26 dae gelede
Ou Fanie is diep geskok toe hy sy eksvrou gewaar
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Fanie kyk in amperse afgryse hoe die skraps geklede Gerald die stage aan die brand dans. Die anties is mal oor hom en sy moves. Een antie, Monica, maak Fanie ongemaklik met die way hoe sy na hom kyk. Dan breek Fanie se beurt aan om die vroue te entertain. Sy bene begin jiggle, die sweet tap hom af en sy maag begin draai. Sal hy die strip-dans-pyp kan rook? Geniet hoofstuk 8 van ELDRIDGE JASON se verhaal Gif.

FANIE was lank laas in sy lewe so nervous.

Die laaste keer dat hy so op sy senuwees was, was in st. 3 toe hy voor die res van sy klas mondeling moes praat.

Destyds was sy klasonderwyseres juffrou A. Balie.

Hy weet nou nog nie waarvoor die “A” gestaan het nie, maar as kinders het hulle vet pret met haar naam gehad.

Maar hier waar hy agter die gordyn staan en luister na die geruis van vrouestemme daar buite, spoel geen vet-pret-gedagtes oor hom nie.

“Gaan wees net jouself. En dink aan die lekker tjieng wat jy gaan maak,” was Gerald se laaste woorde aan hom voordat hy verder gaan drink het.

Hy wat Fanie is, smag na ’n dop, maar dít sal hy eers kan geniet wanneer hy die anties klaar entertain het.

Maar hoe entertain jy wildvreemdes in ’n skrapse deurtrekker wat jou naat kielie?

Gerald het hom dié eina ding gegee en gesê dit sal die vroue mal maak, maar hy wat Fanie is, weet darem nie so mooi nie.

Hy het nog nooit sulke goed gedra nie.

Dit is nie veel van ’n troos nie, maar hy het vanaf ’n distance geruik of dit nie iets is wat Gerald reeds gedra het nie.

Genadiglik het ’n vars Sta-Soft-reuk bevestig hy het niks om oor te worry nie.

“Fanie! Fanie! Fanie!”

Die luidrugtige dames se dreunsang kom na hom aangedans.

Sy bene voel soos jellie, minus die custard.

Die musiek begin meteens klop. Sy oomblik van naakte fame is hier. Fanie sluk paniekerig aan die knop in sy keel toe hy hoor watter song Gerald vir sy act gekies het.

Ginuwine se “Pony”. Tsk. Hy is mos niemand se perd nie!

If you’re horny, let’s do it

Ride it, my pony

My saddle’s waiting,

Come and jump on it

If you’re horny, let’s do it

Ride it, my pony

My saddle’s waiting,

Come and jump on it ...

Heel onseker begin Fanie voetjie vir voetjie van agter die gordyn uit dans.

Die vroue begin gil. Tot Fanie se skaamte hoor hy Monica skree die hardste.

Skaam begin hy sy lyf gooi. En toe hy Gerald by die bar sien drink, begin hy inspirasie put uit die feit dat hy binnekort kan gaan keel natmaak.

Dan begin hy sy biscuit met mening skud. So asof hy die hele biscuit-blik leeg wil skud.

I’m just a bachelor

I’m looking for a partner

Someone who knows how to ride

Without even falling off

Gotta be compatible

Takes me to my limits

Girl when I break you off

I promise that you won’t want to get off ...

Fanie gooi sy lyf. Amper soos wat hy hom al jare lank aan die drank vergooi.

Hy hoor die vroue cheer. Hy verbeel hom hy dans in die body van Jean-Claude van Damme.

Hy is in sy moment. Hy is in die club. Al die lekke’ goose’e dans om hom, verbeel hy hom.

If we’re gonna get nasty baby

First we’ll show and tell

Till’ I reach your pony tail, oh

Lurk all over and through you baby

Until we reach the stream

You’ll be on my jockey team ...

Fanie maak sy oë oop. Hy wil elke oomblik indrink. Dit is immers sy oomblik. Dan ontmoet sy oë dié van een van die girls.

Herkenning kraam in hulle albei se oë. Fanie voel hoe sy lyf nog op die maat van die musiek beweeg.

Maar sy mind bid kliphard dat die aarde hom moet insluk.

Want in die crowd is iemand wat hy vetterig ken: Sandra, sy eksvrou.

GERALD gee Fanie ’n klop op die skouer toe hy by die kroeg by hom aansluit.

“Fanie, my maat. Jy is mos gemaak virrie stage.

“Het jy gehoor hoe cheer daardie antie jou aan?

“Nee wat, jy het dit. Gebore met dit!”

Fanie gryp gretig die bier wat Gerald na hom toe uithou.

“Geniet dit, mater. Jy het dit deur en deur verdien.

“Ek het netnoumaartjies met Sammy gepraat.

“Hulle wil jou sommer vir die hele maand vooruitboek.”

Fanie verstik amper aan sy bier.

“Dis winter, dis koud,” sê Fanie ná ’n ruk.

“Wie wil in hierdie koue die hele maand rondloop met basically net ’n draad gare deur jou naat?

“En besides –”

“Hallo, Fanie.”

Fanie vlieg om toe hy die bekende stem agter hom hoor.

Sandra. Mooier as wat hy haar ooit al imagine het.

Gerald loer nuuskierig van Fanie na Sandra, en dan weer na Fanie.

“Ken julle mekaar?”

“Kan jy ons ’n moment van privacy gee?” vra Fanie sonder om sy vriend se vraag te beantwoord.

“But of course,” antwoord Gerald.

Hy vat sy dop en loop dan al dansend weg.

Daar heers ’n oomblik van ongemak tussen Fanie en Sandra.

“Ek sien jy het nogal lekker moves,” sê Sandra.

Fanie voel hoe hy van diep vanuit sy ingewande warm word.

“Is dit jou nuwe job dié?”

Fanie skud sy kop heftig. “Nee, nee,” keer hy vir ’n vale.

“Ek ... Ek help net ’n brother uit,” sê hy en knik in Gerald se rigting. “Ek het ’n job. ’n Regte job. Regtig.”

Sandra lag. “Jy hoef niks aan my te verduidelik nie,” paai sy. “Dis mos nie asof jy my ’n verduideliking skuld nie.”

Fanie trippel verleë rond. “So, is jy ook een van die verveelde, ryk getroude anties?” vra hy.

Sandra skud haar kop. “Ryk is ek beslis nie. Ook nie ’n antie nie.

“En verder is ek mos lankal nie meer getroud nie.”

Fanie gaap sy eksvrou verbaas aan.

“Jy is nie ernstig nie,” sê hy. “Ek het dan gedink julle gaan forever hou.”

Sandra trek haar skouers op. “En so het ek ook gedink. Maar die absolute waarheid is dat niks kom by jou eerste liefde nie.”

Weer gaap Fanie sy eksvrou verdwaas aan.

Hoor hy reg? Droom hy nie net nie? As hy droom, is dit nou die regte oomblik vir iemand om hom wakker te knyp.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters