Verlede maand
Patrick probeer hom loswriemel uit 'n voorstel
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Ons skop dié week af met ’n splinternuwe verhaal uit Christo Meyer se pen. Die verhaal se naam is “Ou Wonde”. Geniet nou hoofstuk 1.

DIT is laat op ’n Donderdagaand. Ek lê op my bed en staar na die plafon. My kamerlig brand nog.

Ek hoef niks aan niemand te verduidelik nie, maar ek is een van daardie ouens wat nie in die donker aan die slaap kan raak nie.

Dit het niks te doen met angs of iets wat in my kinderjare gebeur het nie. Dis net een van daardie dinge.

Buite gaan die wind tekere asof hy daarop uit is om alles en almal om hom te verwoes. Dis ’n teken dat ’n koue winter op ons wag ná die lang en warm somer.

Hoe die haweloses gaan oorleef, kan ek net wonder.

Ek draai op my linkersy en kreun van die pyn.

As ek geweet het dis sulke harde werk om die stoorkamer reg te pak, het ek liewer iemand gehuur om dit namens my te doen.

Op 55 is ek nie meer vandag se kind nie.

Ek is darem nog nie op brille en pille soos baie ander mans van my ouderdom nie, maar my ou liggaam is lank nie meer wat dit 20, 25 jaar gelede was nie.

Dan, uit die bloute, verskyn sy in my denke. Hoekom juis op dié oomblik kan ek nie verklaar nie.

Dit kan tog nie wees dat ek haar weer wil sien nie. Nie ná soveel jare nie. Of kan dit wees?

Die gedagte aan ’n weersiens laat my regop sit. Ek moet dit ten alle koste vermy. Onder geen omstandighede mag ek weer in daardie tipe versoeking kom nie.

Sy het dit so duidelik soos daglig gemaak dat sy niks meer met my te doen wil hê nie. Ek moes dit so aanvaar, al het ek agterna gewonder of dit die regte besluit was.

“Dit wat tussen ons gebeur het, was die grootste fout van my lewe,” onthou ek haar woorde van 15 jaar gelede.

“Wat het ek gedink? Jy is 18 jaar ouer as ek. Moet asseblief nooit weer naby my kom nie. Dis verby tussen ons.”

Ek het haar probeer keer, maar sy het vasbeslote omgedraai en uit my lewe gestap. Ek het haar nooit weer gesien nie. Sy was toe 22 en ek reeds 40.

Voordat ek verder gaan, kom ons maak gou kennis.

Ek hou nie daarvan om mense in die duister te hou nie.

My naam is Patrick Patterson. Ek was lank terug ’n musiekpromotor wat opkomende kunstenaars se loopbaan help skaaf het. Deesdae is ek ’n gepubliseerde skrywer.

Ek verkies fiksie omdat fiksie ’n manier het om ’n mens tydelik van die werklikheid te laat vergeet.

Die werklikheid kan soms wreed wees.

My keel is skielik droog. Ek staan op en loop kombuis toe.

Die vloerteëls is ysig onder my voete.

Ek tap ’n glas water en sluk dit gulsig. Nog een. Ek gaan sit op ’n stoel.

Wat is dit met my? Ek het my lank nie oor haar bekommer nie.

Wat sal my nou besiel? Sy het seker lankal van my bestaan vergeet.

Ek weet nie eens waar op aarde sy haar bevind nie. Is sy steeds hier in die Kaap, of dalk terug Johannesburg toe? Wat maak dit in elk geval saak?

Dit het mos niks met my uit te waai nie. Niemand het haar gedwing om uit die openbare oog te verdwyn nie. Dit was ’n besluit wat sy op haar eie geneem het.

Terug in die slaapkamer pla dit my dat ek net aan haar en aan niks anders kan dink nie.

Kan dit wees dat ek na haar verlang? Nee, ek moenie simpel wees nie. Die verlede moet liewer bly waar dit hoort. Ek wens ek kan aan die slaap raak, maar ek weet sommer ek gaan nog tot laat wakker lê. Môre gaan ’n lang dag wees.

Vrydagoggend voel ek nog moeg. Ek gaan staan onder die stort en draai die koue kraan oop. Dit behoort my beter te laat voel.

Ek het later vandag ’n vergadering met Andrew, my uitgewer, en dit gaan baie lelik lyk as ek oorkant hom sit en lang gape gee.

Ek weet nie hoekom hy my wil sien nie, maar dit moet belangrik wees, want oor die algemeen praat ek en hy maar oor die telefoon.

Ek moet erken, ek was effens uit die veld geslaan toe hy noem dit is iets wat ons van aangesig tot aangesig moet bespreek.

Hy het geheimsinnig geklink. Ek wonder wat die man op die hart het.

“Ek het ’n voorstel vir ’n nuwe boek,” val my uitgewer sommer met die deur in die huis.

Ons sit in sy kantoor, elkeen met ’n stomende koppie koffie.

“Laat ek raai. Die lesers soek ’n opvolg op my vorige roman.”

Hy glimlag. “Verkeerd. ’n Opvolg is iets wat jy wel kan oorweeg, maar jou volgende boek gaan iets anders wees. Nie-fiksie. Oor ’n bekende persoonlikheid.”

“En wie is hierdie persoonlikheid?” wil ek dadelik weet. “Dalk ’n geskorste sportster of ’n akteur wat skandes gemaak het?”

Andrew neem ’n slukkie van sy koffie. “Ek praat van Shaunelia Crawford.”

Die noem van haar naam stuur ’n rilling deur my lyf.

“Nee, Andrew,” skop ek teen die karre. “Jy kan nie dít van my verwag nie.

“Ek sal oor enige ander celebrity skryf, maar net nie Shaunelia nie.”

“Hoekom nie? Ek dink Shaunelia se storie sal interessante leesstof wees. Jy het nog nooit vir ’n uitdaging geskrik nie.”

“Jy weet goed ek en Shaunelia het ’n geskiedenis.

“Ons was lovers. Ek sal myself ook moet blootstel en my vuil wasgoed in die openbaar moet ophang.

“Is dit regtig nodig om ou wonde te gaan oopkrap?”

“Dis niks persoonliks nie, Patrick. Skuif jou gevoelens op die agtergrond en doen wat ek vra.

“As jy so ’n bietjie sensasie kan inwerk, sal dit ’n bonus wees. Bekende persoonlikhede het ook mos hul foute, of hoe?”

Sy stem drup van sarkasme. Ek kan sien dat niks hom van sy idee gaan laat afsien nie. Teen my beterwete stem ek in.

“Moet my nie te lank laat wag vir jou eerste hoofstuk nie,” sê Andrew net voordat ek sy kantoor verlaat.

Buite in die straat dring dit tot my deur: Hierdie projek gaan slapende honde wakker maak.

Ek sal baie mooi moet dink hoe ek dit gaan benader.

Gaan Shaunelia my ooit te woord wil staan?

Ek sal dadelik aan die werk moet spring.

My vriende by die media sal behulpsaam moet wees.

Hulle sal die adresse en kontaknommers kan verskaf van persone wat belang kan hê by die boek.

Ek sal moet rondbel en afsprake maak.

Ek het so gehoop ek hoef nooit weer naby Shaunelia te kom nie.

Ek wens ek het geweet hoe my uitgewer se kop werk.

Is dit werklik nodig om ou koeie uit die sloot te grawe?

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters