Verlede maand
Nella val amper flou toe sy sien wie voor haar is
 ~ 

’N SKOK wag nog om gebreek te word. Almal is diep moerig oor ou Karel se jagsheid en voel ewe diep jammer vir sy maagde­like vrou, Nella. Min weet hulle egter dat Nella self ’n stel donker geheime het waarmee sy nie op die mou rondloop nie. Haar en pastoor Faan se dinge is so diep verborge, net hulle twee en hulle gewetens weet daarvan. Gaan die nuwe dinge wat nou op die lappe gekom het, Sarel en sy sus Anel se planne liederlik in die wiele ry? En natuurlik die belangrikste vraag: Gaan Asian Beauty ná al die drama weer werkloos wees? Lees vandag die slotaflewering van CHRISTA PRINSLOO se verhaal wat sy “Dagboek van ’n Serial Dater” noem.

SAREL, sy sus Anel en Asian­ Beauty sit om die tafeltjie by die V&A Waterfront by ’n restaurantjie en vat boeke.

Die syfers wat hulle bymekaartel, laat hulle koppe draai.

Altesaam R89 769.

“Kan julle dit glo!? Dís wat my pa tot nou toe bestee het aan al sy hoerery op die dating sites,” sê Sarel half verbaas.

Anel voeg vererg by: “Onthou, dis net dié waarvan ons weet en wat ons kon terugkry.”

Asian Beauty, a.k.a. Ellestine, gooi haar gedagte ook in die kollektebordjie. “En onthou net, julle het my nog betaal ook.”

“Ons praat net hier van die winste, nè?”

Vir die drie jong mense is dit eintlik onmoontlik om te glo dat ’n ou man wat hom op dié tydstip in sy lewe moet toespits op ’n seëlversameling of iets soos die kweek van ’n mooi groentetuintjie, hom ophou met die knaende versoeke van sy onderlyf.

Hieroor sê Sarel vererg: “ ’n Mens weet jy ontvang jou gene van jou ouers. Maar die Here weet, ek het regtig nie dié origheid in my nie.”BY DIE huis wonder ou Karel waarom sy liefie Asian Beauty nou ewe skielik so stil is.

Hy het dan so mooi gesê hy sal inval by haar planne omdat dit soveel beter as syne klink.

Karel sien daar is ’n heel nuwe website wat nou op die been gebring is.

’n Dating site waarop hy hoop hy nog nuwe – en verkieslik jong – bloed kan kry.

“Kaaaarel!!” word sy gedagtes onderbreek toe Nella in die kombuis na hom roep.

“Jaaa, ek kom nou!” skreeu hy geïrriteerd terug.

Hy skuifel na die kombuis toe nadat hy sy laptop toegeklap en seker gemaak het die screen gaan dood en sy password tree in werking.

Hy tref Nella van kop tot tone opgedress daar aan.

Half geskok wonder hy of hy met die dae deurmekaar is.

“Watse dag is dit vandag? Vrydag? Jy lyk dan asof dit Sondag is ...”

Nella knyp haar handsak stywer onder haar arm vas om nie weg te gee hoe senuagtig sy is nie.

Sy begin praat en besef die koeël is deur die pastoor se kerk en nou moet sy maar deurdruk.

“Nee, Karel. Jy’s reg. Dis Vrydag.”

“Nou, waarom is jy dan so gedress asof dit Sondag is?

“Jy hol hoeka so agter die kerk aan.

“Dit lyk skoons asof jy al van Maandag af uitkyk dat dit Sondag moet raak om kerk toe te gaan.

“Dan praat ek nie eens van die bidure nie.”

Nou, kyk, daar’s een ding wat arme Nella al haar hele lewe terughou.

Sy het nooit geleer om kar te dryf nie.

So, ou Karel moet maar die rol van haar lewenslange Uber driver speel.

Karel raak haastig en dink weer aan daai aanloklike nuwe website wat hy wil gaan uitcheck.

Nou wil dié ou vrou iewers in die dorp gaan uithang.

Ewe vererg ruk hy die yskasdeur oop.

“Kyk! Hier is nog genoeg van alles!

“Wat kort jy dan in die dorp en by die winkel?”

Nella gooi haar hande in die lug en maak hom stil.

“Ek wil nie winkels toe gaan nie, man!”

“Nou, waarheen dan?” vra hy bot.

“Na die kerkkantoor toe.”

“Vir wat? Jy het dié maand mos nou al 10 keer jou tiendes gegee. Wil jy mý ook nou gaan inhandig?” vra hy sarkasties.

Die antwoord voel vir Nella soos koue water wat in haar gesig uitgeskiet word.

Sy hou haar cool en antwoord half stil: “Ja, iets in dié rigting wil ek gaan doen, Karel.

“Gaan was jou en maak jou reg sodat ons kan ry.”

Nella gaan maak senuagtig vir haar ’n koppie tee.

Dis die eerste keer in haar lewe dat sy voel sy wil ’n doppie brandewyn in die tee gooi. Net om haar senuwees te kalmeer.

Sy en pastoor Faan het ’n lang gesprek gehad. Baie lank. En toe kom hulle tot ’n besluit.

’n Mens kan nie so met bedrog in jou hart loop nie.

Sy weet baie goed Karel het al donkiejare gelede sy liefde vir haar verloor.

Sy besef ook hy het haar al talle kere verneuk, al het sy nooit enige inligting opgevolg nie.

Nou kry sy die eerste keer in haar lewe ’n werklike kans.

’n Kans vir geluk en opregte, ware liefde. Liefde in die vorm van haar pastoor Faan.

Sy weet haar hart is suiwer en sy en pastoor Faan het nooit gejol terwyl sy vrou geleef het nie.

Dit was vir haar te veel van ’n taboe.

Terwyl sy met dié gedagtes in haar kop baklei, kom ’n klop aan die voordeur.

Dis half ongeleë.

Sy wil hê sy en Karel moet na pastoor Faan toe gaan sodat die waarheid kan uitkom en hulle almal met hulle lewe kan aangaan.

Maar nou kom dié onderbreking. Sy hoor ook van die kamer se kant af die shower se krane is al toegedraai.

So, Karel trek nou aan en is ampertjies gereed.

Onwillig maak sy haar voordeur oop.

Sy val amper flou van skok toe sy sien wie daar staan.

Haar twee geliefde kinders.

Sy is baie bly om hulle te sien oor sy hulle ’n bietjie lank laas gesien het.

Maar langs hulle staan einste pastoor Faan dan!

“Nou, wat soek julle dan saam met pastoor Faan hier?” vra sy amper asof sy ál drie beskuldig.

Maar ’n ma kén haar kinders en sy lees in albei se oë hulle weet wat net sy en Faan voorheen geweet het.

Maar min besef sy dié drie weet wat ou Karel ook weet – maar nie sy wat Nella is nie.

Karel kom soos ’n wafferse laventelhaan in die sitkamer ingestap. Die grys hare netjies gekam.

Hy loop hom in die see van gesigte vas.

Min wetende dat die oomblikke van waarheid aangebreek het en lewens vandag dramaties gaan verander ...

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
3 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters