6 maande gelede
Niemand wil hoor wat die geskokte Jan te vertel het
 ~ 

HALLO daar, Sonlanders! Bonga die Tokko-Man: Die Staatsgreep volg op Interdimensionele Oorlog uit die pen van SALMON SMITH. Lees nou die tweede hoofstuk.

DIT is nou presies twee jaar sedert die verstrooide professor Tony von Brauwn en sy span wetenskaplikes verdwyn het.

Suid-Afrika is op sy knieë gedwing as gevolg van die oorlog wat hy met sy projek Open Door veroorsaak het.

Gelukkig was ’n groot Oosterse moondheid bereid om miljarde rande in te pomp sodat die land weer op sy voete kan kom.

Die meeste van die geboue in die Kaapse middestad is herstel en die skade aan die meeste van die beskadigde huise is reggemaak.

Sedert die ontploffing is prof. Von Brauwn die mees gesoekte man in Suid-Afrika.

Interpol het foto’s van hom oor die wêreld heen versprei.

Hy is selfs geklassifiseer as een van die gevaarlikste terroriste wêreld­wyd.

Die Nasionale Intelligensiediens vermoed egter die professor skuil iewers op Suid-Afrikaanse bodem en is weer besig met sy onderduimse projekte. DIS kort voor middernag. Jan Swartbooi van Touwsrivier jaag Janestraat volspoed met sy 4x4-bakkie binne.

Regoor die vulstasie verloor hy beheer oor sy bakkie. Dit tol tot op die dak.

Terwyl die wiele nog spin, spring Jan uit en hinkepink na die vul­stasie. Dis 24 uur per dag oop.

“Von Brauwn! Hy skuil hier naby Touwsrivier! Bel die polisie!” gil hy vreesbevange.

Die drie petroljoggies skrik so verward wakker, die kwyl spat eintlik. Hulle kyk grootoog na die man wat aangestorm kom.

Hulle herken Jan eers toe dié uitasem by hulle aankom.

“Eish, boetie! Wat aan gaan?!” vra een van hulle.

“Hei, tatta, bel die polisie! Von Brauwn-hulle skuil hier naby in ’n groot bunker!” gil Jan.

Toe die petroljoggies die naam “Von Brauwn” hoor, rek hulle oë nou eers spierwit groot.

Hulle besef al teen hierdie tyd dáárdie naam voorspel groot moeilikheid.

“Hayi, boetie, man!”

“Sóóntoe met djou moeilikgeid!” gil hulle.

“Hy het ’n klomp van daai akkedisgedrogte daar!” gaan Jan voort.

“Hei, voertsek, man!”

“Hamba!” tjank die petroljoggies in ’n koor.

Die harde gedreun van ’n swaarvoertuig wat aangejaag kom, laat almal se kop in die rigting van die N1 draai.

Hulle sien hoe ’n gepantserde army-voertuig met ’n grondpad oor die N1 aangejaag kom, tot in Janestraat.

Jan besef dis Von Brauwn se manne wat hom kom soek.

Hy hardloop koes-koes na ’n groot hotel skuins oorkant die straat.

Die army-voertuig trek in ’n stofwolk langs sy omgeslane bakkie op. Ses swaar ge­wapende manne in snaakse, blou kamoefleerdrag spring daaruit en ondersoek die onderstebo bakkie.

Toe hulle niemand in die bakkie gewaar nie, hardloop hulle oor die pad na die vulstasie.

Die arme petroljoggies probeer skarrel vir skuiling, maar hulle word sommerso in die hardloop platgeskiet.

Intussen bars Jan by die hotel se voorportaal in.

Die paar gaste wat daar rondsit, spring grootoog op toe die skote buite begin klap.

“Gou, gee my ’n foun! Hier’s groot k*k!” gil Jan.

Maar almal hardloop holderstebolder teen die trappe op – meer besorg oor hulle eie veiligheid.

Jan sien sommige het hulle handsak agtergelaat. Hy grawe naarstig in een en pluk ’n selfoon daaruit.

Hy hardloop met die foon na die agterkant van die hotel.

Met bewende vingers skakel hy die polisiestasie se nommer.

“Hallo! Dis Jan Swartbooi hier!” fluister hy haastig toe iemand aan die ander kant optel.

“Prof. Von Brauwn skuil hier buite Touwsrivier in ’n massiewe bunker.

“Hy het ’n hele army daar en daar’s ’n klomp akkedisgedr-!”

“Nee, ek praat nie k*k nie, man!” gaan hy gal af toe die polisieman aan die ander kant hom nie wil glo nie.

“Hulle skuil in ’n ou ondergrondse navorsingstasie van die ou weermag!

“Ek het vroeër daarop afgekom toe ek ’n bietjie die koppies daar in daai gebied gaan verken het.

“Daar gaan lelike goete aan!

“Hulle het my vanaand betrap en toe jaag hulle my tot hier in Janestraat. Nou is hulle besig om die k*k uit die vulstasie hier oorkant te skiet! Kom gou!”

Op daardie oomblik bars die army-ouens takties by die hotel in, op soek na Jan. Drie van hulle storm die trappe op en vuur op die vreesbevange gaste.

Jan krimp ineen toe hy reg in die loop van ’n geweer vaskyk.

Die soldaat vat die selfoon uit Jan se bewerige hand.

Hy plaas dit teen sy oor. “Hallo, wie praat nou?!” vra hy kortaf.

Hy druk onmiddellik die foon dood en haal dit van sy oor af weg. Hy kyk na sy makkers.

“Dié indringer het met die polisie gepraat!” sê hy yskoud en smyt die foon eenkant toe.

Sy gesig is graniethard toe hy die geweerloop teen Jan se voorkop druk en die sneller trek.

Minute later, nadat die soldate seker gemaak het dat alle getuies uitgewis en die cop shop opgeblaas is, verlaat hulle Touwsrivier met ’n spoed. Hulle jaag tussen die verlate Karoo-koppies deur na hulle skuiling, so 15 kilometer buite die dorp.

Prof. Tony Von Brauwn wag hulle met ’n stroewe gesig in.

“Is daai indringer dood?!” vra hy toe hulle in ’n stofwolk in die kamp tot stilstand kom en uit die voertuig hop.

“Ja, én almal met wie hy te doen gehad of moontlik inligting mee gedeel het!” antwoord een van die soldate.

’n Wrang glimlag verskyn om Von Brauwn se mondhoeke.

“Baie mooi, manne! Nou is dit tyd dat ons tot aksie oorgaan. Dit is tyd dat ons pres. Mandla Hadebe met ’n staatsgreep uit die kussings lig! Ons moet ontslae raak van hom en sy korrupte OGO-party.”

’n Lelike grynslag verskyn op sy gesig terwyl hy met ’n remote control peuter. Skielik begin een van die groot vliegtuighanger se halfgeroeste deure stadig en met ’n harde skreegeluid oopskuif.

Vasgenael kyk hulle almal na wat binne aangaan.

Die helder maanlig deur die oopgeroeste dak verlig die plek genoeg.

Binne-in die hanger is omtrent 500 akkedisagtige Ozarki’s. Hulle sit slaggereed op hulle groot, renosteragtige rydiere en wag vir die bevel om verwoesting te saai.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters