22 dae gelede
Nico en Linda is talk of the town ná Lien se dood
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons die tweede deel van KEITH MEYER se verhaal Die Winter van 2018. Ons leeservaring is onderbreek deur die langnaweek, so laat ons jou geheue verfris. Laas keer het ons kennis gemaak met Linda en Nico Petersen, ’n egpaar van Herbertsdale. Hulle was geliefde inwoners van dié plattelandse dorpie. Linda was ’n skoonheidskonsultant van Beauty is Everything en Nico ’n speurder wat in die buurdorp Riversdal gewerk het, maar elke dag in en uit gery het. Alles was hunky-dory tussen die twee totdat ’n DStv subscription alles kom opboggher het. Soveel so dat hulle die mooie 19-jarige Lien gevra het om te kom help met die huishouding. ’n Love affair het tussen Nico en Lien ontstaan nadat Linda morsig op haarself begin word het en nie eens meer skoonheidsprodukte wou verkoop nie. Maar dit was op ’n weekend away vir Linda en Nico dat hulle daar langs die see in Stilbaai verskeie WhatsApps gekry het dat Lien haarself in haar ma se huis opgehang het. Dit was Lien wat die love affair met Nico beëindig het. Lees nou verder.

TOE begin die tonge ná Lien se dood klap.

“Wat loop maak daai couple­ langs die see in die winter?

“Dis vrek koud en die sneeu lê dik op die omliggende berge?

“Dis óf Linda óf Nico wat iets hiermee te doen het,” bespiegel die community.

Toe die egpaar die Sondag vanaf hulle weekend away terugkom, het hulle die vyandigheid van die gemeenskap aangevoel.

Hulle is toe dadelik na die huis van Lien se ma. Daar gekom, wou niemand Nico en Linda ’n gesig gee nie.

Dit was duidelik daar word gegis dat een van hulle twee iets met die arme Lien se dood te doen gehad het.

Maar niemand was bereid om enige iets te sê nie, want “Nico is ’n geregsdienaar wat nie op sy bek geval is nie”.

Vir Nico was dit ’n gevoelige slag, want hy was baie lief vir sy skelmpie, al het hy gedink niemand weet van hulle twee se love affair nie.

“Nico, ons moet maar help met die begrafnisreëlings, want Lien het haar alles vir ons gegee.

“Ek weet nie hoekom die mense dan nou dink ons het iets met haar dood te doen nie,” wonder Linda.

Maandag hoor Nico toe ’n geregtelike doodsondersoek gaan op Lien­ gedoen word.

Hy raak yskoud, want hy weet hulle het gereeld seks gehad.

Nico bespreek die saak met die ondersoekbeampte.

Gelukkig kry hy toe die kans om Lien se selfoon in die hande te kry.

Hy delete gou alle boodskappe op haar foon wat na hulle affair verwys. Selfs die kaalfoto’s wat hulle oor en weer aan mekaar gestuur het.

Nico is nou baie verlig.

Toe kom die uitslag van die nadoodse ondersoek en hierdie keer is die inwoners nog meer bef*k, want Lien was drie weke swanger.

Die logiese afleiding was dat dit net Nico kon wees, want Lien­ het nie juis mansvriende gehad nie.

Linda besluit toe skielik om ook haar man daarvan te beskuldig dat Lien selfmoord gepleeg het omdat sy van hom swanger was.

“Dis jou kleintjie, jou sleg ding. Nou het daai kind met haar lewe geboet omdat jy nie jou gulp kon toe hou nie.

“Lien was ’n blote kind teenoor jou. Jy het haar verlei. Ek hoop jy word gevang.”

Vir Nico is dit ook ’n groot gatslag.

Die omstandigheidsgetuienis dui dan nou daarop dat hy indirek verantwoordelik is vir die dood van hierdie geliefde, aantreklike girly van die community.

En die community is oortuig Nico moet aangekla word van moord of strafbare manslag.

’n Week ná die dood is niemand nog gearresteer nie.

Toe besluit die community om die wet sommer in eie hande te neem.

’n Voorprater sweep die gemoedere op.

“Die bleddie speurders vat te lank. Dit is mos ’n boetie-boetie-saak en ’n tjommie-tjommie-saak hierdie.

“Hulle wil nie een van hulle eie mense invat nie. Dan vat ons hom maar na hulle toe.”

Die next oggend word die Petersens wreed wakker gemaak.

’n Harde skop teen die voordeur en ’n woedende skare inwoners dreunsing dreigend en ruk hulle wakker.

“Wat gaan nou aan?” vra Nico deur die venster.

Die next moment tref ’n klip die ruit en mis hom rakelings, maar tref wel vir Linda teen die kop dat die bloed spat.

Sy gryp die kopkussing en try om die bloed daarmee te stop.

Nico gryp sy dienspistool, maar besluit daarteen.

Nou soebat hy hulle om hom dan maar liewer cop shop toe te neem.

Nico en drie mans klim toe in sy eie motor en ry reguit Riversdal toe.

Langs die pad moet hy die weersin van die mans verteer.

Een van hulle is Lien se uncle en hy dreig om Nico dood te maak as hy borgtog kry.

Nico se tong raak dik en hy is bleek.

In Riversdal wag daar al mense wat gehoor het die community gaan vir Nico inbring omdat hulle glo hy het iets met Lien se dood te doen.

“Miskien het hy haar eers doodgemaak en toe in haar kamer gaan ophang.

“Hy kon selfs ’n moordenaar gehuur het,” was van die inwoners se bekpraatjies.

Toe Nico se Nissan voor die cop shop tot stilstand kom, kon hy nie eens die voertuig se deur oopkry nie soos die skare om die kar saamgedrom het.

Die polisie gebruik traangas om die skare uitmekaar te kry.

Binne die cops shop was sy kollegas verstom.

Hulle kon nie glo hierdie toegewyde speurder is tot moord in staat nie.

Maar hulle doen hulle job omdat hulle ook bang is die crowd dink hulle is biased.

Dan, terwyl hulle besig is om Nico se fingerprints te vat, hardloop iemand die cop shop binne met ’n geskreeu.

“Los hom, asseblief. Hy is onskuldig. Hy het nie vir Lien doodgemaak nie.

“Ek is Neville Kamfer. Ek het Lien ál die pad gesmaak, maar sy wou my nooit as meer as net ’n vriend hê nie.

“Daardie nag het ek op haar selfoon gesien sy het vir speurder Nico ’n WhatsApp gestuur dat sy hulle affair stop.

“Ek was blind van woede en het haar vermoor.”

Die volgende dag lui die koerant­opskrif: “Jaloerse jong man vermoor meisie en haar ongebore baba – speurder vrygelaat”.

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters