2 maande gelede
Nicolene weier om haar ma se fout te herhaal
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Peter kry eers sy wiskundetoets agter die rug voordat hy weer na Nicolene soek. Sy het egter haar mind opgemaak oor die situasie. Dinge lyk nie goed vir die rugbykaptein nie. Lees nou hoofstuk 3 van CHRISTO MEYER se verhaal Die Droom.

DIE EERSTE pouse is iets van die verlede.

Die leerders haas hulle na hulle onderskeie klaskamers.

Ook Peter en sy klasmaats wikkel om by die toetslokaal te kom.

Hulle weet maar alte goed hoe meneer Rhode ’n onnodige gesloer haat.

As een leerder net 30 sekondes laat in sy klas kom, haal meneer Rhode dit op almal uit.

Ekstra huiswerk is gewoonlik die hele klas se voorland.

En as enige een dit waag om teë te praat, moet hy of sy die klas onmiddellik verlaat.

Meneer Rhode loop al krom, maar van aftree wil hy net mooi niks weet nie.

Van die ander onderwysers het al gefluister dat dit beter is dat hy elke dag van die week aan die gang bly.

Hulle reken sy gesondheid sal vinnig agteruit gaan as hy ledig by die huis moet sit.

“Julle kan die sterre in die hemel dank lyfstraf is verbode,” sê hy gewoonlik bitter.

“Ek mis die dae toe die rottang nog die praatwerk gedoen het.

“Deesdae het julle mos regte en kan julle maak nes julle wil.”

Peter neem sy sitplek in. Hy lees die wiskunde-vraestel noukeurig deur voordat hy opgewonde wegval.

Nicolene is steeds in sy agterkop, maar hy weet as hy nie gaan konsentreer nie, gaan hy swak vaar.

Hy kan weer aan haar aandag gee sodra dié belangrike toets agter die rug is.

Aan die einde van die periode voel Peter dat hy beter gevaar het as wat hy aanvanklik gedink het.

Die vraestel was toe nie so moeilik nie. Of dalk kan dit wees omdat hy so goed voorbereid was.

As hy moet skat, het hy meer as 80% van die vrae korrek beantwoord.

Die tweede pouse breek aan en dieselfde wat in die eerste pouse gebeur het, gebeur weer.

Hierdie keer help Martin vir Peter in sy soektog na Nicolene, maar alles is vergeefs. Nicolene is nêrens te sien nie.

Waar Nicolene Kotze roerloos in die meisiestoilette staan, is sy bewus van die twee boesemvriende wat dringend na haar soek.

Kort-kort stuur sy iemand om te gaan kyk waar Peter hom bevind.

Sy geniet hierdie kat-en-muisspeletjie terdeë, want sy het genoeg gehad van Peter en sy alewige obsessie met rugby, rugby en nogmaals rugby.

Wat het sy per slot van rekening met rugby uit te waai?

Sy gee net voor sy stel belang, maar in werklikheid hou sy nie eens van sport nie.

Ná dit wat haar pa aan haar ma gedoen het, haat sy alle sportsoorte.

“Moet nooit eendag met ’n man trou wat van sport ’n afgod maak nie,” het haar ma een aand gesê.

“Jy gaan sleg tweede kom.

“Maak jou oë voor die tyd oop sodat jy nie ook in dieselfde strik as ek trap nie.”

Sy weet presies waarvan haar ma gepraat het.

Haar ma was met so ’n persoon getroud. Haar pa, Duncan, was sportmal.

Hy was een van die beste doelwagters wat die Wes-Kaap al opgelewer het. Oral waar hy gegaan het, het hy Kraaifontein se naam hoog gehou.

Hy was ’n inspirasie vir ander wat ook iets in die lewe wou bereik, maar in die proses het sy huwelik daaronder gely.

Toe hy op ’n dag uit die bloute sê hy wil skei, was sy en haar ma albei uit die veld geslaan.

Haar ma was ná die egskeiding nooit weer dieselfde nie. Sy het ’n alkoholis geword.

Nicolene weier om dieselfde paadjie as haar oorlede moeder te loop.

Haar pa was indirek die rede dat haar ma een Sondag in die somer selfmoord gepleeg het in die see by Bloubergstrand.

Haar ma was oor die algemeen ’n sterk vrou. Haar ma het haar pa met haar hele hart en siel liefgehad.

Die egskeiding het haar geknak.

Haar pa het nie eens moeite gedoen om die begrafnis by te woon nie.

Sy verskoning was dat hulle daardie middag in ’n groot wedstryd betrokke sou wees en hy nie sy spanmaats in die steek kon laat nie.

Vir hom het dit nie eens saak gemaak dat sy dogter hom nodig gehad het nie.

Haar pa se nuwe vrou het geweier dat sy ná die begrafnis by hulle kom bly, maar gelukkig het tannie Shirley en haar man hulle oor haar ontferm. Tannie Shirley is haar ma se oudste suster.

Nicolene weet wat sy wil hê. Sy wil beslis nie dieselfde foute as haar ma maak nie.

Sy gaan die kat eers goed uit die boom kyk voordat sy die dag in die huwelik tree.

Daar sal sommer nog baie water in die see moet loop voordat sy daardie groot stap neem.

Wat in Nicolene se guns tel, is dat sy en Peter nog nie intiem verkeer het nie.

Indien dit wel gebeur het, sou sy verplig gevoel het om sy meisie te bly.

Hy het nog nooit druk op haar gesit vir seks nie, maar sy weet dis net ’n kwessie van tyd. Baie van die eerste span se ouens het dit al gedoen.

Sy hoor gereeld hoe hulle onder mekaar praat.

Nicolene soek iemand wat haar soos ’n dame kan laat voel en nie iemand wat haar as tweede beste beskou nie.

Sy het lank hieroor gedink en tot die besluit gekom om vorentoe liewer vir Peter te ignoreer.

Peter moet self sy fout agterkom. As hy dan nog enigsins iets vir haar voel, moet hy eers sy rugby opgee.

Hy weet dit nog nie, maar daar is ander ouens ook wat in haar belang stel.

Sy kry gereeld privaat boodskappe op Facebook van ouens wat haar wil uitneem.

Sy kan nie eens onthou wanneer laas sy en Peter gaan fliek het nie, so besig hou die rugby hom.

Hy dink seker sy het geen benul van die ekstra aandag wat hy op die oomblik van ander meisies kry nie.

Nee wat, so kan dit nie langer aangaan nie. Peter sal sy mind moet opmaak.

Sy is nog bloedjonk en gaan nie toelaat dat sy in ’n blik gedruk word nie.

Sy wil sommer pret hê en die lewe geniet.

Peter Rogers is selfsugtig en dink net aan homself en wat vir hom belangrik is.

Noudat hy boonop die eerste span se kaptein is, gaan hy nog minder tyd met haar deurbring.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters