18 dae gelede
Nemesis het die 2 koptjommies net waar hy hulle soek
Oom Sonnie
Oom Sonnie  ~ ~

HAAI, Sonlanders! Nemesis kry uiteindelik die adres in die hande waar die kindermoordenaar Rowan Jooste wegkruip. Maar Vetkop, ’n Kleinvlei-gangster-dikding, was eerste by Rowan. Hy’t hom opdrag gegee om van Nemesis ontslae te raak as hy sou opdaag. Maar hoekom het die gangster-grootbaas ’n grudge teen Nemesis? En is die vigilante-misdaadbestryder onbewus van watter gevaar op hom wag toe hy en Rudy ry om Rowan in ’n hoek te gaan druk? Geniet nou hoofstuk 8 van “Nemesis” uit die pen van ELDRIDGE JASON.

DIE pikswart BMW X4 draai stadig op in Raymond Acker­man-rylaan in Kleinvlei, Eersterivier.

Dis nog diep nag. ’n Mens sou verwag dat die lewe teen hierdie tyd al tot rus sou gekom het.

Maar Rudy merk met verbasing op dat daar nog heelwat lewe in die straat is. Kan net tikkoppe wees, dink hy. Die mens kan dalk deur die corona-virus vergaan, maar die tikkoppe sal saam met die kakkerlakke bly voortbestaan.

Die pad maak ’n skerp draai. Hulle ry verby die Spandau-woonbuurt se ingang en die aangrensende sportveld.

Rudy besef nou waar hulle is – nie ver van die polisiestasie af nie.

As hy nou uitspring en nael ...

Surely sal Nemesis hom nie tot by die gattas volg nie.

Maar wat sê hy aan die polisie as hy daar kom? Hy word immers nie as gyselaar aangehou nie.

Hy sal moet skoonkom en vertel hy het die dag van Kenzie se verdwyning gesit en earth van die buttons wat Rowan hom gegee het.

En dan? Dan sit hy met sy gat in Pollsmoor en wag dat die corona-virus hom daar kom haal.

Hy sug en blaas sy asem hard uit. Nee wat, wat ook al vanaand gebeur, hy sal die ride met Nemesis moet ry en hoop hy survive.

Hy sluk swaar aan die knop in sy keel. Ai, as hy net jare gelede al ore laat groei en weggebly het van die buttons.

Maar hy sweer, as hy hierdie storie survive, gaan hy opmaak vir al die k*k wat hy in mense se lewe gesaai het. Veral Rachel s’n. Dis nou as sy hom nog ’n kans gaan gee om homself te bewys.

By die verkeersirkel reg oorkant die polisie- en treinstasie swaai Nemesis regs in die rigting van Albert Philander-weg. Die pad maak ’n effense bend, en dan swaai Nemesis links in Keeromstraat.

Dis die straat waarin so baie ouens hulle huis omkeer as hulle Desembermaand bonus gekry het, dink Rudy.

Nemesis swaai vinnig regs in Kwaggastraat en draai sommer dadelik by Grysbokstraat in.

By wat vir Rudy soos ’n kerk lyk, swaai Nemesis weer links. Rudy loer by die venster uit, maar hy kan nie die straatnaam lekker uitmaak nie.

By ’n huis waar drie containers die voorkant verskans, hou Nemesis stil. Hy skakel die kar en ligte af. Hy draai na Rudy.

“Ek stel voor jy bly in die kar,” sê hy kortaf. “Dis nou as jy jou lewe liefhet.

“Moenie eens try om weg te hardloop nie, want ek sal jou kry.”

“En as die rook begin draai?” vra Rudy benoud.

“Wat as skote begin klap?

“Moet ek nog steeds soos ’n Pep Stores mannequin hier sit?”

Nemesis gluur hom aan. “ ’n Mens kan sien jy sit heeldag en rook jou lewe weg.

“Daar is nie mannequins in Pep nie. Die enigste poppe is mense soos jy wat toelaat dat die drugs jou rule.”

“Jy is mos die een sonder enige sondes, selfs al was jy in die mang.

“Moenie worry nie, ek gaan nêrens. Ek gaan net hier sit in my front-row seat en kyk hoe jy hemel toe gaan,” kom Rudy met ’n comeback.

Nemesis gluur hom net aan, maak die kar se deur oop en klim uit.

Hy smyt die deur toe en loop sonder om om te kyk na die voorhekkie met sy hande diep in sy jassakke. Hy loer vlugtig om hom rond en maak dan die voorhekkie oop.

Dan stap hy in, maar hy los die hekkie oop.

Rudy skud sy kop. Hierdie Nemesis, Pemesis, wie-ever hy is, het nou eenmaal nie maniere nie.

Onbeskoftheid gaan nog sy dood veroorsaak ...

DAAR waar Rowan in die donker by die eettafel sit, hoor hy die voordeurhekkie kraak.

So, dit is waar, dink hy en sug swaar. Iemand kom vir hom – nes Vetkop gesê het.

Sy hande is natgesweet om die kolf van die vuurwapen wat hy onder die tafel styf vashou.

Hy sit al lank hier en wag. Behalwe vir nou se kraakgeluid buite, moes hy heeltyd luister na antie Wayda se gesnork vanuit haar kamer.

Hy sweer ná vanaand sal daar nie meer balke in die woude wees om op te saag nie.

Rowan hoor hoe die voordeur oopgaan. Hy het dit immers nie gesluit nie – nes Vetkop hom beveel het. Dan hoor hy die gedempte voetstappe. O, hoe wish hy nie hulle het ’n pit bull gehad om wie-ever op pad is ’n bietjie te byt nie.

Maar antie Wayda het mos hooikoors en sê altyd die enigste hond wat sy met die grootste moeite sal verdra, is hy wat Rowan is.

Rowan hoor die voetstappe ál nader kom. Hy lek oor sy kurkdroë lippe. ’n Yskoue Zamalek sou nou lekker afgegaan het. Met ’n witpyp, net vir hom.

But pleks daarvan dat hy hom kan enjoy, sit hy en wonder wie die duiwel na hom toe gestuur het.

Hy skrik groot toe hy die silhouette in die deur sien.

Die persoon kyk reguit na hom. Hoe? Het hierdie mens dan kat-oë?

“Rowan Jooste ... Dis tyd,” fluister die man.

Rowan skrik groot. So groot dat die vuurwapen amper uit sy hand val.

Die man kom stadig nader gestap. Hy tas nie eens in die donker rond nie, dink Rowan met verwondering.

Dis asof die ou al hier was.

Die man trek ’n stoel uit en gaan sit. Hy vroetel langs sy sy rond en sit dan iets op die tafel neer.

Rowan skrik toe hy eindelik vaagweg uitmaak dat dit ’n vuurwapen is.

“Ek het nie ’n gun nodig om jou te laat k*k nie,” sê die man. “Ek neem aan jy weet wie ek is?”

Rowan knik verstom.

“En ek neem aan iemand het jou gewaarsku dat ek op pad is?”

Weer knik Rowan net. Die man skud sy kop effens.

“Sal dit nie beter wees as jy maar daai gun neersit wat jy onder die tafel vashou nie? Netnou gaan ’n skoot af en dan is jou antie Wayda daarmee heen.

“Jy weet ... Ek weet sy gaan nou wel nie eendag hemel toe nie, maar dit hoef darem nie nou al haar tyd te wees nie.”

Stomgeslaan sit Rowan die vuurwapen voor hom op die tafel.

Nemesis lê behaaglik agteroor.

“Waarvoor wag jy?” vra Rowan paniekerig. “Dala what you must.”

Nemesis wieg sy kop van kant tot kant.

“Ek wag nog net op ons ander gaste,” antwoord hy komkommerkoel.

Dan bars die voordeur oop ... ) Lees môre verder

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters