Verlede maand
Norman is benoud toe hy Clive nie in die warboel sien
Oom Sonnie
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! “ ’n Ware­ Vriend” is ons huiskind SALMON SMITH se jongste pennevrug. Geniet die voorlaaste hoofstuk!

CLIVE kyk skepties na die broodblik. “Het jy vir my brood saamgebring oor jy guilty voel?” vra hy sommerso bot.

Norman trap ongemaklik rond.

“Julle grand mense dink mos julle kan op ons arm mense trap en wegkom daarmee,” gaan Clive voort.

Sy stem is ysig.

“E-ek is regtig jammer, Clive. E-ek weet nie wat laas week met my pa aangegaan het nie. Hy is nie altyd so nie!” probeer Norman tot Clive deurdring. Hy hou weer die broodblik na Clive toe uit.

“Dè, vat tog asseblief die brood.

“Ek’t dit uit my hart vir jou gemaak vanoggend.”

Clive kyk weer af na die broodblik. “Gaan jou pa nie skel omdat jy vir my brood bring nie?”

Dit voel asof Norman se gemoed weer vol skiet terwyl hy sy vriend aankyk.

“Clive, m-my pa kan nie vir my besluit met w-wie ek vriende moet wees nie,” stotter hy bewoë.

Clive keer weer sy rug op Norman en kyk na die larney woonbuurt van die bodorp wat daar teen die heuwel sit.

Hy wys met sy vinger in daardie rigting.

“Al die mense wat dáár bly, is ’n klomp windgatte. Niémand van hulle het ’n hart nie.

“Hulle is net lief vir hulle ghrênd huise en karre, maar voel niks vir hulle medemens –”

“Nee, dis nie waar nie! Nie almal is so nie.

“Ék is nie so nie. Ek het dan uit al die leerders hier vir jóú gekies as my vriend!” val Norman vir Clive in die rede.

Clive maak asof hy nie Norman se woorde hoor nie.

“Daai ryk geldgatte sal nog eendag aan God rekenskap moet gee oor hoekom hulle nie hulle naaste liefhet nie,” gaan hy voort.

“En dan gaan hulle nie hulle besittings by die hemel kan invat nie. Dít is nou te sê ás hulle ooit by die hemel kan ingaan.”

Clive draai terug na Norman. Hy kyk Norman nou stip in die oë.

“Norman, ek gaan nie meer vir jou dinge swaar maak nie, hoor. Ek gaan van nou af wegbly van jou af. Dis maar beter so vir ons albei.”

Hy draai om en loop weg.

Norman kyk sy vriend bewoë agterna.

“Maar ek wil nog jou vriend wees! Jy is ál vriend vir my!” skree hy agterna.

Dit lyk asof Clive wil vassteek, maar hy loop toe weer aan en verdwyn by die skoolgebou in.

DIE middag ná skool loop Norman in die bondel na die skoolhek.

Skielik klink gille op. Die kinders spat uiteen en hardloop in verskillende rigtings.

“Hulle het gunne! Pasop!” weergalm dit deur die skoolgebou.

Norman is nog onbewus van die gevaar en sien nie hoe twee jongens met vuurwapens by die skoolhek instorm nie.

Hy kyk nog verward rond om te sien waaroor die bohaai gaan, toe word hy teen die skooldraad vasgepen.

Hy kyk vas in die yskoue oë van die twee skollies

“Wat het djy daar in djou sak vi’ ôs?” vra een van die skollies rof en druk die gun onder Norman se ken.

Norman se oë rek groot toe hy die gun sien.

Hy voel hoe sy hart hier in sy borskas tamboer speel terwyl pandemonium rondom hom heers.

Van die leerders vlug holderstebolder terug die skoolgebou in. Dié wat buite is, vlug die strate in.

Niemand is egter bereid om hom te kom help nie en Norman besef hier sterf hy vandag.

Skielik word die twee skurke met geweld van hom af geduik.

Hy val verward eenkant toe en rol op die teer neer.

Hy kyk van die grond af op en sien tot sy verbasing dis Clive wat hom te hulp gesnel het.

Terwyl Clive met die twee skurke stoei, kyk hy benoud na Norman.

“Norman, hardloop kantoor toe. Gou!” gil Clive.

Sonder om te dink, trek Norman los en nael in die rigting van die kantoorblok.

Maar skielik klap ’n skoot oorverdowend ...

Norman steek halfpad na die administrasieblok vas.

Stadig draai hy om.

Hy sien hoe die twee boewe by die skoolhek uithardloop en in die straat af verdwyn.

Sy hart klop hoog in sy keel toe hy Clive nie tussen die ander malende leerders sien nie.

Hy hardloop tussen die geharwar terug na waar sy vriend nog laas met die skurke gestoei het.

“Waar is Clive, julle?” skreeu hy benoud.

Sy hart mis ’n beat toe hy sy vriend bebloed op die teerblad sien lê.

“Clive!” gil hy benoud.

Hy gaan kniel by hom en sien die groter wordende bloedkol aan Clive se regtersy. Hy gaan sit en hou Clive in sy arms vas.

Hy knoop haastig Clive se skoolhemp oop en sien net so langs die naeltjie die klein, ronde gaatjie waaruit die bloed sypel.

Toe die wrede werklikheid, dat sy vriend raak geskiet is, by Norman insink, weergalm sy gille oor die skoolterrein.

“Iemand, bel die ambulans, asseblief! Gaan roep die hoof!”

Trane stroom oor sy wange ...

DIS ’n benoude Pieter en Cathy wat ’n ruk later by die skool aangejaag kom.

Hulle tref Norman in die hoof se kantoor aan. Die skoolsielkundige is besig om met hom te gesels.

Dié staan terug toe sy sy ouers gewaar.

“Hy is nog in skok, maar julle kan met hom gesels,” sê sy saggies.

Pieter en Cathy loop Norman storm en gooi gelyk hulle arms om hom.

“My kind, ons is so bly jy is veilig! Die hoof het ons gebel.

“Wat het gebeur?” babbel hulle gelyk.

“Twee skollies wou my met ’n gun beroof,” sê Norman.

Cathy ondersoek instinktief haar seun vir enige beserings.

“Ek is oukei, Mammie,” stel Norman haar gerus.

“Maar my vriend is raak geskiet. En dis te danke aan hóm dat ek leef.” Hy sien sy ouers se vraende gesigte.

“My vriend het my kom help toe die skollies my wou beroof.

“Al die kinders het weggehardloop, maar hý was dapper genoeg om met die skollies te kom baklei sodat ek kon wegkom.

“Maar toe skiet hulle hom.

“So, hy het eintlik my lewe gered.”

“Haai jinne, my kind, is jou vriend ernstig beseer?

“Waar is hy nou?” vra Cathy.

“Hy is in die sy gewond, Mammie. Die ambulans het hom hospitaal toe geneem.”

Pieter staan en kyk Norman grootoog aan.

“Norman ... w-wie is die vriend wat jou gered het?” vra hy versigtig.

“Dis Clive Cupido, Pa,” antwoord Norman en sy oë skiet sommer vol trane.

Cathy en Pieter se mond val oop van verbasing toe hulle dit hoor.

“C-Clive Cupido ...?” stotter Pieter dit uit.

Norman kyk op na sy pa terwyl trane oor sy wange stroom.

“Sien Pa? Clive is nie ’n slegte klong nie.

“Hy het my lewe gered,” snik hy.

Die trane rol oor sy wange. Die spoeg begin dik in sy mond voel.

Pieter kyk vlugtig na sy vrou en sy mond hap oop en toe soos hy na woorde soek ...

  • Môre: Slot
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters