Verlede maand
’n Vreesbevange Floors hoor gehuil van vrou en dier
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Floors is nou in ’n helse ding nadat sy neef Danie hom oorreed het om hom en Loukie te join in hulle soeke na “klippies”. Bewaker van Donkerhoek is GWENDOLINE KORDOM se jongste pennevrug. Geniet nou hoofstuk 3.

’N RUKWIND slaan hier tussen hulle op en gooi Danie van sy voete af.

Die lig wat uit die flitse straal, verdwyn in ’n oogknip.

Die gille van ’n vrou weerklink oor die kranse. Floors is met een beweging op sy voete. Sonder omkyk nael hulle drie vir die hek.

Agter hulle dreun die aarde. Floors voel die harde asemhaling van een wat in sy nek blaas.

“Moenie omkyk nie!” gil Floors.

Langs hulle kraak die bosse. Die gedreun van die aarde word al hoe harder. Blitse skiet deur die lug.

Die rukwind waai tolbosse verby sy bene. Hy ruik die grond en hoor die deurmekaar gehuil van vrou en dier. Sy bene is na aan knak.

Die bakkie verskyn uiteindelik soos ’n uitweg. Hulle spring soos een man in die kajuit.

Danie kry die enjin aan die gang en trek met ’n stink spoed weg.

Loukie klou vir lewe en dood aan hom. Net voordat die bakkie se ligte na regs flits, sien Floors die figuur.

Die vrou is heeltemal in swart geklee. Sy staan by die hek waar hulle so pas uitgestorm het.

Hy kyk na Danie, maar dié se oë is op die pad gefokus.

Loukie sit met toegeknypte oë styf teen hom vas gewikkel.

Toe hy vir oulaas terugkyk, is daar geen teken van ’n vrou in die donkerte nie.

Die skielike donderstorm het verdwyn.

’n Ongemaklike stilte heers tussen hulle drie. Dis asof elkeen op sy eie probeer sin maak van die chaos wat pas gebeur het.

Floors tuur deur die voorruit en sê: “Volgens my oupa se vertelling is die vrou –”

“Bly stil, Floors! Ek wil dit nie hoor nie,” kners Danie tussen sy tande deur.

“Die spookgedaante wat hier heers,” voltooi Floors sy sin.

Danie trap die remme onverhoeds. Dit veroorsaak dat Loukie en Floors teen die paneelbord kantel.

“Ek het jou gewaarsku, Floors. Rek nog net eenkeer jou snawel oor ’n spook en jy stap die res van die pad huis toe.

“Verstaan ons mekaar?”

Danie se oë skroei oor sy gesig in die flou lig.

Floors kyk hom vreesloos aan voordat hy stadig terugleun.

Hulle ry in stilte verder. Danie stop by Jan se Draai, waar Loukie soos ’n verskrikte haas uitspring sonder om te groet. Hy kyk ook nie terug nie.

Arme Loukie se vet lyf verdwyn en word een met die nag.

Die stilte broei tussen hulle. Toe Danie voor sy huis stop, spring Floors vinnig uit.

“Floors, ek het nie bedoel om lelik te wees nie,” sê Danie.

Floors gooi die bakkie se deur toe en storm na die voordeur.

Danie kan in sy moer vlieg. Hy vroetel met die slot. Voordat die deur onder sy hand oopswaai, loer hy vir oulaas oor sy skouer.

Die bakkie staan en luier nog voor die hek.

Danie verwag seker hy moet iets sê. Hy sal nie.

Danie het hom soos ’n kind voor Loukie behandel. Hy is niemand se kind nie.

Hy smyt die voordeur toe en sluit dit met ’n besliste beweging.

Hy hoor hoe die bakkie met skreeuende bande wegtrek.

Hy was nog nooit bang vir spoke nie. Maar ná vanaand ... ’n Koue rilling skiet onverwags deur sy lyf.

Hy skakel die lig blitsvinnig aan. Die voorhuis lyk presies soos hy dit vroeër die aand gelos het.

Hy beweeg na die kombuis. Alles lyk in orde. Hoekom voel hy dan so bang? Is dit moontlik dat die gedaante hom gevolg het?

Nadat hy seker gemaak het alles is gesluit, beweeg hy na sy kamer.

Terwyl hy ontklee, dwaal sy gedagtes.

Die toerusting en flitse lê nog in die gat waar hulle gegrawe het.

Wanneer hy nou daaraan dink, besef hy hulle het blitsig gehol.

Vrees is wragtig ’n ander ding. Hy het in sy lewe nog nooit so bang gevoel nie.

Vir hom het dit geklink of ’n haelstorm rondom hulle losbars.

Jislaik, die gedaante was seker kort op sy hakke.

Dit was seker die warm asem wat hy in sy nek gevoel het. Sy nek kriewel opnuut. Hy klim in die bed.

Hy soek na sy pyp en onthou dit lê op die tafel in die voorhuis.

Demmit! Niks of niemand kry hom weer uit die bed nie. Nie eens ’n verdomde pyp nie.

Net voordat Klaas Vakie sy oë toedruk, tref iets hom.

Hy het nooit vir Danie oor die diamant gevra nie. Dalk het hy dit in die chaos verloor. Dalk nie.

Met ’n man soos Danie sal hy nooit die waarheid weet nie. Al vra hy ook die bliksem.

Hy verval in ’n droomlose slaap.

DIE volgende dag, so teen die middag, sit Floors op die stoep.

Hy druk sy laaste bietjie tabak in die langsteelpyp. Sy gedagtes luier rondom gisteraand se gebeure. Rillings trek deur sy lyf.

Boonop moes hulle met leë hande huiswaarts keer. Of dalk het Danie nog die diamant. Hy sal netnou ’n draai by hom gooi.

Hier waar hy op die stoep sit, het hy ’n goeie uitsig oor die veld.

Hy kyk gesteurd op toe sy voorhek kraak.

Jorsie, sy buurman, kom met die smal sementpaadjie aangestap.

Sy liggaam is vooroor geknak van krankheid. Hy verseg om ’n kierie te gebruik.

Hy wou sy laaste bietjie twak in vrede rook. Praat van ontydig.

Sy blik dwaal oor Jorsie se blinkgeskeerde kop en sy verrimpelde gesig. Ná Fien se dood het die arme drommel agteruitgegaan.

Die eensaamheid loop soos ’n skaduwee langs hom.

“Dag sê, ou mater.” Jorsie gee hom ’n hou agter die blad.

Sy kekkellaggie waai oor die stoep. Hy plak homself op die riempiestoel neer terwyl Floors nog na asem soek.

Die string vloekwoorde in sy woordeskat bêre hy liewer vir ’n dag wanneer hy gesuip is.

Jorsie hou sy hand uit vir ’n skuif. ’n Wreweligheid wel in Floors op.

So kan dit nie aangaan nie. Hy ignoreer die hand, knyp die pyp tussen sy tande vas en steek dit aan. Terwyl hy ’n paar lang trekke neem, voel hy Jorsie se oë op hom.

Hy blaas die eerste teug in bondels verby Jorsie se verleë bakkies. Dit kom mos van orig wees.

“Sampie vertel hy het gisteraand Danie se bakkie by Jan se Draai gewaar. Volgens Sampie was hy eers hier by jou?”

Floors verstyf. Is niks in dié plek dan ooit ’n geheim nie?

Toe hy weer ’n teug neem, verstik hy hom byna in ’n koma.

Tot sy ergernis dam Jorsie hom weer tussen die blaaie by. Hy kry oplaas sy asem terug en gee summier die pyp af.

“Hy wou hê ek moet saamry. Iets aflewer,” lieg Floors.

“Iets soos wat? En waar?”

“Ek het nie gevra nie. Ek was in die bed toe hy hier aankom.”

“Floors, jy sit en lieg mos nou soos ’n tandetrekker.

“Volgens Sampie het jy saam met hom in die bakkie geklim.

“Met watter skema is Danie nou weer besig?”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters