4 dae gelede
Ndlovu se woorde oor Smiley maak Jinx agterdogtig
Oom Sonnie
Oom Sonnie  ~ ~

HAAI, Sonlanders! Julia vat Jinx na die safe house­ waar hulle die kidnap-verdagte Smiley aanhou. Maar daar gekom, begroet ’n oorlogstoneel die twee. Julia se twee Interpol-kollegas is doodgeskiet. So ook die verdagte, Smiley, wat Jinx anyway sterk getwyfel het die baasbrein agter ’n kinderontvoeringsindikaat kon wees. Jinx kan nie anders as om te wonder watter gevaar Smiley vir sy killers kon inhou nie. Geniet nou hoofstuk 5 van ELDRIDGE JASON se “Skoonveld”.

JULIA staar verslae voor haar uit waar sy op die trappe van die safe house in Soneike sit.

Jinx se jacket is oor haar smal skouers gedrapeer. Skok en seer is op haar gesig te bespeur.

Haar maskara is ’n hele paar paaie in gehuil. In haar een hand klou sy ’n opgefrommelde tissue vas. Haar ander hand is in haar mond waar sy in gedagte besig is om aan haar goed gemanikuurde naels te kou.

Die hele gebied rondom die huis is met ’n polisielint afgesper.

Hier en daar loer die buurmense nuuskierig deur hulle vensters. Sodra hulle sien Jinx loer na hulle kant toe, maak hulle vinnig die blinds weer toe.

Jinx skud sy kop. Hy weet nou al dat dit glad nie die moeite werd sal wees om die bure ’n bietjie uit te vra nie.

Almal bly mos in hulle eie wêreld en groet skaars hulle bure. So, wat nog van die mense ken wat langs of oorkant hulle woon?

Dit vat nie ’n rocket scientist om te besef dat wie ook al vir hierdie slagting verantwoordelik is, het gekom vir Smiley nie.

Hier die ouens speel nie, dink Jinx. En hulle skroom ook nie om sommer ouens wat aan ’n internasionale polisie-agentskap verbonde is, af te haal nie.

Van internasionaal gepraat … Die media gaan weer ’n field day hê as hulle hiervan hoor.

Hy het anyway al klaar daai kaalkop-fotograaf opgemerk wat by al wat moordtoneel is. Hoe mense soos Leonard Snipe so gou van ’n ding te hore kom, weet die Vader alleen. ’n Mens het nog skaars gepoep, dan is dit al klaar voorbladnuus.

Waar mense soos Snipe is, is die dood nie ver van daar nie. Hy moet tog onthou om deur die loop van die aand met Snipe te gaan praat. Dalk het hy iets gesien of op sy kamera vasgelê wat hom van hulp sal wees.

Dan vang sy oog ’n beweging. ’n Kort, dik polisieman in volle uniform pyl met afgemete treë op hom af. Sy baas, brig. Tshabalala Ndlovu, met ’n diep frons tussen die oë. Duidelik op die oorlogspad.

Ndlovu se pikswart oë is donker poele van woede toe hy voor Jinx tot stilstand kom.

“Ek kan jou sommer nou al sê jy is in groot k*k,” skiet Ndlovu sommer uit die heup uit.

“Hierdie lyk soos ’n oorlogsone en ek moet by ’n konstabeltjie hiervan uitvind?”

Jinx vervloek konst. Lawack in die stilte.

Kon die klein ettertjie dan nie sy mond gehou het nie?

“Hierdie is Kuilsrivier se saak, Brigadier,” antwoord Jinx kortaf.

“Is ek nou in die k*k omdat ek protokol gevolg het deur hulle polisiestasie van die moorde in te lig?”

Ndlovu raak vaal-bleek om die kiewe.

“Daai mond van jou … daai mond van jou is te f*kk*n slim,” spoeg hy die woorde uit.

Hy draai om en wys na die toneel van bedrywighede rondom hom. “Hoekom is ek nie ingelig dat jy hierheen op pad is nie? En op wie se authority het jy anyway …”

Ndlovu bly stil toe hy Julia gewaar. Jinx merk hoe sy bevelvoerder se mond oopval en hoe hy sy oë ’n paar keer knip.

“Brigadier ’n spook gesien?” vra Jinx sarkasties.

Sy bevelvoerder gluur hom aan en loer dan weer na Julia.

“Wat ... wat soek sy hier?” vra Ndlovu en lek oor sy droë lippe.

“Is daar op haar ook geskiet?”

Jinx kan nie anders as om die worry in sy bevelvoerder se stem te hoor nie.

“Ja, Brigadier, sy was amper witbiene,” lieg Jinx.

“Sy is gelukkig dat al sewe honderd koeëls wat haar getref het al haar vital organe gemis het.

“Sy ly nog net aan skok, maar dis niks wat ’n goeie pomp en ’n double brandy nie kan regmaak nie.”

Ndlovu gluur Jinx aan.

“Saps se eie Trevor Noah,” kap Ndlovu terug.

“G’n wonder jou payslip is ’n grap en almal by die polisiestasie dink jy is ’n joke nie.”

“As ’n joke ooit ’n persoon was, kyk ek nou na hom,” sê Jinx, self nie op sy mond geval nie.

Ndlovu se oë vernou. Die twee mans staar mekaar woordeloos aan.

“Eendag, Jinx ...” sis Ndlovu.

“Eendag gaan ek alle protokol eenkant toe smyt en jou so hard donner dat jy na jou ma gaan verlang.”

“Jy en watter army?” vra Jinx uitdagend en bal sy vuiste.

Ndlovu merk dit op en staan ’n tree nader aan Jinx.

“Ek dare jou,” prewel Ndlovu.

“Maak my jaar, ek soebat jou. Ek sal nie eens vir Hugo vra om die polisie te bel nie.”

Etlike sekondes lank gluur die twee mans mekaar aan. Iemand wat vanaf ’n distance na die prentjie sou kyk, sou nooit kon glo die twee mans was eens op ’n tyd bloed-brasse nie.

“Hallo, Tshabalala.”

Hulle swaai verbaas om toe Julia se stem naby hulle opklink.

“Hoe lyk dit dan julle twee lovers het ’n quarrel?”

Ndlovu gee ’n verleë laggie. “Nee, wat laat jou so dink?”

Voordat Julia kan antwoord, gaan hy voort: “Is jy oukei? Hierdie moes natuurlik baie traumaties vir jou gewees het.

“Nie net het jy jou kollegas aan die dood afgestaan nie, maar toe kry jy nog ’n vasgemaakte Smiley ook dood.”

Ndlovu sit sy een hand besorg op Julia se skouer en lei haar weg van Jinx. Ndlovu se hand hang op Julia se skouers asof dit daar hoort, maar dis nie wat Jinx pla nie.

Ndlovu se woorde spook by hom. Lawack kon Ndlovu nie ingelig het van die moordtoneel nie. Niemand behalwe hy en Julia weet hoe die toneel lyk nie.

Die kamer waar Smiley dood lê, is afgesper en daar word gewag vir ’n gespesialiseerde forensiese span van Kaapstad-Sentraal om die toneel vir leidrade te fynkam. So, hoe weet Ndlovu hoe daardie toneel lyk as hy nou eers hier aangekom het?

Jinx haal sy selfoon uit en skakel hulle polisiestasie se nommer. Lawack antwoord byna dadelik, iets wat diep ongehoord by veels te veel polisiestasies is.

“Djy, watse k*k vertel djy die bossy?” val Jinx grof met die deur in die huis.

Daar is ’n oomblik stilte, dan antwoord Smiley: “Met alle re­spek, ek weet nie wat Kaptein gerook het nie, maar ek het dae laas met daai bevelvoerder van ons gepraat.”

  • Lees Maandag verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters