5 maande gelede
Nog ’n skok ruk Rory in gesprek met antie Mary
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Dit lyk nie net of arme Rory nie vrede met sy verlede kan maak nie, maar ook of die skokke van die lewe hom nie wil uitlos nie. Pas ná sy vrylating uit die tronk gaan Rory terug na sy geboortedorp. Nie almal is hêppie om hom weer te sien nie, veral nie sy ma, Antie Mary, nie. Dit kom uit Roy het tronkstraf uitgedien omdat hy Barry, sy broer, vermoor het nadat hy dié en sy meisie, Mary-Anne, saam in die bed betrap het. Ná jare kom hy weer van aangesig tot aangesig met Mary-Anne, wat ’n groot bom los: Hy wat Rory is, is die pa van haar seun. Rory het nooit van dié swangerskap of die kind geweet nie. Hy twyfel nou of Carter syne is, en wonder of hy sy vermoorde broer se kind is. Geniet nou hoofstuk 5 van ELDRIDGE­ JASON se skryfstuk ’n Nuwe Begin.

LANK nadat Mary-Anne weg is, sit Rory steeds op die stoep.

Sy gedagtes is in ’n warboel.

Daar is soveel dinge wat hy moet verstaan.

Hy is ’n pa. Dis nou as hy Mary-Anne kan glo.

Tog, deur die jare het sy nooit vir hom gejok nie, nie eens ’n wit leuentjie nie.

Behalwe die ding tussen haar en Barry …

Rory byt op sy onderlip. Die tronk is ’n k*k plek, maar hy wens hy was nou eerder daar as om hier buite met die komplikasies van die lewe te deal.

’n Skaduwee val oor hom.

Hy swaai haastig om.

Sy ma staan daar in ’n tent van ’n rok wat Donna Claire nie eens in stock sal hê nie.

“Ag nee, moet Ma ’n mens so bekruip?” vra Rory vies.

Antie Mary kom sonder ’n woord aangewaggel en plak haar langs hom op die bankie neer.

“Hulle het jou seker baie keer in die tronk bekruip, nè,” sê sy uitasem.

“Dié dat jy so vir elke geluid wip.”

Rory blaas sy asem baie hard uit.

“Julle moet ophou om al die nonsens te glo wat julle op TV sien oor die tronk,” verklaar hy vies.

“Ma het nie ’n clue van die dinge wat ek daar moes deurmaak nie.”

Antie Mary skud haar kop.

“Net soos jy nie ’n clue het van wat ek en jou pa deurgemaak het nie,” kap sy terug.

“Die een oomblik het ons nog twee seuns en woeps … in ’n oogwink moet ek begrafnisreëlings tref vir my een seun, terwyl die ander een van sy moord aangekla word.

“Ouers is nie veronderstel om hulle kinders te begrawe nie. Never­.”

Die verlange in sy ma se stem laat Rory na haar draai.

Daar is ’n hartseer-trek in haar oë.

Hy het haar nog nooit so weerloos gesien nie.

“Is Ma oukei?” vra hy lomp.

Sy ma is die sterk een, die een wat altyd hard voorkom.

Nog nooit was daar ’n oomblik wat hy haar so na aan trane gesien het soos nou nie.

Antie Mary trek haar skouers op.

“Wat is ‘oukei’?” vra sy saggies.

“Is iemand wat soveel tragedies moes deurmaak ooit weer oukei?

“Daar is niks oukei aan die lewe met al sy onregverdigheid nie,” sê sy met ’n diep hartseer.

“Ek het al baie keer gesê ek’s jamme–”

“You say sorry, but you don’t look sorry,” val antie Mary haar seun in die rede.

“Ek kon nie anders as om jou en Mary-Anne se gesprek te hoor nie.”

“Ma!” sê Roy verontwaardig. “Hoe kon Ma? Ons gesprek was suppose om private te wees?”

Private?” Antie Mary gee ’n proes.

“Wat is private aan ’n skreeuery?

“ ’n Mens kon julle oral hoor. Julle het nie gesels nie.

“Julle het net weer kos vir die bure gegee.

“Ek sal nie my gesig in die kerk kan wys nie.

“Ek is so skaam gemaak dat die see my nie eens sal kan afwas nie.”

“H’mmm, dit gaan mos net oor Ma se reputation,” sê Rory kwaad.

“Ál waaroor Ma worry, is wat die mense van Ma dink.”

“Die mense kan loop skyt,” sê antie Mary.

“As jy ná al die jare steeds daai strooi glo, dan is jy regtig net so dom soos wat jou standerdnege-rapport gesê het.

“Geen ma bring ’n kind hierdie wêreld binne om ander mense te impress en om bekommerd te wees oor wat ander oor jou kinders­ te sê gaan hê nie.

“Ek is jammer. Dalk … dalk was ek deur die jare te streng met jou.

“Ek wou jou push om die beste van jou lewe te maak.

“Ek wou jou nie weg push nie.

“Hier … jy sien klaar hoe swaar dit hier gaan.

“Die kreef is skaars en toe julle klein was, het dit broekskeur gegaan, want as die wind gewaai het en die water was sterk, kon jou pa nie see toe gaan nie.

“Dan was dit die hele week harders en mieliemeel. Onthou jy?”

Rory knik.

“Dis waarom ek beter vir julle wou hê,” gaan antie Mary voort.

“Ek wou nie hê julle moes afhanklik wees van die wind en weer vir ’n lewe nie.

“En toe kom die lewe en beroof my van alles wat ek die liefste gehad het.”

Antie Mary daai na Rory. Die trane loop oor haar wange.

“Ek het kanker, Rory. Die dokter sê ek het nie meer lank om te lewe nie.

“Een van die dae … ek bekommer my oor baie dinge.

“Ek worry oor jou pa.

“Ek worry oor die dinge van die verlede en oor wat ek dalk anders kon gedoen het.

“En nou worry ek dat jy hardkoppig genoeg gaan wees en dat jou kind daardeur sonder ’n pa sal grootword.

“Ons het jou mos nie so grootgemaak nie.”

“Nou, wat wil Ma hê ek moet doen?” vra Rory wanhopig.

“Ek is ’n stuk gemors. Ek is ’n failure.

“Niks wat ek al ooit aangepak het, was ’n sukses nie.”

Antie Mary skud haar kop.

“Rory, my kind, weet jy dan nie ’n mens is nooit te sleg om goed te wees nie?

“Dit gaan nie oor hoeveel keer jy val nie, maar oor hoeveel keer jy opstaan, jouself afstof en net weer probeer.”

Rory vryf oor sy oë.

“Hier het ’n muggie in my oog gevlieg,” sê hy in ’n skor stem.

Die spoeg voel dik in sy mond.

Antie Mary maak maar asof sy nie die trane in haar seun se oë sien nie.

“Wanneer ek my oë finaal toemaak … wanneer ek sterf, wil ek gaan met die wete dat jy en jou pa orrait is.

“Belowe my, Rory. Belowe my dat jy dinge met Mary-Anne en jou kind gaan uitsort …”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters