11 dae gelede
Oom Sampie hou sy dogter onder die duim
 ~ 

HAAI daar, Sonlanders! Vandag plaas ons die eerste aflewering van ’n kortverhaal in twee dele uit die pen van CHRISTO MEYER. Hy noem hierdie een “Oom Sampie van Kanarie­straat” .

DIE mense op Vioolhoogte – ’n plattelandse dorpie tussen naby en ver – het almal verskillende opinies oor verskillende onderwerpe.

Oor een ding stem hulle egter ongetwyfeld saam: Oom Sampie van Kanariestraat is ’n pyn in die agterent.

Nie net is hy onredelik, manipulerend en deksels arrogant nie, selfsug is ook een van sy vernaamste eienskappe.

Hy dink net aan homself en neem nooit ander se gevoelens in ag nie.

Die hawelose mense wat van tyd tot tyd in sy drom kom krap op soek na iets te ete, verjaag hy elke keer met sy swart sambok asof hulle wegloperhonde is.

By hom maak dit nie saak hoe honger of dors hulle is nie.

Om sy sin te kry, sal oom Sampie doelbewus op jou trap of oor jou loop sonder dat dit hom pla.

Oom Sampie gee nie ’n dooie flenter om wat ander mense van hom dink nie.

As die voorman by ’n konstruksiemaatskappy maak hy elke dag die lewe hel vir diegene wat onder hom werk.

Sy opdragte is dikwels onredelik, maar hy verwag steeds dit moet uitgevoer word.

Hy sal enige iemand wat weier om na hom te luister, summier in die pad steek.

Natuurlik is hy die een wat die kitaar slaan in die Swanepoel­woning. Tannie Gloria, sy vrou, stem maar met alles saam.

Oom Sampie se woord is wet. Hy is in beheer en regeer met ’n ysterhand.

Al wat tannie Gloria kan doen, is onderdanig wees. Sodra oom Sampie sy vingers klap, spring sy.

Waarom het tannie Gloria juis met oom Sampie getrou? het baie van die grootmense al onderlangs gevra. Nooit hardop nie, want oom Sampie het ’n humeur wat skrik vir niks. Hy is ook nie lui om sy vuiste in te span wanneer hy dit nodig ag nie.

Die ding is net: Oom Sampie en tannie Gloria verskil hemelsbreed.

Sy is saggeaard en goed ge­manierd; hy is hard en koud.

Sy is klein en fyn, terwyl hy die liggaam van ’n Springbokstut het.

Tog sit hy elke Sondag met ’n vroom gesig in die voorste gestoeltes in die kerk.

As enige van die kerkbroers dit net waag om te veel te kyk in die rigting van sy dogter, Jacoba, gluur oom Sampie hulle met sy norser as nors gesig aan.

Op hierdie manier laat hy hulle mooi verstaan hulle moenie eens daaraan dink om met sy kind kanse te waag nie.

Jacoba is al mondig, maar oom Sampie behandel haar nog soos ’n kleuter.

Sonder sy toestemming mag sy nie ’n voet versit nie.

Oor ál haar bewegings moet sy aan hom verslag doen. Hy wil alles van haar doen en late weet.

Nes in haar skooldae mag sy steeds nie mansvriende hê of sosiale geleenthede bywoon nie.

As sy saans vyf minute te laat van die werk af kom, soek hy ’n verduideliking.

“Jy moet nou nie dink jy is te groot vir ’n pak slae nie,” vermaan hy haar gereeld.

Naweke sit Jacoba maar in haar kamer. Sy hou van lees en besoek gereeld die biblioteek.

Sy is gehoorsaam aan haar pa en gaan hom nooit teë nie. Sy drink en rook nie, en mag ook nie naby nagklubs kom nie.

“Dansplekke is niks anders as duiwelsneste nie,” het oom Sampie haar al gewaarsku.

“Mense gaan net soontoe om te sondig. As ek jou ooit een aand by só ’n plek moet gaan haal, sal jy die dag berou dat jy gebore is.”

Oom Sampie het vir Jacoba die werk by die meubelwinkel in Voortrekkerstraat gekry.

Hy en Rodrigues, die eienaar, ken mekaar al jare.

Jacoba se matriekuitslae was nog nie in die koerant nie, toe begin sy werk – en dít terwyl die res van haar skoolmaats vakansie hou.

Baie aande lê en dink sy aan haar skooldae en die oggende dat Sharon en die ander meisies kom spog het hoe hul kêrels hulle die naweek vuurwarm gevry het.

Sy kon net luister en nooit saampraat nie.

Vanselfsprekend het sy soms gewonder hoe sy sou optree wanneer ’n seun haar die eerste keer soen.

Sy was nooit waaghalsig genoeg om teen haar pa se talle reëls te gaan nie.

“My tyd sal seker nog aanbreek,” het sy vir haarself gesê.

Op hoërskool wou Jacoba netbal speel.

Sy het dit een middag met haar pa bespreek, maar hy het briesend uitgevaar: “Ek soek jou nie naby ’n netbalbaan nie. Het jy gesien hoe kort is die spelers se rompies?

“Ek sal nooit toelaat dat jy jou boude ten toon stel dat almal dit kan aanskou nie.

“Jy is ’n Swanepoel, Jacoba, en ons Swanepoels moet te alle tye betaamlik lyk.”

Een middag in haar etenstyd drafstap Jacoba oor die besige pad.

Dit is die einde van die maand en die meubelwinkel is van vroeg­oggend af ’n behoorlike miernes van bedrywigheid.

Getroue klante het hul skuld kom betaal en sommer navraag kom doen oor nuwe produkte.

Hul maandelikse uitverkoping het talle nuwe gesigte by die deur laat instroom.

Sy was so besig, daar was tienuur nie eens tyd om ’n koppie tee te drink nie.

Maar sy kla nie.

Goeie verkope beteken goeie kommissie.

Sy het reeds haar oog op ’n nuwe skootrekenaar.

Die ou een is stadig en begin probleme gee.

Die biblioteek is skuins oorkant Jacoba se werkplek geleë.

Dit is waarheen sy gewoonlik gaan wanneer sy wil asemskep.

Soms gaan sit sy net by ’n tafel om vinnig deur ’n dagblad te blaai; ander kere vertoef sy langer.

Vandag is dit stil in die biblioteek. Dis eintlik heelwat stiller as op ander dae.

Net hier en daar is ’n boekwurm te sien.

Jacoba verkies die stilte.

Sy is nie een vir ’n gewoel en gewerskaf nie.

Oor die algemeen is sy ’n eenkantmens, ’n rustige persoon.

Gewoonlik gaan sy net werk en huis toe.

Stadig beweeg sy tussen die rakke deur.

Vandag soek sy ’n boek wat haar vanaf die eerste bladsy tot reg aan die einde kan boei.

Miskien ’n misdaadroman vol kinkels. Of ’n riller in die styl van Stephen King.

Of dalk ’n boek met ’n ongewone, omstrede tema.

Die laaste ruk was dit net liefdesverhale, waarvan die meeste taamlik voorspelbaar was.

Hierdie keer wil sy iets lees wat die moeite werd is.

Iets wat haar kan laat wonder, haar mond kan laat oophang, iets wat haar tot by die laaste hoofstuk aan die raai kan hou ...

¦ Lees volgende Sondag verder

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters