16 dae gelede
Nemesis kom haal Rudy in sy pikswart motor
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Die gort is anderkant gaar toe Rachel en Rudy alleen is ná ’n hartseerdag waarop hulle hul vermoorde kind begrawe het. Nie een van die twee kan slaap nie en Rachel skraap eindelik die moed bymekaar om Rudy uit te vra oor die omstandig­hede rondom hulle kind se dood. Dis toe dat sy met ’n skok uitvind hy was so besig met sy drugs dat hy nie eens daarvan bewus was dat hulle kind missing was nie. Rudy word uitgesmyt en besluit om Nemesis te bel. Maar gaan dié vreemde ou hom help? Geniet nou hoofstuk 4 van “Nemesis”, die jongste verhaal uit die pen van ELDRIDGE JASON.

DIE foon lui veels te lank na Rudy se sin. Hy is op die punt om die oproep te beëindig, toe sy call beantwoord word.

“Rudy,” antwoord die stem kortaf. Hoe het die man geweet hy gaan bel?

Hoe ken hy sy nommer?

“H-h-hello? Nemesis?” vra Rudy ietwat van stryk gebring. “Jy het gesê ek moet jou bel?”

“Hierdie tyd van die nag?” vra Nemesis kortaf. “Ken jy dan nie van slaap nie?”

“Maar jy het dan gesê ek kan jou bel as –”

“Wat het gebeur?” val Nemesis hom onbeskof in die rede. “Jy het nie gebel omdat jy na my stem verlang het nie.”

“Rachel ... Rachel het my uitgesit,” antwoord Rudy afgehaal. “En toe dink ek –”

“En toe dink jy ek gaan jou jammer kry omdat jy nou amptelik ’n charity-geval is?” val Nemesis hom weer in die rede.

“Ek dink nie ek het ná die begrafnis met ’n kind gepraat nie.

“Ek weet nie hoeveel van jou breinselle jy al weggerook het met die buttons nie, maar ek soek antwoorde van jou.

“Ek kan jou nie help as jy my niks in return gee nie.”

“Nou, wat soek jy?” vra Rudy desperaat en loer om hom heen.

Al sy besittings is rondom hom gepak. In swart sakke.

Rachel het soos ’n besetene begin kaste uitpak en het toe ál sy goed in swart sakke gepak.

Sy het toe gesis dat hy ’n uur het om te lains voordat sy die boere bel, en toe hoor hy hoe knars die sleutel in die slot van hulle slaap­kamerdeur. Nemesis is nou sy laaste hoop, want nie een van sy brasse tel nou hulle foon op nie. Almal s’n slaan straight voicemail toe.

Hy’t vir hulle WhatsApps ook gestuur, maar dis net die een strepie wat saam met sy boodskap deurgegaan het.

“Ek wil alles weet van die Rowan-tjommie van jou,” sê Nemesis. “Alles wat jy weet. Ek wil hom opspoor en ’n voorbeeld van hom maak. Die tronk sal te goed wees vir hom.”

“My airtime is amper op,” antwoord Rudy. “Ek weet nie of ek veel van hulp kan wees nie, maar sal jy my kan kom oplaai? My adres is –”

“Ek weet waar jy bly. Ek is oor ’n paar minute by jou.”

Toe druk Nemesis die foon dood. Rudy staar oorbluf na sy selfoon. Is hy besig om ’n fout te maak?

As Nemesis in ’n call centre gewerk het, sou hy beslis g’n produk verkoop gekry het nie.

Maar nou ja, at least is sy blyplek vir eers uitgesort. Wat Nemesis van hom soek, weet hy nie. Hy hoop maar hy kan Nemesis satisfy met wat hy weet ... En so sy blyplek secure ...

RUDY se oë rek groot toe die pikswart BMW X4 langs hom stilhou waar hy op die sypaadjie sit.

Kort ná sy oproep na Nemesis, het hy sy sakkies gevat en buite gaan sit.

Nie lank daarna nie het hy gehoor hoe Rachel die voordeur sluit.

Daar was nie meer kans vir omdraai nie. Die ruit draai stadig af.

“Wag jy dan op ’n formal invite?” kom die stem vanuit die kar.

Rudy vlieg op. Hy gaan hom nie twee keer laat nooi nie.

Haastig maak hy die kattebak oop, smyt die sakke klere in, en klim dan voor langs Nemesis in.

“Het jy jou skoene afgevee?” vra Nemesis koud.

Rudy gaap hom verbaas aan, nie seker of die man hier langs hom besig is om ’n grap te maak nie.

Dis egter so duidelik soos daglig dat Nemesis nie joke nie.

Rudy klim gedwee uit en kap sy skoensole teen die rand van die sypaadjie. Hy loer huis se kant toe en sien hoe ’n gordyn vinnig toegeskuif word.

Kry vir jou, dink hy vermakerig. Laat Rachel maar wonder wie hy dan ken wat met so ’n fênsie kar hier kan optrek.

In fact, laat sy sommer dink hy het ’n stinkryk skelmpie wat hom kom haal het om hom te wine en dine.

“Ek het nie heelnag tyd nie,” grom Nemesis. “Daar is werk wat wag. Is jy dan nou besig om button-tokkies te vang?”

Rudy sluk hard aan die knop in sy keel en spring dan vinnig in die kar.

Nemesis trek met ’n spoed weg, maar Rudy is verbaas dat hy geen skreeuende tyres hoor nie.

Die musiek speel sag. Hy kan nie lekker uitmaak wat speel nie, maar dit klink vir hom soos daardie Pavarotti-stront wat hy destyds op skool gehoor het.

Hy is nie ’n Pavarotti-man nie, maar ’n Panarotti’s-man, beslis, ja.

So vasgevang in sy gedagtes is Rudy dat hy aanvanklik pyn voel, maar nie dadelik besef dis houe wat op hom neerreën nie.

Hy hou sy hande omhoog en probeer die houe afweer wat Nemesis hom met een hand toedien.

“Hei, nee!” skree hy benoud. “Wat dan nou? Hoekom slaan –”

Rudy raak aan die gil toe hy sien hoe Nemesis ’n vuurwapen te voorskyn bring. Waarvoor het hy hom nou ingelaat?

Hy voel hoe die bloed teen sy voorkop afstroom ná ’n venynige hou met die pistoolloop.

“Hierdie is nie ’n holiday nie, etter!” sis Nemesis. “Jou vrou het finally jou ware kleure gesien en besluit om jou uit te smyt.

“Hierdie is ’n voorsmakie van wat op jou en daai Rowan Gertse-etter wag.”

Weer word Rudy sommerso met die oop hand deur die gesig geslaan.

Hy rem aan die deur in ’n poging om uit te spring, maar dit is gesluit.

“Ek ... ek wil huith toe ghaan,” sê Rudy met ’n lispel. Hy kan voel hoe sy bolip aan die opwel is.

“As jy op my sitplekke bloei, maak ek jou vrek,” sis Nemesis.

“Moet ek dan nou met ’n style bloei?” kap Rudy astrant terug.

“Dan hou jy nog vir jou f*kk*n slim ook,” antwoord Nemesis en mik weer ’n hou in Rudy se rigting.

Rudy gil soos ’n girl en koes vir ’n vale.

“Ek kan jou nou al sê dat jy nie op pad is na ’n Holiday Inn toe nie,” sê Nemesis.

“Die plek waarheen ek jou nou vat, noem ek my eie huis van pyn. En nou praat ek nie van die rugbyveld in Dunedin in Nieu-Seeland nie.

“Jy was nie eerlik nie. Jou dogter kon vandag nog geleef het as buttons nie vir jou belangriker was nie.

“Jy gaan my help om jou kind se killer op te spoor, selfs al moet ek die lewende k*k uit jou druk.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters