3 maande gelede
Nóg ’n Krismis met net alkohol as sy geselskap
 ~ 

HAAI, Sonlanders! In die spirit van Krismis wat al nader kruip, gaan ons voort met ons Kersverhale. Krismis is vol Memories is CHRISTO MEYER se bydrae. Geniet die eerste hoofstuk!

TOE ek op Kersdag uit ’n diep, drankbenewelde slaap wakker skrik, voel my kop asof dit gaan ontplof.

Anders as vorige kere het ek darem dié slag my kamerlig afgeskakel. Hoe laat is ek gisteraand bed toe?

Ek kan nie onthou of dit voor of ná middernag was nie.

Ek lê en luister hoe die buurman se duiwe met mekaar kommunikeer.

Verbeel ek my of klink hulle vanoggend geselliger as gewoonlik?

Hulle is ook seker in die mood om fees te vier, gaan dit deur my gedagtes.

Die silly season is mos maar aansteeklik.

Drank is volop en dit kan so maklik gebeur dat iemand wyn in plaas van water in sy troeteldiere se bak gooi.

So van troeteldiere gepraat, het ek vir Snoesie, my gemmerkat, kos gegee?

Hoe op aarde die voëls dit regkry om veral soggens so opgeruimd te wees, kan ’n mens net raai.

Hulle weet nie wat dit beteken om laat te slaap nie.

’n Tikkie van hulle vrolikheid is al wat ek begeer. Dit behoort meer as voldoende te wees om my donker gemoed op te kikker.

Ek haal diep asem, my gedagtes by iets uit die verlede.

Dis snaaks hoe alles in ’n oogwink kan verander.

Jy kan vandag op die kruin van die golf ry, môre wil niemand iets met jou te doen hê nie.

Ek besef ek sal moet opstaan en badkamer toe gaan. My lyf voel sweterig.

Dit gaan nie baat om te bly lê nie.

Ek stort, skeer en borsel my tande. Terug in die slaapkamer trek ek ’n nuwe broek en hemp aan. Nes ek kleintyd gedoen het, maak ek seker my skoene is skoon.

“ ’n Mens moet altyd op jou beste lyk op spesiale dae,” dink ek aan Pa se woorde van lank gelede.

Ek was toe nog ’n kind, maar sekere lewenslesse sal my altyd bybly.

Ek kyk in die spieël. Tevrede met my voorkoms loop ek sitkamer toe.

Ek skakel die televisie aan, soek na ’n kanaal wat my interesseer.

Buite hou ’n voertuig stil. Ek lig my uit my sitplek en gaan in afwagting voor die venster staan.

Nuuskierig skuif ek die gordyn eers op ’n skrefie en dan wyer oop. Wie se grênd Mercedes-Benz is dit daai?

Dalk mense wat besluit het om vir my te kom kuier? Eintlik hoop ek so. Ek sal hulle met ope arms verwelkom. Krismiskos is nie ’n probleem nie.

Ek het gisteraand ’n koningsmaal berei. Juis vir in geval.

Ek was tot laat in die kombuis doenig.

Uit desperaatheid stuur ek ’n skietgebedjie op in die hoop dat wie dit ook al is, by my hekkie sal indraai.

Ek is honger vir geselskap. Wanneer laas het ek besoekers op Kersdag gehad?

Tien, elf, twaalf jaar gelede? Ek is nie seker nie.

’n Man in ’n donker pak klim uit. Hy loop voor om die Merc en maak die deur aan die passasierskant oop.

Hy steek sy regterhand uit en ’n vrou in ’n pers rok haak by hom in.

Hoe romanties. Hulle moet seker baie lief wees vir mekaar.

Dit laat my sommer aan Monica dink. Sal ek haar ooit uit my gestel kry?

Gesels-gesels loop die man en vrou na ’n huis skuins oorkant myne.

My moed sak in my skoene. Nee wat, lyk my ek kan my maar voorberei op nog ’n lang en eensame dag.

Teleurgesteld neem ek weer my plek voor die televisie in.

Die aanbieder van die geselsprogram praat oor liefde, geduld en verdraagsaamheid, maar ek neem nie veel in nie. Ek sug.

My oog val op die foto’s van my vrou en kinders teen die muur. Swaar sluk ek aan die knop in my keel.

Die persoon wat beweer het die lewe is regverdig, kan gerus sy brein laat lees.

Hy weet nie waarvan hy praat nie. Hy het geen idee deur watter hel ek gaan nie.

En is tyd – soos die wyse mense sê – werklik ’n geneser van wonde? I don’t think so.

Die pyn in my hart het dan nog nie verdwyn nie.

Ná al die jare sit die seer nog altyd op dieselfde plek.

Ek het eens op ’n tyd ’n liefdevolle gesin gehad, maar alles het verander vandat Monica weg is.

Niks was daarna ooit weer dieselfde nie.

Ek moes skielik gewoond raak aan die stilte.

Daar was niemand om mee te praat as ek saans van die werk af kom nie.

Daar was niks om te eet in die microwave nie.

Daar was niemand langs my in die bed as ek soggens wakker word nie.

Was dit nodig dat sy die tweeling saam met haar oorsee moes neem? Dit was mos erg genoeg toe sy van my skei. Gaan ek ooit weer vir Lauren en Envor sien?

“Jy skeep ons af,” het sy die aand voor hulle vertrek gesê.

“Jou werk is belangriker as alles en almal om jou. Jy onthou nie eers ons verjaardae nie.”

Ek het geen idee gehad sy is van plan om my te verlaat nie.

Die volgende aand was daar ’n briefie op die tafel waarin sy alles verduidelik.

In die laaste deel skryf sy: “Ek is jammer, maar ek is moeg daarvan om die vrou van ’n selfsugtige speurder te wees.

“Alles draai net rondom jou en jou volgende saak. Jy hou mos van die aandag wat jy van joernaliste kry.

“Baasspeurder De Volvo los nog ’n moord op.

“Wel, ek is nou mooi keelvol. My prokureur sal die skeipapiere by jou laat aflewer.

“Teken dit en gaan aan met jou lewe. En moenie eers probeer om ons op te spoor nie.”

Ek haal ’n bier uit die yskas, maak dit oop en hou die bottel voor my mond.

Ek neem groot slukke. In my binneste is ’n dors wat ek nooit sal kan les nie.

Wat sou van my geword het as dit nie vir bier en brandewyn was nie?

Alkohol het my deur die slape­lose nagte gehelp, my gehelp om my probleme tydelik te vergeet.

Toe alles donker geword het om my, het alkohol my staande gehou. Alkohol was lojaal teenoor my.

Ek, wat nooit my mond aan sterk drank gesit het nie, kan deesdae niks sonder alkohol doen nie.

Ja, ek is nie skaam om dit te erken nie: Alkohol hou my aan die gang.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters