27 dae gelede
Norman bring kos vir sy pel Clive uit
 ~ 

HAAI, Sonlanders! “ ’n Ware Vriend” is ons huiskind SALMON SMITH se jongste pennevrug. Geniet die eerste hoofstuk!

‘DIE lewe is woes daar buite, my kind!

“As jy nie versigtig is nie, dan gaan jy ook ingesluk word deur die euwel van dwelms en bendes!”

Pieter Ketteldas kyk sy jong seun ernstig aan terwyl hy hom dié woorde toesnou.

Die Ketteldas-familie sit rondom die eetkamertafel vir hulle aandete en Pieter dink dis die regte oomblik om met sy seun oor die gevare van die lewe te praat.

Norman kyk van sy bord af op. Daar is verwarring op sy gesig terwyl hy sy pa aankyk.

Hy kan nie verstaan hoekom sy pa dan nou dié onderwerp aan tafel aanroer nie.

Hy weet nie wat dit is met sy pa, wat so knaend is met die “euwel van dwelms en bendes”-storie nie.

Hy wat Norman is, is nou al 15 jaar oud en weet presies wat reg en verkeerd is.

Hy sal mos nie sy kop laat ompraat om ook die verkeerde dinge te doen wat die meeste van die tieners hier in hulle dorp doen nie.

Maar dit lyk vir hom asof sy pa hom nie vertrou nie.

Hy kyk vlugtig na sy ma hier aan sy linkerkant. Hy kan nie verstaan hoekom sy ma dan ook niks sê nie. Maar Cathy sit in stilte haar kos en eet.

“Bessiefontein is nie meer dieselfde as destyds toe ék nog ’n kind was nie. Toe was dinge soveel anders. Daar was nie goed soos tik nie,” preek sy pa voort.

“Pa, ek het al baiekeer vir Pa gesê Pa is verniet bekommerd. Ek weet wat reg en wat verkeerd is.

“Ek sal my nie laat ompraat om dinge te doen wat nadelig is vir my nie! Asseblief, Pa moet my glo!” kap hy toe terug.

“Nee, ek meen ek sê jou maar net, my seun,” sê Pieter.

Hy kyk toe sy seun stip aan. “Iemand het jou vanmiddag ná skool daar op ’n straathoek naby die onderdorp gesien.

“Jy het glo met iemand daar gestaan en gesels! Hoeveel keer waarsku ek jou nie om weg te bly van die onderdorp af nie! Daar bly laeklas- onopgevoede men–”

“Ek het met Clive Cupido gesels, Pa. Hy is my klasvriend en hy is nie lae klas nie!” val Norman sy pa bruusk in die rede.

“Moet my nóóit weer blerriewil in die rede val nie!” ontplof Pieter. Sy oë blits terwyl hy Norman aangluur.

Norman laat sak sy kop. “E-ek is jammer, Pa,” sê hy saggies.

DIE volgende oggend wag Clive vir Norman by die skoolhek in.

“Jis, Norman! Het jy weer vir ons van daai lekker brood saamgebring?”

Norman groet sy vriend vinnig en maak sy rugsak oop.

Hy haal ’n broodblik uit.

“Ja, ek het weer vir jou ’n paar snye ingesit,” sê hy.

Hy oorhandig die broodblik aan Clive.

Sy hart raak sommer week toe hy sien hoe Clive die broodbak vinnig oopmaak en die brood sommer net daar verslind.

“Het jy al weer nie vanoggend geëet nie?” vra Norman simpatiek.

Clive vee die broodkrummels vinnig van sy mond af en gee die broodblik terug vir Norman.

“Dankie, my tjomma!” sê hy.

Sy gesig raak toe so weemoedig. “Ja, daar was al weer niks in die kaste nie.

“My ma het nog vanoggend gelê en tiep toe ek my klaarmaak vir skool. Sy’t weer gisteraand laat van die smokkeljaart af gekom.”

Daar is ’n simpatieke trek in Norman se oë terwyl hy sy vriend aankyk.

Dit voel asof daar trane agter sy ooglede brand toe hy terugdink aan sy pa se woorde gisteraand – hoe sy pa die mense in die onderdorp uitmaak as lae klas.

Hy weet daar by Clive se huis gaan dit nie so breed nie.

Clive het sy pa drie jaar gelede in ’n motorongeluk verloor.

Daarna het sy ma, antie Anna, kop verloor. Sy het aan die drink gegaan en kan net nie ophou nie.

Clive is haar enigste kind en hy moet sorg dat hulle huishouding nie uitmekaar val nie.

Hy moet sorg dat die skrapse AllPay-geldjies wat sy ma vir hom kry, darem reg aangewend word.

Hy trek self sy geld by die bank, dan steek hy dit weg en koop dan broodnodige goed vir die huis.

Maar soms snuffel sy ma die geld uit en steel daarvan vir ’n dop of twee.

Hy wat Norman is, doen ook maar sy bes om skelmpies soggens vir Clive van hulle kos in te pak sodat sy vriend darem iets in sy maag kan kry.

“Hei, hoekom kyk jy my nou so snaaks aan? Kom ons gaan klas toe!” sê Clive verbaas en maak aanstaltes om te loop.

Norman skrik hom uit sy mymering en vee ongemerk die nat uit sy oë uit.

Hy sal dit nogal laik as sy ouers vir Clive aanneem, sodat sy pel in ’n gesonder huishouding kan grootword.

Skielik kry Norman ’n idee. “Kom, ek sê jou wat ...

“Dis mos Vrydag vandag. Kom vanmiddag saam met my huis toe en slaap die naweek by my oor! Dan stel ek jou sommer aan my ouers bekend!” sê hy opgewonde vir Clive.

Clive steek vas en kyk sy pel grootoog aan.

“Jislaik, dit sal mos kwaai wees!” gil hy dit uit.

Maar dan val sy gesig.

“Ek sal eers moet huis toe gaan en my ma vra.

“Ek weet nie hoe sy daaroor gaan voel nie. Sy sê hoeka julle mense van die bodorp kyk neer op ons mense daar in die onderdorp. Sy sê julle hou julle te grênd.”

Norman voel nou effens ongemaklik.

“Ag, dis sommer nonsens,” kap hy vinnig terug.

Hy hoop net nie dat sy stem enige iets verraai nie.

“Kom net vanmiddag saam met my huis toe en eet eers ’n lekker bord gekookte kos.

“My pa kom vandag vroeg huis toe, dan kan ons jou ma gaan vra en sommer jou klere optel.”

Clive se gesig helder op. Hy hoop nou nie dat sy ma ’n probleem daarmee gaan hê nie.

“Oukei, dan maak ons so,” gaan hy akkoord.

DIE middag kom Norman met Clive opgewonde by hulle huis aan.

Daar kom so ’n benoude gevoel by Cathy Ketteldas in haar bors op toe sy haar seun en die vreemde klong by hulle hekkie sien inkom ...

Die klong lyk maar baie never mind, soos iemand wat nie hier in die posh bodorp hoort nie.

“Jissou, julle het ’n kwaai huis! Julle is seker ryk, nè?!” sak Clive opgewonde af toe hy Norman-hulle se groot huis sien.

Norman trek egter sy skouers op, maar voel die trots in hom opstoot.

“Wel, as jy so sê,” sak hy af. “My pa het sy eie besigheid en hy sorg mooi vir ons,” brêk hy.

Die twee klonge gaan die netjiese huis binne en tref Norman se ma in die kombuis aan waar sy besig is om iets aanmekaar te slaan vir middagete.

“Middag, Ma, dis Clive, my vriend van die onderdorp.

“Kan hy maar vir die naweek hier by my kuier?” val Norman sommer met die deur in die huis.

Cathy draai haar om en kyk Clive van kop tot tone aan.

Sy kan nie help om te sien hoe vuil Clive se skoolhemp is nie. En die vuil kraag is ook opgeslaan.

Sy voel effe ongemaklik met die klong hier in hulle huis ...

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters