6 maande gelede
’n Vreugdevolle Krismis wink vir Riemvasmaak
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Kinna probeer Doppies troos nadat die jongens hom tot ’n gruwelike daad gedwing het. Stiena se gebede vir uitkoms word op ’n onverwagte manier verhoor toe Giffie die pad vat Joburg toe. Ná ’n nag van drama word die donker wolk wat oor Riemvasmaak hang, verjaag. Nicolette Fouldien noem dié verhaal Krismis­ in Riemvasmaak­. Geniet die laaste hoofstuk.

‘NIEEEE! Dhophies willie! Los vi’ Dhophies!”
Hulle lag en gooi die rooi karretjie vir mekaar terwyl Doppies dit desperaat probeer vang.

“Gie Dhophies se phlesent! Gie! Dis Dhophies sinne.”

Die stem snikhuil nou.

“Gaan Doppies doen wat ons sê?”

Die een hou die rooi karretjie na Doppies uit en trek dit terug sodra Doppies dit probeer vat.

“Gaan Doppies doen wat ons sê?” herhaal hy gebiedend.

Doppies knik en laat sak sy ken op sy bors.

“Nou kom! Doppies kan sy present kry sodra hy klaar is. Reg so, Doppies?”

Hy knik verwese.

Hulle help hom op en du hom voor hulle uit.

Hulle lag as sy sleepvoet vashaak en hy hikkend in die stofgrond neerslaan.
BETTA sit in die donkerte op haar flenter rusbank. Sy het nie vanaand krag om in haar bed te klim nie.

Sy is moeg. Moeg van die lewe. Moeg van die verlange en moeg van Riemvasmaak.

Dalk moet sy dit vanaand doen. Al die pille gelyk sluk. Sy wil nie Krismis sien nie. Dis die slegste tyd van die jaar. Sy voel op haar alleenste.


KINNA skrik nie toe die deur saggies oopgaan nie. Sy is dit te wagte. Hulle fluister, dan hoor sy die bekende geskuifel.

Sy beur vervaard regop, maar hulle druk haar met mening plat. Hou haar vas toe Doppies op haar neersak.

“Dis orrait, Doppies. Dit is nie jou skuld nie, Doppies!”

Kinna voel afsku vir die mens voor haar, maar sy onderdruk dit met al haar mag. Doppies is onskuldig.

Sy weet nie hoeveel sy brein kan inneem nie, maar sy kan sien hy vat dit swaar. Hy wou haar nie seermaak nie.

Hulle het hom gedwing. Hulle wou net hulle siek speletjie opwindender maak.

“Ek is nie kwaad vir jou nie, Doppies. Regtig. Ek is nie,” probeer sy troos toe ’n groot traan oor sy wang biggel.

“Moet ek vir ons koffie maak? Is Doppies honger?” Doppies skud sy kop heen en weer.

“Dhophies nie eet nie. Dhophies siek.”

Kinna weet hy bedoel eintlik hy voel sleg. Haar trooswoorde het opgedroog.

Dis die eerste keer dat Doppies kos van die hand wys.

Die dag begin rooi breek in die ooste. Hy beur orent en sy staan nader om hom op te help. Sy loop saam tot by die hekkie.

“Dhophies jammer,” prewel hy koponderstebo en hou iets na haar uit.

Hy loop sleepvoet weg terwyl sy verbaas staar na die rooi stokkielekker in haar hand.


STIENA kyk na die lig wat deur die venster skyn. Dis al dag en Giffie het nie huis toe gekom nie.

Dis die eerste keer dat dit gebeur. Sy beur bekommerd orent en trek haar kamerjas aan.

Sy skakel die ketel aan. Die tweeling slaap nog. Dis haar eerste vakansiedag, maar sy kan nie laat lê nie.

Sy voel onrustig oor Giffie. Sy bord kos staan nog net so op die tafel. Sy tel die vyftigrandnoot langs dit op en staar dan verbaas daarna. Dis nie geld nie. Dis ’n stukkie papier!

Sy stoot saggies die deur oop en stap na buite. Sy vou die briefie oop.

Sorry oor alles, Stiena. Ek het ’n groot shipment van Killer gesteel en moet my uit die voete maak of hulle haal my af.

Ek gaan vir ’n tyd lank weg. Dalk Joburg toe. Kyk mooi na die laities.

Ek sal eendag weer terugkom. Kyk in die kas. Ek het vir julle ’n paar duisend rand gelos.

Dis sal genoeg wees vir ’n lang ruk. Killer-hulle sal nie weet nie. Hulle ken ons twee se storie. Ek is lief vir jou en sal altyd wees.

Sy het so gebid vir uitkoms. As dit is wat God vir hulle wil hê, so be it.

Sy skeur die briefie fyn en flenters en laat dit wegwaai in die ligte oggendwind. Sy gaan na binne, maak twee koppies koffie en stap daarmee na ant Betta toe.

Vanoggend moet die ouvrou maar met haar raas. Sy het geselskap nodig.

Stiena stoot die deur met haar voet oop. Die koppies val uit haar hande. Ant Betta se kop hang skeef teen die bank se reling. Die pillehouer lê leeg op die grond.

Stiena gil hoog en hard.

Later bewe sy steeds toe die ambulans in die verte verdwyn. Sy is kwaad vir haarself en ant Betta.

Hoe kan ant Betta so onverantwoordelik wees om al die pille te sluk? As sy geweet het, sou sy nooit die pille gegee het nie. Sy was net bekommerd oor die antie altyd so kla van haar jigbeen.

Gelukkig sal sy leef, het die paramedic haar verseker. Die pille is nie dodelik nie, hulle sal net haar maag moet leeg pomp.

Stiena sug swaar. Ai, as die dag eers so begin. Sy draai om na Kinna, wat verwese agter haar staan.

“Toe maar, Kinna, ant Betta gaan okay wees. Haar kinders is op pad hospitaal toe.”

Kinna knik en staar in die verte.

Albei ruk van skrik toe sirenes opklink.

“Wadde duiwel ...?” mompel Stiena.

Drie vangwaens stop in gelid by ant Sannie se sinkhuisie op die hoek.

“Kom!” Stiena trek Kinna agter haar aan.

“Wat het gebeur?” fluister-vra Stiena vir ’n vrou in die skare.

“Ons weet nie. Hulle praat van Sannie se twee klonge wat dood gekry is in hulle beddens.

“Ek het nou nie self gesien nie, maar blykbaar is stokkielekkers deur hulle oë tot in hulle brein gesteek.”

Die vrou gril. “Lyk na duiwelswerk. Hulle was gruwelike klonge, Hentas en Coenie. Altyd in die moeilikheid, maar bitterlik bederf.”

“Ek het mos altyd gesê Sannie maak hulle vir die verderf groot. Kyk nou net,” sê ’n ander vrou.

Stiena hoor hulle skaars. Haar oë volg die sleepsel op die grond tot by die stukkende rooi plastiekkarretjie.

Die volmaan hang swanger aan die hemelruim. Riemvasmaak se sinkhuisies skitter en weerkaats soos sterre in die donker. Die bose miswolk is weg.

Die vrede is voelbaar. Almal slaap rustig. Môre is dit Krismis in Riemvasmaak.

  • Slot
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters