24 dae gelede
Norman se hart is seer oor wat Clive vir hom te sê het
Oom Sonnie
Oom Sonnie  ~ ~

HAAI, Sonlanders! “ ’n Ware­ Vriend” is ons huiskind SALMON SMITH se jongste pennevrug. Geniet die derde hoofstuk!

DIT is al sterk skemer toe sy ma hom kom wakker maak. “Kom, my kind, dis tyd vir aandete.”

Norman draai hom op sy ander sy en trek die kombers oor sy kop. Hy het regtig nou lus vir niks.

Sy hart is nog seer oor sy pa se tirade vanmiddag.

Sy ma probeer die kombers van sy kop aftrek.

“Kom, my kind, kom eet ietsie,” soebat sy hom saggies.

“Los my, asseblief, Mammie. Ek is nie honger nie,” sê hy.

Cathy kom sit op die bed langs hom en kyk hom simpatiek aan. “Voel jy nog sleg oor vanmiddag, my seun?” vra sy saggies.

Norman maak sy kop oop en gaan sit regop.

Met trane wat in sy oë opdam, kyk hy sy ma aan.

“Ma, hoekom is Pa dan nou so wreed? Mag ek dan nie vriende hê nie?”

“Jou pa soek maar net die beste vir jou, my kind,” probeer sy moederlik paai.

“Hy wil nie hê dat jy ook jou lewe moet weggooi soos daai jong mense daar in die onderdorp nie,” sê sy saggies.

Norman se gesig vertrek van hartseer terwyl ’n traan oor sy linkerwang biggel.

“Maar nie almal wat daar bly, is só nie, Mammie.

“Clive is self nie ’n slegte klong nie, Mammie. Hy het sy pa drie jaar gelede in ’n kar-ongeluk verloor.

“Sy ma het toe begin drink en hulle huis begin verwaarloos.

“Sy lê op die smokkeljaarts rond. Hy het vir my gesê as hy smiddae uit die skool kom, dan moet hy self huis skoonmaak en kos maak vir hulle.

“Dit is nou as daar geld is vir kos. Hy het my ál die dinge vertel, Ma.

“Sy ma werk nie en kry AllPay vir hom. Soms stryk sy by mense klere vir ekstra geld, waarvan sy dan die meeste uitdrink.

“En deur dit alles, Mammie, het hy nog nooit sleg van sy ma gepraat nie.

“Hy het nog steeds respek vir haar en gaan haal haar soms by die smokkeljaart en bring haar huis toe.

“Hy is deur dit alles nog baie lief vir haar.”

Norman vee vinnig die trane uit sy oë en kyk sy ma in die gesig.

“Is dít nou ’n klong wat geen maniere het nie en, soos Pa sê, ’n gemors is?”

Cathy se hart raak opeens week toe sy dit hoor.

“Hy is nie ’n slegte klong nie, regtig, Mammie,” gaan Norman snikkend voort.

“Hy soek ook net daardie liefde soos wat ek hier kry. Hy ken dit nie.

“Pa sê altyd ek moet vir my vriende kry wat beter as ek is om my op te lig in die lewe.

“Nou, Clive soek ook maar net ’n vriend wat hom kan liefhê, vir hom omgee en hom oplig in die lewe.

“Mammie, as ek dan nie daai vriend vir hom kan wees nie, dan sal niemand dit kan wees nie.

“Want niemand in die skool wil met hom vriende wees nie oor almal weet van sy omstandig­hede by die huis.

“Hulle maak hóm sleg oor sy ma ’n alkoholis is en nie behoorlik vir hulle kan sorg nie.

“Hy kan mos nie help dat sy pa vroeg in sy lewe dood is nie.”

Cathy vee vinnig ’n traan weg wat oor haar een wang biggel.

Sy slaan skielik haar arms om haar seun.

“My kind, Mammie het regtig nie geweet van jou vriend se omstandighede nie. Ek het ook daardie fout gemaak om hom te judge op grond van die area waarin hy woon.

“Maar wat jy my nou vertel, laat my glo hy is ’n goeie seun.

“Ek is so jammer oor alles.”

Nie een van hulle sien hoe Pieter vinnig wegbeweeg van Norman se kamerdeur toe hulle opstaan nie.

DIE Maandagoggend wag Clive nie soos gewoonlik vir Norman by die skoolhek in nie.

Norman soek oral op die skoolterrein na Clive, maar kry hom nêrens in die hande nie.

Toe die skool begin en hulle na hul klasse beweeg, is daar ook geen teken van Clive nie. Toe die eerste periode begin, besef Norman met ’n swaar hart sy vriend het nie vandag skool toe gekom nie.

Die dag gaan vir Norman maar swaar om.

TEEN Donderdag is daar steeds geen teken van Clive nie. En dít maak Norman nou baie bekommerd. Wat as iets met Clive gebeur het?

In die pouse gaan hy na hul registerklasonderwyser.

“Meneer, ek dink iets het met Clive gebeur. Hy was nog nie dié week in die skool nie,” probeer hy die onderwerp aanroer.

Meneer Cloete kyk gesteurd op.

“Ek dink Clive het seker maar moeg geraak van skoolgaan,” sê hy.

“Nou het hy besluit om ook een van die school dropouts te wees soos daai jongens wat so agter hulle knieë sit daar op die hoeke in die onderdorp.”

“Nee, dit is nie, Meneer! Clive is nie so nie! Hy is ’n goeie klong!” protesteer Norman.

Cloete kyk Norman verbaas aan.

“Vir wat kom jy dan op vir iemand van die onderdorp? Daardie mense daar ...”

Norman storm daar uit voordat Cloete sy sin kan klaar maak.

Cloete trek net sy skouers op en gaan aan met sy werk.

Norman besef nou niemand hier by die skool gee werklik om vir Clive nie. Altans, almal van die bodorp, leerders én onderwysers, kyk neer op die leerders van die onderdorp.

Hy besluit as Clive nog nie môre terug by die skool is nie, gaan hy hom ná skool daar in die onderdorp soek.

Never mind wat sy pa sal sê. Hy sal maar die gevolge dra, maar hy gaan nie sy vriend afstaan en kyk hoe hy ook sy lewe weggooi nie.

DIE volgende oggend voel dit vir Norman asof sy hart oorloop van vreugde toe hy Clive weer daar agter in die klas sien sit.

Net toe hy na hom toe wil gaan, beveel hulle onnie al die leerders om hul sitplekke in te neem.

Gedurende die periode probeer hy Clive se aandag trek, maar dit lyk vir hom asof Clive hom die koue skouer gee.

Toe die klok vir eerste pouse lui, is Clive eerste by die deur uit.

Norman roep nog agterna, maar Clive vleg vinnig tussen die malende leerders deur en verdwyn om die verste hoek.

Dié gebaar van sy vriend ruk Norman aan die hart.

Dit lyk dan nou asof Clive vir hom ook kwaad is en hom probeer vermy.

Hy soek orals na Clive en spoor hom in die verste hoek van die skoolterrein op. Hy staan alleen.

“Clive ..? E-ek h-het jou oral gesoek,” stotter hy effe ongemaklik.

“Gaan weg! Ek is nie meer jou vriend nie!” gil Clive en keer sy rug op Norman.

Norman se hart wil breek toe hy dié woorde hoor.

“E-ek is jammer, Clive,” sê hy saggies.

“Ek is regtig jammer oor wat laas week daar by ons huis gebeur het. E-ek het regtig nie geweet my pa sal só aangaan nie.

“Ek is jammer oor my pa so onbeskof was met jou.”

Toe Norman sien Clive vat glad nie notisie van hom nie, haal hy toe sy troefkaart uit.

Hy krap gou in sy sak en haal sy kosblik daaruit. Hy hou die blik onseker na Clive toe uit.

“C-Clive? Ek het vir jou brood saamgebring ...”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters