5 dae gelede
Oom Basil se vrou wil full force pak en Kaap toe trek
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Ons begin vandag met ’n verkorte verhaal van vier hoofstukke pleks van die gebruiklike vyf. Die High-flyers is geskryf deur ELDRIDGE JASON. Geniet die eerste hoofstuk.

TYD is ’n luxury.

Dít weet ons almal.Daar is ’n tyd om in te klok vir werk en daar is ’n tyd om te tjaila.

Daar is ’n tyd om te maak asof jy ’n disability het en in ’n Sassa-ry te staan vir ’n grant. En daar is ’n tyd dat die welsyn ’n slag moet sien hoe jy sonder jou kierie in Shoprite Liquors rondloop met ’n volle boks Namaqua.

Maar daar is ook ’n tyd wanneer ’n pa die beste vir sy gesin wil hê, selfs al beteken dit om die rustigheid van die platteland te verlaat en Kaap toe te trek.

So ’n pa is Basil Talmakkies, verkoopsman van beroep. Sy vrou is Naomi.

Die egpaar het twee dogters, Leandra en Lee-Shandra.

Nee, hulle is nie twins nie, maar coloureds hou mos van fênsie name.

Die Talmakkiese het egter nie van hulle van gehou nie.

Dit was ook nie nice vir hulle om langs die Draghoenders in Louwville te bly nie terwyl die Snygans-gesin ook net skuins oorkant die pad gebly het.

Vir Naomi Talmakkies het dit veels te dikwels gevoel of hulle in ’n zoo bly. ’n Zoo wat nogals in Tarentaalstraat geleë is.

Oor die jare het sy dik gehou by Basil, of Bear soos sy hom liefdevol noem as sy haar sin wil kry, dat hulle moet oppak en Kaap toe trek.

“Bear, my lief,” sê sy nog onlangs een aand met ’n pruilmondjie.

“Jy sien dan nou hier gaan Saldanha Staal ook mense retrench­. Dit gaan mos beteken dat nóg minder mense karre gaan koop.

“En die Kaap het mos beter skole vir ons kinders. Moet ons nie maar trek nie? Hè, my liefie Bear?”

Al wat daai aand deur oom Basil se mind gegaan het, is sy Beares Furniture-rekening wat heavy agterstallig is.

Naomi het nooit deur die jare geleer om spaarsaam te wees nie. En hy wat Basil is, kon deur die jare nooit leer om nee vir sy vrou te sê nie.

Deur die jare kon die oom nog teen die tweedehandse karre skop met die een ná die ander verskoning oor hoekom hulle nie Kaap toe hoef te trek nie.

Sy eerste argument was dat Kaapse lekkers en die lekkers aan die Weskus een en dieselfde ding is. Toe het hy weer gedruk op die bendegeweld in die Moederstad.

Wie se moeder die Kaap is, weet hy anyway nie.

Toe hierdie verskoning nie meer werk nie, het hy die verkeer in die Kaap voorgegooi.

Oom Basil het een jaar tot sy diepe spyt die stad in sy Fordjie met die CFG-nommerplaat aangedurf. Hy weet hy het daardie dag drie strokes oorleef soos wat hy moes uitswenk vir bestuurders wat selfs padvarke sou laat skaam kry het.

Maar hoe meer antie Naomi aan hom gekarring het, hoe meer het hy besef sy verskonings raak op.

En toe hy een aand moeg uit die werk kom van geen karre verkoop kry nie, begroet antie Naomi hom by die voordeurdrumpel met ’n werkadvertensie in haar hand.

“Ek het net die perfekte werk vir jou gekry,” sê sy vasbeslote.

“Een wat genoeg geld vir ons as gesin sal inbring en wat ’n goeie gelerentheid vir Leandra en Lee-Shandra sal beteken.”

Vir ’n oomblik wonder oom Basil wie Leandra en Lee-Shandra nou weer is. Hy sien daai dogters van hom so min.

Hulle is die meeste van die tyd in hulle kamer op hulle selfoon doenig. Die enigste tyd wanneer hulle wel van sy bestaan bewus is, is wanneer hulle ’n advance op hulle sakgeld soek.

Oom Basil staar met moeë oë na die advertensie wat sy vrou in sy hand geprop het. Gumtree.

Wat vir ’n boom is dit waaraan gums dan nou al groei? wonder hy vlugtig.

“Moeg van jou dead-end job?

Soek jy ’n nuwe challenge?

Wel, You Go Boy Motors is dan net die regte job vir jou.”

Oom Basil lees toe stadig deur die res van die advertensie. En stadig maar seker vat die gedagte by hom pos dat hierdie die end of the road vir hom is waarvan Boyz 2 Men jare lede gesing het.

Hy sug swaar.

“Dan moet ek seker maar aansoek doen,” sê hy ge­late.

“Kry ’n man dan nie aandete hier nie?”

“Jou kos is in die microwave. Maak dit self warm, want ek gaan nou my naels doen,” sê antie Naomi en trippel ingenome met haarself weg.

Oom Basil skud net sy kop en kyk haar agterna. Die skrif is aan die muur, besef die oom.

Maar dat dit ’n skrif is wat nêrens in die Bybel staan nie, sou hy nooit kon raai nie ...

DRIE maande later het die Talmakkiese Kaap toe getrek. Om meer presies te wees, Kuilsrivier.

Antie Naomi wou in Bishop’s Court-goeters gaan bly, maar oom Basil het dadelik besef hy gaan in die municipal courts opeindig weens te veel skuld.

Met groot moeite het hy sy vrou toe oortuig dat Kuils­rivier darem nie ’n slegte tweede opsie is nie.

Antie Naomi was nie impressed dat Kuilsrivier omring is deur plekke soos Delft, Wesbank en dodgy Bellville nie.

Maar daai eerste dag toe hulle in die woonbuurt Soneike intrek en sy besef hulle bly nou langs wit bruin mense, was sy baie in haar noppies.

Oom Basil dinges amper in sy adult nappies toe hy sien watter duur rygoed sy bure ry en besef antie Naomi gaan dit binnekort agterkom. Dan is dit nag vir hom en sy reeds vuisvoos bankkaart ...

Dit was ook nie honderd jaar nie – die volgende dag om presies te wees – toe begin antie Naomi in sy ore neul.

“My liefie Bear, het jy daai Ford Tuna gesien wat die bure ry?”

Oom Basil is ’n oomblik in die duister, maar toe gaan daar ’n lig by hom op waarvan Eskom net kan droom.

“Jy bedoel die Fortuner?” vra hy nog deur die slaap.

“Dis mos wat ek gesê het,” pruil antie Naomi. “Ek is seker met jou nuwe werk –”

“Dis dan vandag eers my eerste dag by die werk,” val oom Basil haar vinnig in die rede.

“En Leandra en Lee-Shandra gaan skool by daai duur privaat skool wat my ’n hele paar appels en uiwe gaan kos.

“Weet jy hoe duur is daai goed?”

“Wil jy dan hê jou gesin moet die lewe van armoediges lei?” count­er antie Naomi met haar favourite teenvraag.

Oom Basil draai om en staar na die muur. Sy vrou gaan nog sy dood veroorsaak, besef hy.

Nog voordat enige gangster hier in die Kaap kan dink om hom sat te maak, gaan sy vrou en haar demands hom doodkry ...

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters