17 dae gelede
Oordeelsdag kom toe gouer as wat Rudy gehoop het
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Rudy vind die begrafnis van sy vermoorde dogter, McKenzie, verskriklik swaar. Dit is veral sy gewete wat aan hom knaag, want sy was daardie noodlottige dag in sy sorg. Maar hy wat Rudy is, was so vol Mandrax gepomp dat hy nie geweet het wat om hom aangaan nie. Ná die begrafnis ontmoet Rudy ’n ou wat homself as Nemesis voorstel. Hy sê hy weet Rudy was nie eerlik met almal oor daai dag se gebeure nie. Nemesis sê aan Rudy dat hy Kenzie se killer wil laat boet, maar dat Rudy ook sy kant sal moet bring ... Geniet nou hoofstuk 3 van “Nemesis”, die jongste verhaal uit die pen van ELDRIDGE JASON.

RUDY kan daardie aand nie ’n oog toemaak nie.

Sy gesprek met Nemesis spook by hom.

Hoe weet die man soveel dinge oor hom? Hoe weet hy van sy button-rokery en dat hy die dag van Kenzie se verdwyning dik gerook was?

Hy sug swaar, rol op sy ander sy en luister na Rachel se asemhaling.

Hy weet nie wie sy try fool nie, maar hy kan hoor sy slaap nie. Vir haar ken hy ook mos darem al jare lank.

“Ek het jou daar by die saal met iemand sien praat.”

Haar skielike woorde laat hom wip van die skrik.

Rudy maak keel skoon.

“Iemand wat net ’n light gesoek het,” antwoord hy kortaf.

“Julle het darem lank gepraat vir iemand wat net ’n light gesoek het,” antwoord Rachel.

“Dit het baie intense gelyk. Ek wou met jou kom praat, maar jy het so besig gelyk. Amper soos iemand wat besig was met ... ’n transaksie.”

Rudy rol tot op sy rug. “Jirre, Rachel, wat wil jy dan nou eintlik sê?” vra hy vies.

“As daar iets is wat jy wil weet, hoekom vra jy dit nie reguit nie? Moenie kom met draaitjies en swaaitjies nie.”

Rachel vlieg orent in die bed.

“Jy het nogal ’n fine cheek deur nou met hierdie attitude te kom. Maar siende dat jy nou vir die eerste keer sedert Kenzie se verdwyning bereid is om met my te praat, sal ek graag wil weet wat presies daai dag hier gebeur het.

“Waar was jy? Hoekom het jy nie gaan kyk waar sy was toe sy so lank buite draai nie?

“Hoekom het jy my nie ’n Whats­App gestuur nie en eers gewag totdat ek later die middag van die werk af gekom het?

“En Rowan? Hoekom het hy verdwyn? Het hy iets met Kenzie se verdwyning te doen gehad? Ek het daai vriend van jou nooit vertrou nie. Sulke ogies wat oral ronddwaal en hy kan nie ’n mens in die oë kyk nie.

“Maar nee, jy het mos gesê dis ’n bra van jou.”

Rachel blaas haar asem hard uit. Sy raak aan die snik. “Hierdie vrae vreet aan my. Ons kind lê onder die grond, vir ewig onder ’n sandkombers en ek kry nie antwoorde uit jou uit nie.

“Die polisie ... die polisie sê iemand moes iets gesien het. Sê my, Rudy, sê my, want die Vader weet, ek kan nie meer nie.”

Rudy lek oor sy droë lippe. Hy het geweet hierdie dag gaan aanbreek, maar nie verwag dat dit sommer vanaand al sou wees nie.

Rachel is reg, sy deserve antwoorde, maar hy kan haar mos nie die waarheid vertel nie. Niks gaan ooit weer dieselfde wees nie.

“Die polisie moet net hulle job doen,” grom hy. “En ophou agter die stories van die bekverkopers gaan.

“Ek weet nie wat gebeur het nie en ek kan nie explain hoekom ek nie dadelik besef het iets is fout nie. Hoe moes ek weet? Moes ek dit geruik het?

“Die kinders speel dan almal hier buite. Ek en jy het ook hier grootgeword en deur die jare niks oorgekom nie.”

Rachel spring uit die bed uit op. In die proses stamp sy die bedlamp van die bedkassie af. Die gloeilampie val kletterend teen die vloer. Die Mr Price Home special is moer toe ...

“Is jy dom?” gil sy. “Elke dag lees ons in die koerante oor kinders wat verdwyn en wreed vermoor word.

“Die tye waarin ons vandag leef, is nie dieselfde as toe ons kinders was nie.

“Jy kan my nie ’n straight antwoord gee nie, maar moenie dink ek het nie daai middag gesien hoe geel jou hande was nie.

“Jy het jou weer versin gerook aan die buttons, nè? Jy kan nie stry nie, kan jy?”

Rudy besef hy is in ’n hoek gedryf. “Oukei, oukei, dit is so, ja.

“Maar ek sweer ek was bewus van wat rondom my aangegaan het.”

Rachel trek haar asem skerp in.

“Jy weet wat om jou aangaan? Jy weet wat om jou aangaan?” vra sy in ’n histeriese stemtoon.

“My God, Rudy, as jy daai goed gerook het, is jy anderkant simpel. ’n Mens kan dan niks uitgerig kry met jou nie.

“Jy mompel, kwyl en slinger die hele tyd rond.

“Wie het saam met jou gerook? Rowan?”

Doodse stilte. Rachel blaas haar asem swaar uit.

“Ek het dit geweet,” prewel sy. “Ek het dit geweet.

“Vir jare waarsku mense my teen jou, maar ek het jou altyd defend.

“Toe Daddy gesê het jy is ’n good-for-nothing loser, het ek jou kant gevat.

“Toe jy jou werk verloor het van dik gerook van die buttons gaan werk, was ek vol understanding.

“Ten minste was jy nou by die huis as Kenzie uit die skool gekom het, het ek gedink. Maar die reality is dat jy niks anders as ’n stuk k*k is nie, Rudy.

“ ’n Stuk k*k wat responsible is vir my kind se dood.”

“Rachel ...”

“Moenie vir my kom f*kk*n ‘Rachel’ nie, jou gemors!” gil Rachel en ruk die beddegoed van Rudy af. “Trap uit my huis uit.

“Hierdie is my huis. Ek werk hier vir als.

“Vir geen oomblik langer gaan ek langs ’n killer in dieselfde bed lê nie.”

Rudy lê met net sy trunkie aan op die kaal laken.

“En waarheen moet ek hierdie tyd van die nag gaan?” vra hy. Hy bewe liggies van die skielike koue.

“Ek gee nie ’n f*k om nie. Daai is nie meer my business nie.

“Ek wil jou gevreet nie voor my sien nie. Jy ... jy het met jou button-rokery ons dogtertjie vir die wolwe gegooi, Rudy, en ek weet nie of ek jou ooit sal kan vergewe daarvoor nie.”

Rudy staan swaar van die bed af op en loop die gang af na die sitkamer. Hy plak hom op ’n bank neer en sit met sy kop in sy hande.

Die ergste wat hy gevrees het, is aan’t gebeur: Rachel blameer hom vir die dood van hulle kind.

Dan sit hy skielik regop. Wait a minute – Nemesis het sy nommer vir hom gegee.

Dalk kan hierdie vreemde, koue man hom help om dinge tussen hom en Rachel te herstel ...

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters