2 maande gelede
Norman is in trane toe sy pa sê wat hy van Clive dink
Oom Sonnie
 ~ ~

HAAI, Sonlanders! “ ’n Ware­ Vriend” is ons huiskind SALMON SMITH se jongste pennevrug. Geniet die tweede hoofstuk!

CATHY voel diep benoud oor die vreemde seun wat saam met Clive is, maar hy wat Clive is, blyk min gespin te wees.

Clive waai liggies met sy hand. “M-middag, Antie.”

Daar is egter ook ongemak in sy stem te bespeur.

Cathy knik egter net in Clive se rigting en draai toe na Norman.

“Middag, my kind. Jong, jy sal maar vir jou pa moet vra. Hy kom hoeka nou enige tyd huis toe,” sê sy vinnig.

Weer ’n vlugtige kyk na Clive. “Boeta, laat sak asseblief jou kraag!” En toe weer aan Norman: “Gaan was solank julle hande en kom sit hier by die tafel.

“Ek gaan nou opskep.”

Tydens middagete loer Cathy onderlangs na Clive.

Sy sien hoe die seun sommer die kos met sy hand eet en sy vingers aflek.

En dit sit haar totaal af, want sy en haar man het goeie tafelmaniere by Norman ingedril.

Deur die voorhuisvenster sien hulle hoe Norman se pa met sy grênd kar in hulle driveway optrek.

Cathy voel weer daardie benoude gevoel.

Sy wonder wat Pieter gaan sê oor die klong van die onderdorp hier in hulle huis.

“Middag, julle!” groet Pieter Ketteldas met ’n ferm stem toe hy die huis binnekom.

Hy steek egter vas toe hy die vreemde seun in sy huis gewaar.

’n Vinnige blik in Norman se rigting.

“En wie is dié?” vra hy sommerso koud en beduie na Clive, wat hom nou met groot oë aankyk.

“Middag, Pa. Dis my skoolvriend van wie ek Pa vertel het!” antwoord Norman vinnig.

“Sy naam is Clive. Ons is saam in een klas, Pa. Pa, hy’s rêrig my beste maatjie en hy’s nie ’n slegte klong nie!” rammel Norman vinnig sy relaas af.

Cathy prewel net vinnig: “Goeiemiddag, my man.”

Sy laat sak haar kop en hou haar besig met haar ete.

Pieter Ketteldas kyk Clive sommer openlik met minagting aan.

Die klong se vuil hemp en sy blink, afgelekte vingers ontgaan nie Pieter se wakker oë.

Clive lyk effe ongemaklik. Hy kyk vlugtig na Norman en toe weer grootoog na oom Pieter.

Hy steek sy hand onseker in ’n groetgebaar in die lug op. “M-middag … Oom,” groet hy saggies.

Pieter ignoreer die groet. “Waar bly jy, boeta?” vra hy sommerso rof en onbeskof.

“Hy bly daar in die onderdorp, Pa,” sê Norman.

Pieter kyk woedend na Norman. “Ek het nie met jou gepraat nie, Norman!

“Laat die klong vir homself praat. Hy het mos ’n bek gekry!”

Hy gluur nou Clive aan. “Ek wag, boet!”

“E-ek bly d-daar in die onderdorp, Oom,” stotter Clive, beangs vir die houding van die groot man hier voor hom.

Dit lyk asof Pieter se gesig verkleur. “Die onderdorp?!”

“J-ja, Oom,”

Pieter draai nou na Norman, wat hom ook nou baie benoud aanstaar.

“Norman, kom na jou kamer toe, gou!” beveel hy hom ferm en loop met afgemete treë in die gang af.

Norman kyk vlugtig na sy ma. Hy hoop dat sy darem tot sy redding kan kom, maar sy trek net haar skouers op en beduie hom om sy pa te volg.

Hy kyk vlugtig na Clive, wat hom grootoog aankyk, staan op en loop sleepvoet in die gang af.

In die kamer wag Pieter dat Norman die kamer binnekom en maak die deur vinnig toe.

Daar is woede op sy gesig toe hy sy seun aankyk.

“Hoekom bring jy ’n kind van die onderdorp hiernatoe?!

“Jy weet daardie mense wat daar woon, is laeklas-mense.

“Daar bly ’n klomp skollies en tikkoppe!” tier Pieter woedend.

“Dis húlle wat so by ons huise hier in die bodorp kom inbreek!

“Ken jy daai klong se ouers?! Hulle is seker ook tien teen een ’n klomp wynkoppe!

“Hoe weet jy of sy broer nie dalk ’n tikkop of ’n gangster is nie?

“Môre gaan vertel hy sy broer van al die valuables hier in ons huis, dan kom breek hulle hier in!”

“Clive het nie ’n broer nie, Pa,” sê Norman saggies.

“Hy is ál kind van sy ma. Sy pa is drie jaar gelede dood.

‘En hy is nie ’n slegte klong nie!” probeer Norman wal gooi.

“Moet nie met my kom stront praat nie!” spoeg Pieter dit uit teenoor Norman.

“Almal wat daar in die onderdorp woon, het geen morele waardes nie.

“Hulle suip, tik, rook dagga en baklei van die oggend tot die aand laat! Daai plek is ’n gangster’s para­dise!”

Skielik val iets Pieter by.

“Wag ’n bietjie … is dié dan nie daai Clive Cupido met wie jy gistermiddag daar op die hoek gestaan het nie?”

Norman knik. “Ja, Pa.”

“So, jy is bevriend met hoek­staners?

“Hy staan ook seker daar in die onderdorp op die hoeke en rook tik saam met die skollies, nè?

“Jy bly van nou af ver weg van hom af. Ek soek hom nie as ’n vriend vir jou nie!

“Hy gaan jou nog aftrek tot op sy vlak!”

“Jy gaan sê nóú vir hom dat hy moet trap uit my huis uit!”

Norman Ketteldas se trane sit vlak in sy oë toe hy sy pa se harde woorde hoor.

“B-bedoel Pa d-dit regtig? M-moet ek vir Clive uit ons huis uit j-jaag?” Dit klink asof sy stem wil breek.

“Ja, dit is wat ek gesê het, Norman!” dawer Pieter se stem deur die kamer.

“En jy bring nie weer gemors na ons huis toe nie!”

Norman se kop ruk op toe hy dié wrede woorde van sy pa hoor.

Dit is die eerste keer in sy lewe dat hy met dié sy van sy pa te doen kry.

Sy pa is dan altyd so sag en liefdevol.

Hy vee vinnig ’n traandruppel van sy wang af.

“A-sseblief, Pa, moenie Clive ’n gemors noem nie,” snik hy.

“Ek het klaar gepraat!” sê Pieter, draai om en loop by die kamer uit.

Norman staan van sy bed af op en volg sy pa na die eetkamer.

Clive kyk grootoog van die tafel af op toe Norman en sy pa uit die kamer kom. Hy kan sommer sien op sy vriendjie se gesig dat iets nie pluis is nie.

Hy het harde woorde hoor val tussen Norman en sy pa. Hy staan vinnig van die tafel af op.

’n Traan biggel oor Norman se wang toe hy sy vriend aankyk.

“C-Clive … P-pa sê j-jy moet liewerste nou huis toe gaan.”

Clive kyk vlugtig na oom Pieter waar dié hom vanuit die gang aangluur.

Hy deel ’n blik met antie Cathy wat haar besig hou daar in die kombuis. Dit lyk asof sy ’n sweempie simpatie op haar gesig het.

Hy tel toe sy rugsak van die vloer af op. Hy wend ’n vinnige blik na sy vriend.

“Sien jou Maandag by die skool, Norman,” prewel hy saggies.

“Koebaai, Oom; koebaai, Antie,” groet hy en waai liggies met sy hand. Hy verdwyn vinnig na buite.

Norman kyk ’n wyle sy vriend agterna. Trane stroom oor sy wange.

Toe swaai hy om, hardloop kamer toe en slaan sy deur met ’n harde slag toe. Hy val op sy bed neer. Rou snikke skeur deur sy lyf.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters