Verlede maand
Ná die funksie loop die duiwel sekelstert rond
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Geniet JASMINE UYS se kortverhaal “Die Noodlot”.

DIT is lank ná middernag toe Rose en Clive op pad is huis toe.

Hulle is baie betrokke by die jeug van hulle kerk, die VGK in Delft. Hulle doen hulle bes om leiding te gee en die jongspan weg te hou van drugs en gangs.

Hulle weet goed van die versoekings daar buite en hou gereeld speletjiesaande, karaokes en gesellighede om die jongspan besig te hou. Hulle sê mos ledigheid is die duiwel se oorkussing.

Dis juis van só ’n geselligheid dat hulle nou op pad huis toe is.

Rose en Clive wens so hulle kon meer doen om die mense van Delft te help. Werkloosheid is erg, en hoeveel kinders gaan nie honger skool toe nie?

Hulle groot droom is om geld in te samel vir ’n gebou waar hulle werkloses kan help om hulleself te help.

Hulle glo elkeen het ’n talent of gawe waarin hy uitblink. Of dit nou houtwerk, naaldwerk, brei, bak, kook of wat ook al is.

As hulle dit kan ontwikkel en dit in ’n besigheid kan omskep, kan dit werk skep en die jeug van die straat af hou.

Miskien kan hulle so een keer per maand alles wat hulle gemaak het in hulle kerksaal verkoop en die wins in die besigheid inploeg totdat hulle gevestig is.

Dit klink dalk vergesog, maar begin alles nie met ’n droom nie?

Hulle sal net hard moet werk om hulle droom te bewaarheid.

Daar is baie talent in hulle gemeenskap wat ontgin kan word.

Daar is ’n hele paar sportiewe jong mense ook. Miskien kan hulle selfs ’n sokker- en netbalspan op die been bring.

Clive raak sommer weer van voor af opgewonde oor hulle planne.

Hulle skrik hulle yskoud toe ’n weerligstraal skielik die lug klief. Albei was so ingedagte, nie een het gesien ’n storm broei nie.

Clive kan homself skop dat hy so laat gery het.

Hy weet goed hoe gevaarlik dit op dié pad is. Dis selfs erger in sulke weer. Dan loop die duiwel mos sekelstert rond.

Menige mens is al op dié pad gerob, gehijack en selfs vermoor. Hy sal net voet in die hoek moet sit en vir die beste hoop en bid.

Hulle wou so graag voor middernag by die huis gewees het, maar die atmosfeer was so gesellig en hulle het dit so geniet dat hulle skoon van die tyd vergeet het.

Donker, onheilspellende wolke pak nou saam. In die verte rammel die donderweer. Die wind suis deur die bome.

’n Flentertjie maan loer skamerig agter die wolke uit. Iewers huil ’n uil “hoe-oe-oe”.

Rose en Clive voel kriewelrig en kry albei hoendervleis. Hulle onthou hoe die oumense altyd gesê het ’n uil is ’n bad luck-ding.

Nie een van hulle waag om hulle gedagtes hardop uit te spreek nie.

Ag, dis sommer net bygelofies, dink Clive. ’n Uil is net ’n voël.

Die donderweer kom nou ál nader. Elke keer swiep ’n weerligstraal deur die lug.

Die flentertjie maan het ook nou onder die wolke verdwyn, asof hy skaam is om weer sy gesig te wys.

Clive trap verskrik rem toe die motor se ligte op ’n babawiegie voor in die pad val.

Hy en Rose is albei lam van die skok. Clive het net betyds gestop.

Rose kry eerste haar stem terug: “Clive! Dis ’n wiegie! Maa’ hoe? Wat maak ’n baba se wiegie hier in die middel van nêrens?!”

Voordat Clive nog kan antwoord, ruk Rose die motordeur oop en hardloop na die wiegie toe. Haar moeder-instink het nou ingeskop.

Al is Clive se bene nog lam van skok, spring hy ook uit en hardloop agter Rose aan.

Hy is skaars uit die motor, toe kom drie donker figure uit die bosse te voorskyn.

Rose en Clive vries in hulle spore en snak na hulle asem.

“Wie is julle!?” waag Rose dit toe een van die figure voor haar kom staan.

Hy is lank en het ’n beanie op en ’n lang jas aan. Hy streel saggies oor haar wang. “Hosh, ouense, kyk wat het die wind hie’ vi’ os aangewaai! ’n Lekka kind!”

Rose klap sy hand vies weg. “Hou jou hande van my af,” sis sy.

“Wow, sy’s nogal astrant, hè!?”

Clive staan dreigend nader, maar een van die ander, ’n ou met ’n grys tracksuit aan, gryp sy arm.

“Staan vas, djy! Waa’ dink djy gaat djy heen? Ko’ maak sjap! Gie jou wallet! Os soek djou kaart se pin ôk. En waa’ issie kar se keys?”

Die derde ou staan als stil en bekyk. Hy’t ’n faded blou jean en hoodie aan.

Clive wikkel hom los uit die skurk se greep, maar kry ’n harde hou in die maag. Rose gil onwillekeurig.

“Shut up, jou witch!” snou die ou met die lang jas haar toe en klap haar hard deur die gesig.

Clive kyk magteloos toe en begin saggies bid: “Hemelse Vader, help ons asseblief? Ons is u kinders. Beskerm ons met u kosbare bloed, asseblief!”

“Bly stil! Julle moes eerder daaraan gedink het om nie so laat dié pad te ry nie! Weet julle nie dis gevaarlik nie? Julle kan gerob, gerape en selfs vermoor word.”

Hulle lag kliphard vir hulle eie flou jokes.

Die donderweer slaan skielik oorverdowend. Almal wip soos hulle skrik. Die ou in die faded jean lyk half ongemaklik in die lig van die flentertjie maan wat weer kom gesig wys het.

“Ouens, ek dink ons moet liewerste die mense los! Ek likes nie die converted ouense nie!

“Hulle is bad luck! Kô ôs kap liewerste aan!”

“Hei, Boetie, moenie kô chicken wiesie, man! Ôs hit die jackpot en djy wil kô chicken wies! Is djy mal in djou kop?!”

“Nei, Pieta, issie dit nie. Ekke sê maa’ net!”

Dis duidelik Boetie is skrikkerig vir die ander skurke.

Skielik begin dit hard reën. Die skurke trek vinnig hulle beanies laer oor hulle kop.

Clive beweeg nader aan Rose, maar sy ruk los en hardloop die bosse in.

Pieta ruk ’n vuurwapen uit en begin op Rose skiet, maar in die donker is sy aim heeltemal uit.

Die wind is nou byna stormsterk.

Clive probeer die gun uit Pieta se hand klap. ’n Skoot gaan af. Die lang ou met die jas sak met ’n gil in ’n plas bloed neer.

Boetie is byna histeries: “My broe’, wat het djy gemaak?! Ek’t djulle gesê die converted ouense is bad luck, maa’ julle wou mossie horie! Kyk wat het gehappen!”

“Shut up en help my om ou lange innie kar te kry! Ôs moet hom by ’n hospitaal kry!”

Clive hardloop agter Rose aan die bosse in. Die storm woed nou in al sy felheid. Dis asof die natuur kwaad is.

Met ’n groot gesukkel kry die skurke hulle gewonde maat in die kar. Net toe hulle die enjin start, tref ’n weerligstraal die motor. Dit slaan aan die brand.

Die volgende dag basuin Son op Sondag dit uit: “Couple ontkom wonderbaarlik aan dood in hijack-drama. Most wanted criminals verkool mysteriously in motor.”

  • Die einde

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters