8 dae gelede
’n Oproep op sy dag af vang die kaptein onkant
Oom Sonnie
Oom Sonnie  ~ ~

HAAI Sonlanders!

Dis ’n splinternuwe week en tyd vir ’n splinternuwe vervolgverhaal. “Skoonveld” is die jongste verhaal van ELDRIDGE JASON.

Geniet die eerste hoofstuk!

HY VLOEK kliphard toe sy selfoonalarm op die bedkassie langs hom aan die skrou gaan.

Hy vloek kliphard, maar gooi nie die duvet van sy kop af nie.

Ná ’n paar sekondes sug hy swaar, steek lui ’n hand onder die duvet uit en tas-tas op die bedkassie rond op soek na die blêrende foon.

Toe hy die selfoon nie in die hande kry nie, smyt hy die beddegoed vies van hom af. Hy los nog ’n kragwoord. Een van daai ma-se-goeters wat nie uitgebleep kan word nie.

Hy skakel die bedlampie aan en raak opnuut vies toe hy sien dat die selfoon al die tyd binne sy bereik was.

Kwaad druk hy die snooze-knoppie op die selfoonskerm en smyt dit weer op die bedkassie neer.

Die selfoon wil egter nie saamspeel nie en seil regoor die bedkassie en val dan kletterend op die vloer.

Hy vlieg uit die bed uit op.

Op dieselfde tyd begin die selfoon op die vloer lui.

“Jirre, kan die f*kk*n universe my dan nie uitlos nie!” gil hy.

Hy stap swaar oor die koue vloerteëls na die selfoon, buk met ’n kreun af om dit op te tel en druk dan die groen knoppie.

“Môre, Kaptein.”

Die vriendelike stem van konstabel Michael Lawack is die laaste ding wat hy nou wil hoor.

“Lawack, kan jy na nie f*kk*n tyd kyk nie? Weet jy hoe laat dit is?”

Daar is doodse stilte aan die anderkant van die lyn.

“Nie net bel jy my f*kk*n wakker nie, maar het jy nou jou tong ook ingesluk?”

“Nee, nee, Kaptein. Dis glad nie so nie, Kaptein,” sê konstabel Lawack vinnig.

Speurkaptein Jinx Joshua se vlammende humeur is al legendaries in hulle polisiekantoor.

Almal weet die beste ding wat jy in die lewe kan doen, is om uit kaptein Joshua se pad te bly.

Veral wanneer hy nugter is.

Hy wat Lawack is, het dus geweet hy gaan diep spyt wees as hy die kaptein bel.

Maar hy het geen keuse nie.

Daar is fout. Moerse fout!

“Moet ek nou jou mind lees oor wat jy f*kk*nwil wou gesê het?” onderbreek Jinx die jong konstabeltjie se gedagtegang.

“Ek kom tot die punt,” sê konstabel Lawack heel onderdanig. “Daar is weer ’n kind ontvoer. Tafelsig.

“Dieselfde straat. Skoonveld. Witweg.”

Hy hoor hoe Joshua sy asem skerp intrek.

“Jy klink soos ’n f*kk*n telegram,” antwoord Jinx kras.

“Hoekom bel jy my? Jy behoort mos te weet ek is af vandag.”

Konstabel Lawack trippel verleë in die aanklagkantoor rond. Hy staar na die vrou voor hom wat met haar arms op die toonbank leun. ’n Vrou met sulke diep, intense swart poele vir oë.

Die vrou wat hom geforce het om hierdie oproep te maak.

“Ek is aangesê om jou te bel, Kaptein,” antwoord konstabel Lawack en lek oor sy kurkdroë lippe.

“Deur wie?” vra Jinx. “Daai useless Tshabalala Ndlovu?”

Brig. Tshabalala Ndlovu is hulle bevelvoerder.

Konst. Lawack is nes die res van sy kollegas daarvan bewus dat Jinx en Ndlovu nie langs dieselfde vuur sit nie.

Gerugte wil dit hê dat die twee mans eens op ’n tyd vriende was.

Maar toe smaak hulle albei dieselfde vrou.

Glo ’n beeldskone goose wat op ’n tyd hoof van crime intelligence by hulle cop shop was.

Maar dit was lank voor sy tyd.

Hy wat Lawack is mag dalk nie lank in die polisiemag wees nie, maar hy is oud genoeg om te weet dat ’n mens nie jou ore te veel vir office gossip moet uitleen nie.

Elkeen wat ’n storie aandra en sy eie stertjie bylas, het altyd een of ander hidden agenda.

So het hy nou al mooi agtergekom.

“Dit is nie brigadier Ndlovu nie,” antwoord Lawack.

“Hier is iemand anders. ’n Vrou. Sy sê dat niemand anders as Kaptei–”

Maar voordat Lawack sy sin kan voltooi, word die telefoon se gehoorstuk uit sy swetende handpalms gegryp.

Die oorblufte Lawack se mond gaan oop om iets te sê, maar die mooie vrou voor hom knipoog speels vir hom.

“Hallo, Jinx. Steeds die ongeluksvoël van die jaar?”

Haar stem is sag, sensueel en dit drup van selfvertroue ...

Jinx se kneukels raak wit soos hy die selfoon stywer in sy hand vasklem.

“Ju ... Julia?”

Die meisie aan die ander kant van die lyn lag.

“Wat hakkel jy dan nou? Is dit wat gebeur as ek nie meer in die omtes is nie? Jy verloor jou spraak?”

Jinx gee ’n verleë laggie.

“Natuurlik nie,” kap hy terug. Sy eie ore word egter nie deur sy woorde convince nie.

Om hom verdere verleentheid te spaar, gaan Jinx vinnig voort: “Wat maak jy hier in die land? Ek dog jy is onder werk by daai fênsie Interpol job van jou in Switserland.”

“Aah, verbeel ek my of hoor ek ’n tikkie jaloesie in jou stem?” vra Julia.

Die lag sit vlak in haar stem.

“Glad nie,” antwoord Jinx vererg. “Hoekom sal ek wees? Ek was destyds dan bly vir hierdie geleentheid wat jou kant toe geval het.”

“Bly om my te laat gaan ook?” vra Julia.

Doodse stilte.

Julia sug.

“Dit baat nie ons dwaal in die wandelgange van die verlede rond nie,” sê Julia skielik haastig.

“Ek is hier by julle polisiestasie, soos jy nou al agtergekom het, en ek wil graag hê jy moet saam met my aan ’n saak werk.”

“Watter saak?” vra Jinx versigtig. “Van wanneer af werk die grote Interpol saam met polisiemanne van die Kaapse Vlakte?”

“Vandat kinders van die Kaapse Vlakte soos mis voor die son van hulle huise af verdwyn,” antwoord Julia effe styf.

“Maar dis oukei as jy nie met ons aan hierdie saak wil werk nie.

“Ek kan altyd vir Tshabalala vra om–”

“Gee my ’n halfuur en ek’s daar,” val Jinx haar in die rede.

“F*k Tshabalala. Ék sal hierdie saak optel.”

Julia lag. “Is julle dan nie meer vriende nie?”

Toe sy geen reaksie van Jinx kry nie, gaan sy voort: “Maak tog net gou.

“Hier het ’n lelike ding sy kop uitgesteek.

“Hierdie ding is groter as die goggas wat altyd die babas banggemaak het.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters