4 dae gelede
Nigels kan nie glo wat ’n onverwagte bron kwytraak nie
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Nigels besef met ’n skok die mees onlangse slagoffer, Gloria Jordaan, was ’n high school sweetheart van hom. Hy en Layla gaan na die strip club waar Gloria en die ander meisies gewerk het, maar die Portugese eienaar, Jao Ferreira, is suinig met info en weier om te praat sonder dat sy lawyer teenwoordig is. Geniet hoofstuk 7 van EL­­D­RIDGE JASON se verhaal “Die Gemaskerde Killer”.

DIT begin saggies reën. Nigels en Layla haas hulle na die kar.

“Oe, ek kan nie afford dat my hare mince nie,” grap Layla.

Nigels grinnik. “Ek sal nie weet nie. Pittekoppe soos ek ken mos maar net die mince wat jy by die slaghuis kry.”

Dit begin meteens harder reën. Layla draai paniekerig na Nigels.

“Ek hoop nie die reën destroy nou enige bewyse in die begraafplaas nie. Die Vader weet, ons het ’n breakthrough in hierdie saak nodig.”

Nigels knik. “Iets maak nie vir my lekker sin nie. ’n Ou vermoor drie girls en niemand sien wat hy doen nie?

“Dit is Paternoster hierdie, nie New York nie. Hier skinder mense al van jou poep nog voordat jy gepoep het.”

Layla lag. “Ja, dit gaan mos só in klein dorpies, nè.

“Soms mis ek die stad.”

Nigels draai nuuskierig na haar. “Hoekom het jy dan Weskus toe getrek? In die Kaap het julle dan so baie malls en goed om julle mee besig te hou.”

Daar kom ’n somber trek in Layla se oë. “Die winde van verandering moet waai, of ’n mens nou wil of nie. Haai! Kyk hoe lekker reën dit nou,” probeer sy die onderwerp verander.

Nigels vang die tip. Die girl wil nie praat oor die spoke wat haar uit die Kaap uit hierheen gejaag het nie.

“Ons moet ’n lysie maak van al die mense wat ons moet interview,” sê Nigels saaklik. “Ons sal moet split om dit te doen en nog ’n kar by die stasie moet kry.

“Antie Mienie is Gloria se ma. Ek dink sy bly nou in die ouetehuis wat onlangs sy deure oopgemaak het. Ek sal haar gaan sien.

“Sal jy probeer uitvind of Heather Lawrence en Lerato Modisane enige relatives hier het? Ons kan dan so ...”

Nigels loer na sy horlosie. “Ons kan mekaar dan so 12:00 se kant weer hier ontmoet en dan weer met Jao Ferreira praat. Hy moet iets weet. Mense soos hy stel nie net girls aan sonder dat hulle die ins and outs van daai persoon ken nie.”

Layla knik. “Reg so. Kom ons gaan boek vir jou ’n kar uit en dan meet ons mekaar later weer hier.”

Sy skakel die kar traag aan. Ai, hoe graag sou sy nie eerder in haar bed wou lê en na die reën luister as om nou met moord opgeskeep te sit nie ...

HUIS Silwerjare. Nigels grinnik toe hy die ouetehuis se naambordjie gewaar.

Hoekom het elke tweede tuiste vir bejaardes dié naam?

Wat is fout met “Club Emmer-Omskop” of “Die Lepel-in-die-Dak-Bende”?

Hy skud sy kop. Die dorpie gaan nou vooruit. Wie het nou ooit gedink die dag sal aanbreek dat oumense weg van hul tuiste gehuisves sou word? By die dief­weringhek druk hy ’n knoppie en word byna dadelik ingebuzz. Hy stap na die gedeelte waar ’n “Ontvangs”-bordjie pryk. Hy herken dadelik die ontvangsdame. Dis ook so in haar geval, want sy los ’n gilletjie wat sy ore laat tuit.

“Nigels Fluks, my jinne! Waar val jy uit?”

Voordat Nigels kan antwoord, gaan die meisie voort. “Ek praat hoeka die ander dag van jou – darem nie geskinder nie.

“Ek het my ma gevra hoekom Nigels hom dan so skaars hou. Hou hy dan vir hom wit? Ek mean maar, dit is nie ’n groot dorp hierdie nie, maar ’n mens sien jou nie eens in die kerk nie en–”

“Hallo, Sabrina,” spring Nigels haar voor. “Dis goed om jou ook te sien, maar ek is hier op official business. Is antie Minnie hier?”

Sabrina Lamoer trek haar asem skerp in. Sy is so nuuskierig dat die moer draai, dink Nigels. Heeltemal die verkeerde mens om nóú mee te praat.

Sabrina sit haar hand op haar bors. “Het antie Minnie iets verkeerds gedoen?” vra sy in ’n fluisterstem.

Nigels maak sy mond oop om iets te sê, maar sy spring hom weer voor.

“Of is dit Gloria met die danslyfie?

“Oe-la-la, ek sê mos altyd jy kan nie jou ma in die ouetehuis sit sodat jy kaal vir mans kan gaan dans nie.

“Die Here gaan mos nie speel met haar nie. In daai vieslike plek haar lyf dans en verkoop? Nie dat ek al ooit daar was nie, maar ek hoor die plek is veral so vol wanneer die manne van die see af kom.

“Anyhow ... Jy wou sê?”

Nigels lag en skud sy kop. Sabrina Lamoer het hom amper laat vergeet hoekom hy hier is. Sy kan jou deurmekaar praat. G’n wonder sy is steeds single nie.

Hy het al ouens in die pub hoor sê hulle is nie lus vir ’n speaker box in hul lewe nie wanneer hulle oor Sabrina praat.

“O, ja,” sê Sabrina so opgewonde soos iemand wat vyf nommers en die bonusbal by die PowerBall in het.

“Jy is hier vir antie Mienie. Jinne shame, Gloria maak nie mooi nie. Was nouriedag net vir ’n kort tydjie hier, maar storm toe weer onder trane uit.”

“Gloria was hier?” vra Nigels en frons. “Wanneer was dit?”

“H’m,” sê Sabrina en dink so ’n bietjie na.

“Gister, eergister? Ek is nou nie seker nie.

“Jy sal nie glo hoe bedrywig ons nou is nie. Met Covid-19 is die oumensies so bang.”

Nigels loer vlugtig om hom rond. Hy sien niks hier wat Sabrina besig kan hou nie. Nie eens die stof op haar lessenaar hou haar dan besig nie.

“Shame,” gaan Sabrina voort. “Toe storm sy mos onder trane hier uit. Ek wou nog vir antie Minnie vra of hulle dan woorde gehad het. Nie dat ek nuuskierig is nie, maar ’n mens moet mos jou naaste liefhê, jy weet.”

Nigels knik. Hy weet wat Sabrina bedoel. Jy moet jou naaste so lief hê dat jy alles van die persoon weet – tot watter formulemelk hulle net ná hul geboorte gedrink het.

“So, jy weet nie hoekom Gloria so gehuil het nie?”

Sabrina skud haar kop. “Antie Minnie was nog nooit happy met die dinge wat Gloria aangevang het nie. Maar ek het ’n voëltjie hoor fluit dat Gloria swanger was – van ’n customer nogal.”

Nigels gaap Sabrina geskok aan.

“Wie?” prewel hy amper.

Sabrina trek haar skouers op.

“Ek weet nie, maar ek’s seker antie Minnie sal jou kan sê. Kom, ek vat jou na haar toe.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters