Verlede maand
’n Vet surprise wag vir Waanie in die kardoes
Oom Sonnie  ~ 

HAAI, Sonlanders! Waanie is verlig toe hy en Cynthia daarin slaag om Denzil te oortuig dat hulle ’n couple is. Denzil is toe sommer meer as gretig om die paar duisend rand aan Waanie te gee. Maar is hy besig om ’n lat vir sy eie stert te pluk? Geniet die voorlaaste hoofstuk van ELDRIDGE JASON se “21 Dae”.

WAANIE kan sy oë nie afhou van die kardoes wat Denzil na hom uithou nie.

“Maak dat julle wegkom voordat die motjie sien,” sê Denzil gejaagd.

Daar is ’n gulsige blik in Waanie se oë toe hy die sakkie vat.

“Nee!” keer Denzil toe Waanie die sakkie wou oopmaak. “Is jy mal om die geld hier uit te check?

“Wil jy hê Naomi moet sien en weet waar die geld vandaan kom?

“Jy maak dit nêrens oop nie. Nie eens in die straat nie, want as die gattas jou sien, gaan hulle dink jy het dit gesteel.

“Gaan kry die drank. Gaan! Loop nou!”

Waanie en Cynthia draai daar om en vlieg weg met ’n vaart. As vanjaar se Olimpiese Spele nog in Japan aan was, het hulle beslis die naelloop-span gehaal.

Denzil kyk hulle al kopskuddend agterna. Daai twee laat aasvoëls soos amateurs lyk, dink hy. Hy draai om en stap die huis binne.

“Houston, we don’t have a problem anymore,” skree hy vrolik toe hy die huis binnestap.

Naomi kom tot in die sitkamer gestap, haar hare propvol gekleurde rollers.

“Is die pakkie gedeliver?” vra sy met ’n smile. “Het hulle niks onraad vermoed nie?”

“Hoe ken jy my, vrou?” vra Denzil kamma-likes ontsteld. “Ek weet nie wat die ergste was nie: Waanie wat glo dat ek gesuip van daai eina nippie brannas kon raak, of hulle haastigheid om met my geld te verdwyn.”

Naomi grinnik. “Al die credit kom jou darem ook nie toe nie, hoor!

“As jy nie met ’n slim en wake-up vrou getroud was nie, was jy vandag R3 000 armer. Eintlik verdien ek ’n medalje vir dit wat ek vir jou gedoen het.”

Denzil lag, en begin kliphard te sing: “You’re so vain.

“You probably think this song is about you.

“You’re so vain.

“I’ll bet you think this song is about you.

“Don’t you?

“Don’t you?”

Naomi begin kliphard te lag. “Dis oor jy so van wyn hou dat jy dink ek is vain, nè?

“Maar alle grappies op ’n stokkie. Is jy seker hulle gaan die plan volg?”

Denzil knik. “Vrou, ek en jy weet Waanie sal nooit breinkanker kan kry nie, want hy het eenvoudig nie ’n brein nie.

“Glo my, hy gaan eers daardie kardoes by daai kamstige pastoor Koppe se plek oopmaak en dan spat die k*k.”

Die twee bars uit van die lag. Die een happier as die ander.

“Righto,” sê Denzil ná ’n ruk. “Waar is daai drank wat jy sedert laas jaar se kerkbasaar weggesteek het?”

WAANIE en Cynthia is skoon uitasem toe hulle voor Koppe se groot staalhek tot stilstand kom.

Daar was nie ’n ander connection soos wat Waanie vroeër aan Denzil gelieg het nie. Al mens wat nog kans sien vir hom en al sy skelmstreke en schemes, is Koppe. Koppe wat nou pastoor gedraai het, maar ook nie wil ophou wandel op die breë sypaadjie nie.

“Moet ons nie eers die geld check nie?” vra Cynthia uitasem.

Waanie skud sy kop heftig. Daai gaan nie werk nie, dink hy. Dan gaan Cynthia sien hoeveel geld daar is en dan besef hy’t haar ’n kop aangesit.

Met Koppe kan hy nog redeneer en negotiate, maar Cynthia ... sy is ’n ander een wat niks gaan wil verstaan nie.

“Ons hou by die plan,” antwoord Waanie kortaf en klop weer aan die staalhek. Hierdie keer harder en dringender.

“Klop nog net een keer, nog net een keer ... dan is jy in jou tjops,” sis Koppe vanaf die anderkant van die staaldeur.

Waanie en Cynthia loer verskrik na mekaar. Beide besef dat Koppe elke liewe woord bedoel.

’n Sleutel knars in die staaldeur toe dit opgesluit word.

’n Hand skiet na buite, kry Cynthia aan die arm beet en trek haar onseremonieel na binne.

Waanie vat ’n laaste loer, klem die kardoesie stywer vas en stap dan na binne.

Hy wip toe die hek soos ’n seldeur klink toe dit agter hom gesluit word.

Cynthia ruk haar uit Koppe se greep los en gee hom ’n panga-kyk wat menige mens sal neervel.

“Jy moet lekker vir my kyk,” sê Koppe en grinnik. Hy loer na die kardoes in Waanie se hand.

“Ek neem aan jy het my starter pack gebring?” vra hy.

Waanie knik. “Kan ons iewers privately gaan gesels?” vra hy.

“En ekke?” vra Cynthia in daai krapperige stemtoon van haar.

“Moet ek hier buite sit en my tone tel?”

Koppe snork hard deur sy neus en loer af na Cynthia se voete. “Weet jy, Cynthia, as ek sulke lelike tone soos joune gehad het, sou ek dit nie eens gemention het nie.

“Sit maar eerder op die stoep en tel die voëls wat almal hier verbyvlieg.”

Cynthia maak maar mond oop om iets te sê, maar Waanie waarsku haar met sy oë om eerder stil te bly.

Koppe draai sy rug op die twee en stap sy huis binne.

“Ek het nie heelaand tyd nie,” sê hy oor sy skouer.

“Bly hier,” fluister Waanie aan Cynthia. “Bly hier of jy kan maar vergeet van jou kroon.”

Cynthia lyk soos ’n beteuterde kind wie se toys afgevat is, maar sê nie ’n woord nie. Sy knik net stram.

Waanie stap haastig agter Koppe die huis in. Alles verloop nog volgens plan, dink hy ingenome.

Binne die huis merk hy met verbasing op hoe luuks dit lyk.

Koppe het hom nog nooit allow om in die huis te kom nie. Nou kan hy sien hoekom.

Van buite af lyk dit maar doodgewoon en nes al die ander asbesdakhuise in die straat.

Maar aan die binnekant lyk dit of Koppe eintlik maar in ’n mansion in Plattekloof bly.

Crime is goed vir Koppe, dink Waanie vol bewondering.

Koppe vryf sy hande ingenome teen mekaar. “Ek hoop daai is die volle bedrag van daai sound-bokse wat jy van my gesteel het. R2 000?

“Ek wil jou net waarsku dat ek nie jokes maak nie. Ek gaan ’n saak teen jou maak, en jy en daai lekke holle van jou gaan glad nie un­harmed in die tronk survive nie, daai kan ek nou al vir jou sê.”

Waanie sluk swaar aan die knop in sy keel en hou dan die kardoes na Koppe toe uit.

“Die geld is daar,” sê Waanie in ’n piepklein stemmetjie. “Maar daar is nog kroon van my ook by wat ek vergeet het om uit te haal.”

Koppe gryp die sakkie en maak dit oop en loer na binne.

“Is hierie ’n f*kk*n joke?” vra hy dan kwaad.

  • Môre: Slot
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters