Verlede maand
Nella gaan staan op haar ou spot om lekker te chat
 ~ 

SONDER ou Karel se medewete is sy kinders besig om saam te span teen hom en sy bedrog van oor die jare. Totaal onbewus van al die dinge gaan ou Karel aan met sy online bedrywighede en geldmorsery. Sy jongste en blinkste plan is ’n wegbreeknaweek vol kinky seks en stoutigheid met ’n bloedjong bokkie wat hom weer goed laat voel. Waar gaan alles eindig vir Karel en sy gesin? Lees vandag verder aan CHRISTA PRINSLOO se verhaal wat sy ‘Dagboek van ’n Serial Dater’ noem.

ASIAN BEAUTY, a.k.a. Ellestine, kry haar foon uit haar handsak en maak gereed om die boodskap te stuur soos dit deur Sarel aan haar gedikteer word.

Haar oë rek toe sy luister wat dit is en sy dink dat sy nie kan glo hoe de hel in die man dan vir sy pa moet wees nie.

Die boodskap lees: “Hi, sexy. Ek het eintlik ’n baie beter plan as jy vir ons vakansie. Is jy open- minded en bereid om na my te luister met die voorstel?”

Toe Ellestine “Send” druk, vra sy nuuskierig aan Sarel: “Wat voer jy in die mou?

“Ek kan my eie ore nie glo nie!”

“Is jy dan so kwaad vir jou eie pa?”

Ellestine kyk op en sien hoe Sarel en sy suster sommerso regop gaan sit.

Sy besef sy het op baie sensitiewe tone getrap met dié vraag.

Maar voordat die broer en suster haar nog kan antwoord, hoor hulle haar selfoon piep. Dit kan net een ding beteken – ou Karel het nie op hom laat wag om te reply nie.

Irritasie borrel in Ellestine op as die eerste lyn boodskappe emoji’s is van ’n palmboom en rooi kloppende hartjies.

Dat die oupa op sy oudag nog so jags kan wees …

Geduld is seker die middelnaam van die game, besef die groepie om die tafel.

Hulle bestel elkeen nog ’n bier en wag soos geduldige vissermanne dat die vis aan die aas moet byt. Daarvoor wag hulle nie te lank nie.

Karel reply: “Honey, watse ander voorstelle het jy dan?”

“As jy ’n beter liefdesnessie kan kry, is geld nie ’n kwessie nie …

“Kan jy iets beters kry as ek?”

Sarel lees die boodskap toe Ellestine haar foon vir hom uithou.

“Nou, sien jy,” sê hy vir sy suster.

“Kyk hoe spandabel is die ou donner. Alles geld wat Ma en ons kon gehad het!”

Sarel vererg hom so dat hy half roekeloos raak.

“Sê vir hom om vir jou R50 000 in te betaal.

“Dan noem jy goeters soos ’n hot air balloon ride wat jy gaan organise …”

“... en gooi ook sommer ’n helikopter ride in wat julle sal vat na waar julle ’n sunset boat cruise gaan doen.”

“Liewe hemel, nou vra ons vir baie geld en begin hom rêrig melk,” sê Anel vir Sarel.

Sarel bly rustig toe hy sê: “Hoe vinniger ons kan klaarkry met die proses om pa te dwing om bos te los oor wat hy rêrig aanvang, hoe beter.”

Sy skud haar kop.

“Ek kry arme Ma baie jammer …”

Sarel antwoord: “Nee, moenie. Weet jy hoe ’n sterk survivor sy is?”

“Sy sal deur hierdie ding kom en sou nooit vir ons sê nie. Ons is eintlik nou besig om haar ’n guns te doen.”

Ellestine chip in: “Ek sê dan net weer vir julle jammer dat ek die een is wat so met julle daddy moet praat.

“Ek voel even skuldig, asof ek al rêrig met die ou sugar daddy gejol het.”

Broer en suster skud gelyktydig hulle koppe.

“Nee, moenie worry nie. Jy besef eintlik nie waste guns jy ons doen nie. Ons is hier besig om ’n einde te maak aan ’n leeftyd van bedrog teenoor ons mammie.”

INTUSSEN speel daar by ou Karel se huis ’n ander toneel hom af wat die twee kinders so sal skok dat hulle nie weet wat hulle tref nie.

Nella tip-toe op haar paar pantoffels toe sy na haar en ou Karel se slaapkamer toe sluip.

Sy weet ou Karel is al half doof, maar sy wil sowaar as vet nie dat hy haar hoor nie.

Sy loer in en kyk.

Nee wat.

Hy is heel verdiep in sy laptop.

Dis ’n prentjie wat sy so goed ken. Die ou kêrel met die deurmekaar en kroeserige grys hare, die half stukkende vest en die pajamabroek.

Geplant sit hy daar voor die laptop en staar daarna asof dit ’n magnetiese aantrekkingskrag het.

Ou Nella sluip weg so vinnig soos haar pantoffels haar voete kan dra.

Sy stoot die agterdeur in die kombuis oop en gaan buite toe.

Sy maak die deur saggies toe en gaan staan daar aan die verste kant van die agter-yard onder die appelkoosboom voordat sy haar selfoon uit haar voorskoot se sak haal.

“Hallo ...”

“Hallo ... pastoor ... pastoor Faan, is jy nog daar?”

Die godsman probeer soveel fluweel moontlik in sy stem sit toe hy aan die ander kant antwoord­: “Ja, my liewe Nella, ek is.”

“Ek wag dan ’n hele leeftyd vir jou ... So ’n bietjie airtime gaan mos nou nie rêrig saak maak nie, skat.”

Nella is heeltemal senuagtig toe sy sê: “Faan, is jy heeltemal seker dat niemand van ons weet nie?”

Aan die ander kant van die lyn lag die pastoor en sê: “Nee, Nella. Dis net ek en my gewete wat hiervan weet ...”

Nella gaan sit op die omgekeerde cooldrink-krat.

Haar chat-stoel, noem sy die krat, want dis hier waar sy elke dag so ’n paar gesteelde minute met haar crush oor die foon kom gesels.

Dinge tussen hulle het so twee jaar gelede verdiep toe past. Faan se vrou afgesterf het.

Dit was ook darem ’n skielike besigheid. ’n Hartaanval – net so en toe was sy weg.

Nella troos haar daaraan dat sy die aandag van hulle pastoor so baie waardeer omdat sy deur die jare vergeet het hoe dit voel as ’n man so ’n bietjie nice teenoor ’n vrou is.

Sy weet egter nie hoe om te verduidelik wat daai een aand gebeur het ná die biduur toe sy en pastoor alleen agtergebly het om die komende kerkbasaar te bespreek nie.

Nou loop sy met die geheim in haar hart rond en weet ook nie meer so lekker hoe om haar kinders te face nie.

Een ding weet sy vir ’n feit – vir ou Karel is sy niks meer lief nie.

Kom haal die doodsengel hom nou, sal sy even van haar spaargeldjies aanbied om die taxi fare te betaal daarvoor.

Wat die pad vir haar vorentoe inhou, is vir haar duister.

Half verslane, maar ironies genoeg ook half opgewonde, besef sy haar saai lewe soos sy dit ken, kan nie meer so aangaan nie. Presies wat sy moet doen, weet sy egter nie.

  • Lees môre die slot
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters