12 dae gelede
’n Verestoffertjie gee Karel amper ’n hartstilstand
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Hy is die tipe wat niemand tog ooit as sy dedda of oupa wil hê nie. Ou Karel van der Heuvel is ’n vieslike ou kalant. Grys in die jare, maar o tog, so ernstig katools in die broek. Hoewel hy en die antie al donkiejare getroud is, was dit oor die dekades nog altyd so ’n louwarm affêre wat intussen net ’n gewoonte is. Ou Karel het sweerlik al ’n 100 of selfs meer voorvalle van egbreuk onder die belt. Begin gerus vandag lees aan CHRISTA PRINSLOO se verhaal wat sy “Dagboek van ’n Serial Dater noem”

KAREL staan op uit sy kooi.

Die geboë oumans­figuur in die belaglike pak pajamas skuifel flink oor na die lessenaar in sy kamer.

Dis skuins ná twee-uur in die oggend.

Buite is dit grafstil.

Behalwe vir die straatligte is dit pikdonker.

Hy vroetel in die stikdonkerte en dan gaan die studeerlamp aan toe ou Karel eindelik die knoppie kry om dit aan te skakel.

Karel maak tydsaam sy laptop oop.

Dis ’n lang password wat hy intik.

Amper soos ’n jakkals wat uit sy skuilplek loer, kyk Karel in die rigting van die bed.

Antie Nella lê egter tjoepstil opgekrul in ’n grys bondeltjie en slaap op haar kant van die kooi.

Sy snork saggies.

Ou Karel se harige ore is nog lank nie doof nie.

Hy hoor die gesnork van ant Nella en dit irriteer hom.

Ironies genoeg is ant Nella die wonderlikste vrou op hierdie aarde.

Sy is iemand wat nie eens ’n vlieg skade sal kan aandoen nie.

Sy is een van daai anties in die straat wat altyd ’n ietsie te ete in ’n stukkie papier sal toedraai vir dié wat dit nodig het.

Die skarrelaars weet ook alte goed.

Hulle sal daar voor die huis kom uithou sodra ou Karel in sy silwerkleurige kar gery het.

Want die “ou drol”, soos die skarrelmense hom noem, het ’n vieslike gewoonte as hy hulle wegjaag.

Hy doen dit op ’n manier om hulle in te sê en dis vir niemand lekker nie.

Karel tik die website in op sy laptop en daar kom ’n trek van ongeduld op sy ou gesig.

Dis een van menige dating websites waarop Karel is.

Die ou kalant is – glo dit of nie – ’n serial dater.

Hy is sekerlik die oudste catfish in die kuberruimte.

Maar moenie hom sommer net afskryf nie.

Ou Karel het ’n hele klomp truuks en het al ’n klomp vroue ingekatrol soos ’n behendige hengelaar­ langs die viswaters sou doen.

Die sadste gedeelte is dat ant Nella op hierdie aarde niks vermoed nie.

In ál haar naïewe jare het sy nog vas geglo dat Karel bitter hard werk.

Selfs ná sy aftrede.

Wat die antie egter nie weet nie, is dat Karel vir haar lieg.

Nog van altyd af.

Kort nadat hy as doodgewone kantoorwerker by die munisipaliteit afgetree het, het hy maar ’n heel average pensioentjie begin kry.

Dit sou hom en die antie nie juis ver gebring het nie.

Maar Karel raak toe lucky die een dag toe hy lotto jol.

Hy wen toe mos net so R4 miljoen.

Dié het hy belê, wat die pensioen netjies aanvul, sonder dat hulle ooit sal suffer.

Vir die antie het hy vertel hy het begin met ’n online besigheid.

Koop en verkoop.

Maar net toe Karel begin om die kaarte te skiet, het ant Nella haar afgeskakel.

Want ná donkiejare van huisvrou wees, weet sy absoluut niks van die internet af nie.

Hulle oudste seun, Charles, moet dan elke keer as die antie ’n nuwe selfoon kry, haar phone kom instel sodat sy ma basies net kan bel en boodskappe stuur.

Die jare het egter nie vir ou Karel in die kop geskiet wat die tegnologie betref nie.

Met elke hashtag en selfie trend en nuwe tegnologiese verbetering het hy bygehou soos ’n jong laitie.

Maar Karel doen dit ook omdat hy op sy baie dating websites moet klink soos ’n jong ou.

Die enigste ding wat hy egter nie doen nie, is om video calls te vat van die menigte wat hom bel vanaf die Russian dating site.

Hy sien nie kans dat daai mooi katjies vir hom uitlag nie.

Met hulle bly hy net op die sweet talking line sodat hulle maar hulle verbeelding kan gebruik oor hoe die man lyk.

Maar hier op die local dating sites het hy iets anders agtergekom.

Daar is wragtig vroutjies, baie jonger as hy, wat hy kry wat vir hom val.

Baie van die bloedjies kan selfs sy kinders of kleinkinders gewees het!

Karel kyk of daar enige boodskappe in sy inbox is.

Sowaar!

Dis van “Asian Beauty” – ’n vroutjie wat hy nou al langer as ’n jaar opchat.

Dis nogal op ’n Suid-Afrikaanse website waar hy haar opgetel het.

Karel maak haar boodskap oop en kry toe amper ’n hartstilstand.

Hy los eers en skuifel oor na sy bedkassie toe.

Hy vroetel rond en trek ’n boksie pilletjies nader.

Hy haal een van die piepklein wit pilletjies uit en sit dit onder sy tong.

Ja.

Sy hartpilletjies.

Karel vat-vat aan sy borskas en voel hoe sy hart effe bedaar.

Hy slurp ’n bietjie water. Sommer so uit die glas waarin sy boonste stel valstande is.

Dan hoor hy vir Nella.

Half deur die slaap brom sy: “Als orrait, Karel? Is dit wéér jou hart? Moet ons nie maar môre weer dokter toe gaan nie?”

Karel voel hoe die irritasie in sy keel borrel, maar hy wil nie sy hart verdere skade berokken nie.

Hy sê gedemp aan haar: “Slaap, ou vrou. Ek is orrait...”

Nella laat haar nie twee keer nooi nie en draai op haar ander sy.

Hieroor is Karel happy.

Nou lê sy met haar rug na die lessenaar toe.

Die coast is clear.

Hy kan nou na daai foto gaan kyk.

Karel sê oë word half glaserig toe hy bly staar na die rondings en kontoere en skaarse klere van die girlie op die foto met die piepklein verestoffertjie in haar hand.

“Jirrie, meisietjie. Jy kan gerus vir my kom afstof ...”

Dis dié gedagte wat deur die ou kêrel se gedagtes gaan.

Hy skuif agter die lessenaar in om te reply. Dis nie die tipe reply wat hier genoem kan word nie ...

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters