“Paul, jy moet ophou om my so te noem. Jy weet ek hou niks daarvan nie. My ma het my so ’n mooi naam gegee. Hoe moeilik kan dit wees om Janine te sê?”

“Vergewe my, ek is net bly om jou stem te hoor. Jy en Ruan is mos so verlief dat julle vergeet julle het vriende.”

“So van Ruan gepraat, het jy hom miskien iewers gesien?”

“Nie met ’n oog nie. Hy is mos elke naweek by jou.”

“Hy sou gistermiddag hiernatoe gekom het, maar hy het nooit opgedaag nie. En sy foon is net af.”

“Oe, jinne, ek hoop nie hy het koue voete gekry nie.”

“Los nou die grappies, man. Ek is ernstig.”

“Soos ek vir Ruan ken, het hy seker ’n ou skoolvriend raakgeloop en iewers gaan dronk raak.”

“Sonder om my te laat weet? So onverantwoordelik is hy darem nie. Hy weet tog ek sal my dood­bekommer.”

“Dink jy iets het met hom gebeur?”

“Ek weet nie wat om te dink nie. As ek polisie toe gaan en hom as vermis aanmeld, en hy daag skielik hier op, is ek die grootste gek.

“Wil jy nie later by my ’n draai kom maak nie? Dan kan ons saam besluit wat om te doen.”

“Nou goed, maar daai gaan jou ’n koppie koffie kos. Ek doen niks verniet nie”

“Is koffie al wat jy wil hê? Ook maar lekker cheap, nè? Moet my nou nie heeldag laat wag nie.”

Janine jaag onnodig spoke op. Daarvan is ek seker.

Ruan het seker net besluit hy wil nie dié naweek gepla wees nie.

’n Man is darem af en toe op “me time” geregtig.

Toe ek by Janine se woonstel opdaag, lyk dit asof sy gehuil het. Sy nooi my binne en skakel die ketel aan.

Sy haal twee koppies uit die rak, gooi koffie en suiker in en wag vir die water om te kook.

Iets is verkeerd. Ek sien dit aan die manier waarop sy voor haar uit staar. Dit is asof sy nie bewus is van my wat saam met haar in die vertrek is nie.

Eers toe ek liggies op haar skouer tik, keer sy na die werklikheid terug.

“Jammer,” maak sy verskoning. “My kop is op ’n ander plek.”

“Wat is dit, Janine? Ek kan sien iets pla jou.”

Die water kook, sy maak die koffie en ons gaan sit by die tafel.

“Ek is bly jy het gekom, Paul. Ek het nie geweet met wie anders om te praat nie.”

“Gaan jy my nou vertel wat aangaan of wat?”

Sy neem ’n slukkie van haar koffie en sit die koppie op die tafel neer.

“Dis Ruan. Hy sien iemand anders.”

Ek wil nie glo wat ek hoor nie. Dit kan nie waar wees nie. Iewers is daar ’n misverstand.

“Hoe seker is jy van jou saak?”

“Ek is doodseker. Ek vermoed al geruime tyd Ruan verneuk my, daarom het ek ’n privaat speurder aangestel om hom ’n bietjie dop te hou.

“ ’n Vrou kan nie in ’n huwelik gaan as sy twyfel oor haar aanstaande se optrede nie.”

“Wat het die speurder toe uitgevind?”

“Kyk maar self,” sê sy en oorhandig haar selfoon aan my.

Die toneeltjie op die skerm bring ’n naar kol op my maag. Woede stoot in my op.

Wat het Ruan besiel om so iets te doen?

“Ek kan nie met hom trou nie,” sê Janine hartseer. “Maar ek sal kan doen met ’n goeie vriend.

“Sal jy my help om die pyn te verwerk?”

In plaas van antwoord, gooi ek my arms om Janine en druk haar teen my vas.

Binne sekondes voel ek hoe my hemp nat raak van haar trane.

Ek laat haar begaan. Die minste wat ek kan doen, is om my eie seer opsy te skuif en haar ’n te skouer bied om op te huil.

Sy is gebroke. Haar wond gaan nie oornag gesond word nie.

Die skokkende bewyse is daar op Janine se foon: Ruan en my Lucinda knyp die kat in die donker. Naak en skaamteloos.

Dit klink so onwerklik, maar toe besef ek – my beste vriend het pas my grootste vyand geword.

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters