19 dae gelede
Niklaas besef Carrie het hom tussen 2 vure
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons die tweede aflewering van SALMON SMITH se verhaal “Sy Eie Medisyne”. Dit gaan oor Carrie Bron, wat haar man, Niklaas, voor almal in die kroeg verneder deur bos te los oor hoe hy haar abuse. ’n Paar dae later ontdek Niklaas ’n boek wat hom ’n idee gee hoe hy Carrie kan vermoor en dit na selfmoord kan laat lyk. Toe dit sulke tyd is en hy ná werk by die huis aankom, kry hy die skok van sy lewe.

NIKLAAS Bron se oë rek pieringgroot toe hy sy voordeur oopstoot.

Daar in sy voorkamer sit sy vrou, Carrie, met ’n vuur­wapen loodreg op hom gerig.

Op haar skoot sit sy met die speurroman waarin hy sy idee vir haar beplande moord gekry het.

Dit is oop by die hoofstuk wat hy met ’n highlighter gemerk het.

En die vuurwapen in haar hand is die een wat hy vier dae terug onwettig aangeskaf het.

Sy moes dit so wragtig in die koffer onder die bed opgespoor het.

Niklaas se werksak val uit sy hand en hy raak aan die bewe.

“C-Carrie … Liefling, wag … Sit net daardie ding neer, asseblief!” sê hy geskok.

“Moetie vir my kom ‘Liefling’ nie, jou gemors!” kap Carrie woedend terug.

Sy beduie met die vuurwapen.

“Kom binne, maak daardie deur saggies toe en sluit dit!” beveel sy dringend.

Dit voel vir Niklaas asof hy homself wil natmaak.

“W-Wat wil jy maak, Carrie?” vra hy versigtig.

“Moetie my bors warm maak’ie, Niklaas Bron! Maak toe daardie deur, nou!”

Aan sy vrou se stemtoon kan Niklaas hoor sy vrou is doodernstig.

Hy maak die deur versigtig toe en sluit dit.

“Nou kom jy stadig nader en kom sit hier oorkant my!” beveel Carrie hom. Haar gesig is hard.

Die afstand na die rusbank is omtrent 4 km – so voel dit vanaand vir Niklaas.

Hy plak hom op die bank neer en staar grootoog na Carrie, terwyl sy die vuurwapen loodreg op sy bors rig.

Carrie smyt die speurroman voor sy voete neer.

“Het jy gedink ek sal nie van jou sluwe plan uitvind nie!?” spoeg sy.

“Jy wil my so doodmaak soos daai etter in dié boek sy vrou doodgemaak het.

“Jy wil my dwing om ’n oordosis van my eie slaappille te drink deur ’n gun teen my kop te druk.

“Maar nie voordat jy my sou dwing om eers my selfmoordnota te skryf nie!”

“Geen vinger sal na jou wys nie, nè? Want die nota is ’n bewys dat ek dit mos kwansuis nie meer kon uithou met jou nie en toe my eie lewe geneem het.

“Jy sou skotvry daarvan afgekom het en dan agterna lekker met jou jolmeid gelewe het.

“Dít as ek nie vanoggend op dié boek in jou laai afgekom het nie.

“Ek het toe die hele huis omgedolwe op soek na dié vuurwapen.”

Niklaas voel asof sy maag begin werk.

Hy het nie verwag sy planne sal so lelik boemerang nie. Hy moes versigtiger gewees het.

Die blik in Carrie se oë raak skielik yskoud. Sy smyt ’n notaboek en pen in sy rigting.

Niklaas staar grootoog na die notaboekie en pen hier voor sy voete.

Hy lig sy kop op en ’n knop kom in sy keel sit toe hy in die yskoue oë van sy vrou kyk.

“W-Wat moet ek hiermee maak?!” vra hy benoud.

“Begin skryf aan jou selfmoordnota, jou gespuis!” spoeg Carrie terug.

Niklaas se oë rek weer pieringgroot toe hy nou besef waarnatoe die storie lei.

“N-Nee … j-jy speel seker!” hyg hy.

Carrie staan op uit haar stoel. Sy span die vuurwapen uit woede en druk die loop met mening teen Niklaas se voorkop.

Haar oë spoeg vuur. “Jý sou nie gespeel het nie, jou vark!”

Sy prop terselfdertyd die potjie met haar slaappille in sy hand.

“Daar langs jou staan ’n glas water. Begin drink!”

“Jy het ’n keuse: Óf jy drink die pille óf jou kop eet lood!” sê sy toe sy sien hy talm nog.

Niklaas besef hy is nou tussen twee vure.

Hy sluk vinnig ’n handvol pille af.

Hy sluk vinnig water toe die pille krapperig in sy keel afgaan.

“Sluk nog!” bulder sy vrou.

Nog ’n handvol pille verdwyn met ’n slukkie water in Niklaas se keelgat af.

“Oukei, nou skryf jy alles neer wat ek vir jou sê,” beveel Carrie en rig die vuurwapen hierdie keer loodreg op sy voorkop.

’n Halfuur later lees Carrie die “selfmoordnota” deur waar dit op die koffietafel voor Niklaas lê.

Daarin staan hoe hy, wat Niklaas is, besef het hy het in die lewe gefouteer deur sy vrou so gruwelik te abuse.

Hy skryf oor hoe gebroke hy gevoel het toe Carrie gesê het sy gaan hom los. Hy skryf ook hy besef nou eers hy kan nie sonder haar lewe nie …

Sy knik haar kop tevrede.

Sy ondersoek vlugtig sy stil lyk waar hy met sy kop agteroor lê.

Sy sien sommer onmiddellik hy is moer toe.

Al die jare se mishandeling het haar yskoud teenoor hom gemaak.

Toe sy sy veragterlike plan ontdek, was dit die laaste strooi.

“Jy het nou van jou eie medisyne geproe!” spoeg sy.

Sy gaan kamer toe en gaan pak haar klere. Toe raak sy van die speurroman en vuurwapen ontslae.

Dit is al donker toe sy met haar tas in haar hand aan haar ma se deur klop.

Haar ma ontvang haar met ope arms, terwyl sy haar hart uithuil.

“Dis klaar tussen my en Niklaas, Ma. Ek het hom verlaat,” snik sy.

“Toe maar, my kind, hy was jou nie werd nie.

“Hy sal wel later agterkom wat ’n juweel hy verloor het,” troos haar ma, onbewus van die hele episode wat hom vroeër in die Brons se woning afgespeel het.

Dit is vroeg die volgende oggend toe die polisie aan die deur van Carrie se ma kom klop.

Dis Carrie wat die deur oopmaak en sy kyk vas in die simpatieke gesigte van twee polisiemanne.

“Mevrou Carrie Bron?” vra die een polisieman onseker.

“D-Dit is korrek, ja,” antwoord Carrie. Sy probeer haar pose hou.

“Mevrou, ek’s bevrees ons het baie slegte nuus.

“Jou man het blykbaar gisteraand selfmoord gepleeg deur ’n handvol slaappille te drink.

“Daar was nog ’n selfmoordnota voor hom op die koffietafel.”

Rou snikke skeur deur Carrie se lyf terwyl trane oor haar wange stroom.

Dit is eintlik trane van blydskap dat sy nou uiteindelik vry is van ’n lewe vol mishandeling.

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters