Verlede maand
Nommer 1 skok sy kollega met nuus oor destyds
 ~ 

HAAI, Sonlanders! In “Dromers” agtervolg twee geheime agente ’n vreemde man. Een agent, Nommer 1, blyk kennis van hulle target te dra, maar deel nie dié inligting met sy kollega Nommer 2 nie. Al wat Nommer 2 weet, is dat Nommer 1 baie moeite gedoen het om die man op te spoor. Dit was sommer baie moeite en veels te veel gesondheidsrisiko’s na sy sin. Geniet nou hoofstuk 2 van hierdie futuristic verhaal uit die pen van ELDRIDGE JASON.

‘SO, WAT maak hierdie man spesiaal?” vra Nommer 2 weer toe hy geen reaksie van sy kollega kry nie.

“Soos wat ek dinge verstaan, agtervolg ons al lankal nie meer verdagtes nie.

“Ons hét mos die tegnologie om ’n persoon uit die comfort van ons basis te monitor.

“Hierdie is mos soek vir siektes wat kon gebly het.

“Die hele Kaap is dan besmet met DZ35. Het jy dalk ’n death wish?”

“Wat is DZ35?” vra Nommer 1, sonder om sy oë af te haal van die man wat sowat 100 m voor hulle loop.

Nommer 2 sug soos iemand wat gevra word om die definisie van die lewe aan ’n kind te verduidelik.

“Hoeveel jaar was jy dan uit commission ... 30, 40 jaar?”

Weer kry hy egter geen antwoord nie en vervat dan effe geïrriteerd: “Hier rondom 2023 was daar een moerse bang. Die Kaap was aan die brand, maar hierdie keer nie weens die stront wat gangsters aangevang het nie.

“Vanuit die bloute het ’n meteoriet reg in die middel van Manenberg geval. Die skade was onbeskryflik.

“Duisende mense het in ’n massiewe gat verdwyn.

“Ek was daardie dag nog op skool, besig om een of ander k*k vak te skryf, maar ek onthou daai trilling.

“Dit het gevoel asof die hele aarde besig was om sy komberse uit te skud. Anyway, niks was daarna weer dieselfde nie, want twee dae later het ’n soortgelyke meteoriet op Hanover Park geval.

“Niemand weet waarvandaan die goed gekom het nie. Vir die eerste keer het ons science nodig gehad om ons die antwoorde te gee, maar science het ons in die steek gelaat.

“Hierdie was natuurlik olive oil op die vuur vir die doemprofete, want die einde van die wêreld wat hulle altyd so spoeg-spattend op treine verkondig het, was hier.”

“Hoe bedoel jy?” vra Nommer 1 en merk dan op dat die man voor hulle afgeswenk het in Adderleystraat. ’n Adderleystraat wat gou vir hom van ’n bekende naam na die onbekende verander.

“Wat het van die blommeverkopers geword?” vra Nommer 1. Sy kollega gaap hom verbaas aan.

“Maar het jy dan nie geluister wat ek jou vertel nie? Dink jy ná sulke ontploffings was daar nog iets soos ’n blom hier in die Kaap te sien?”

“Maar was die ontploffings dan nie net in Manenberg en Hanover Park nie?” vra Nommer 1.

Nommer 2 skud sy kop in ongeloof. “Was jou brein ook die afgelope 30 jaar gevries?

“Dit was dan juis die aardbewings en tsoenami’s soos nog nooit vantevore en die verandering in weerpatrone wat die begin van die einde was van die Kaap soos wat ’n mens hom geken het.

“Snaaks, almal het jare gelede byvoorbeeld Gympiestraat in Woodstock soos die pes vermy, maar dit was die einste Gympiestraat se mense wat die minste deur al hierdie horrible goed geraak is.

“Niemand kon verduidelik hoekom nie, almal het gegis dat die lewe Gympiestraat se mense al so hard gemaak het dat ’n natuurramp nie eens tot hulle kon deurdring nie.

“Maar Gympiestraat was baie van ons se redding, want die toksiese gasse wat oor die stad beweeg het, het nie tot daar uitgekring nie. Sowat 700 mense het die blast oorleef en almal Gympiestraat toe gestroom, waar ’n basiskamp opgerig is.

“Dis mos nou deesdae ons hoofkwartier, Basis 9.”

“Ek onthou nie veel van daardie dag nie,” sê Nommer 1 en vries in sy spore toe die man voor hulle skielik tot stilstand kom en opkyk na die gelerige lug bo hom.

Hy staan ’n hele paar minute so, totaal onbewus van mense wat soos miere rondom hom op en af beweeg en teen hom stamp.

Dan, asof hy uit ’n slaap wakker skrik, beweeg hy weer haastig vorentoe en pyl op ’n bankie af. Hy gaan sit, hou sy kop in sy hande en begin stadig vorentoe en agtertoe wieg.

“Waar was jy dan daardie dag?” vra Nommer 2 terwyl albei die man voor hulle stip dophou.

“Jy het my nog nie gesê wat DZ35 is nie. Moenie vir my halwe stories vertel nie,” vermy hy sy kollega se vraag.

“Ek sou hou by my storie as jy my nie so gereeld in die rede geval het nie,” antwoord Nommer 2 vies.

“Anyway, ek is nie lus om die storie te vertel nie, want jy luister mos nie. Al wat ek gaan sê, is dat DZ35 Aids op steroids is.

“Die een oomblik dog jy nog jy het ’n immune system en die next moment is jy deel van die system van die dood. Dit is ’n moerse kopseer vir Die Komitee­, want niemand weet presies hoe dit oorgedra word nie.

“Dit is asof daar iewers in die universe ’n onsigbare hand is wat pal ’n knoppie druk en besluit wie DZ35 kry. Wie die dood kry.

“Ons is oorgelaat aan die genade van die universe en pleks van help werk aan oplossings om hierdie beker wat oorloop van die hel se gedagtes verby te laat gaan, agtervolg ons iemand. Wáárvoor, weet ek nou nog nie.”

“Ek was daardie dag in Manenberg,” antwoord Nommer 1.

“Die nuwe regering wat ná die tragedie gevorm is, wat julle as Die Komitee ken, het nooit hierdie info met die survivors gedeel nie. Nie almal het daardie dag in daai gat verdwyn nie.

“Nie almal is daardie dag soos Mitchells Plain, Elsies en Delft van die aarde gevee nie. Twee mense het daai blast oorleef.”

“Jy praat jou kop se k*k,” sê Nommer 2 geskok. “Ek glo dit nie.”

Nommer 2 weet nie of hy hom verbeel nie, maar hy kan sweer daar is ’n sweem van ’n glimlag op sy kollega se gesig. Maar dalk ook ’n tikkie hartseer in sy oë?

“I kid you not,” sê Nommer 1. Hy kyk na sy kollega.

“Ék het daardie dag oorleef. Ek en die man wat daar voor op die bankie sit. Hy was my kollega, Elton-John van den Berg.

“ ‘Rocket Man’ het ons hom altyd genoem. Nou sê jy vir my watter natural disasters soos daai laat twee oorlewendes agter?”

“Wat probeer jy sê?” kom sy kollega met ’n teenvraag.

“Dat daar meer agter die ramp skuil wat die Kaapse Vlakte nes die legende van Atlantis laat verdwyn het?

Nommer 1 trek sy skouers op. “You’ve said it, boy. Kom, dis tyd om vir die Rocket Man hallo te gaan sê ...”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters