3 maande gelede
’n Ongenooide gas loer in by Louw se freedom-partytjie
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Die flambojante politikus Justin­ Louw stap as ’n vry man uit die hof nadat hy nie verbind kon word met die verkragting van drie vroue nie. Justin is vol van homself en vertel vir almal wat wil hoor dat hy onskuldig is. Maar in die crowd is een man wat nie daarvan oortuig is van Justin se onskuld nie. En hierdie ou neem hom voor om Justin vir sy dade te laat boet. Geniet nou hoofstuk 2 van ELDRIDGE JASON se Die Laksman.

JUSTIN vat ’n groot sluk van sy duur whisky terwyl hy behaaglik agteroor sit op die stoel agter sy lessenaar.

Wat ’n paar hectic maande, dink hy.

Maar dit is nou alles agter hom, nes hy anyway geweet het dit sal wees.

Justin grinnik. Dit was so hittete. Hy het roekeloos begin word. Gedink hy is untouchable.

In die vervolg sal hy moet seker maak sulke skandes steek nie weer sy kop uit nie.

Dit kan sy politieke aspirasies verwoes.

Hy sug. Die meisie het toe nie tjoepstil gebly soos wat hy gedink het nie.

Pogings om hulle op ’n subtiele manier om te koop, het ook geboemerang. Hulle kon hy ’n privaat speurder kry wat dirt oor daai regter kon opgrawe.

En die res, soos wat hulle sal sê, is geskiedenis.

Hy staan op, stap tot by sy drankkabinet en gooi vir hom nog ’n stywe dop.

Sy vrou, Charlene, het vandag nog nie ’n woord met hom gepraat nie. Sy moet maar ’n brug oor haar issues bou en oor dit kom.

Hy wat Justin is, weet sy hou van hul cosy lewe en sal dit nie wil prysgee nie.

Vir iemand soos sy wat aan die ander kant van die treinspoor grootgeword het, is armoede nie meer ’n opsie nie.

Hy stap om sy lessenaar en gaan weer sit. Hy sit sy glas versigtig langs hom neer en skakel dan sy tablet aan.

Haastig scroll hy deur ’n paar aanlyn nuusdienste en frons.

Verdomde joernaliste, dink hy kwaad.

Soek ook net sensasie. Almal van hulle het nou op die conspiracy-wa gespring dat sy gekoop is.

Selfs Son haal aan dat Ebbi Ntabazawa, provinsiale NVG-woordvoerder, sê hulle beoog om teen die regter se uitspraak te appelleer.

Nes sy vrou, sal selfs die NVG maar sterk moet wees. Daar is nie ’n krom ding op hierdie aarde wat geld nie kan reguit maak nie.

’n Beweging in die vertrek trek sy aandag. Justin loer vinnig op en snak na sy asem.

Voor hom staan ’n man met ’n lang, swart jas aan en ’n keppie wat laag oor sy oë getrek is.

“Naandsê,” sê die man in ’n skor stem. “Ek sien jy is omtrent besig om te celebrate.

“Wie... wie... hoe de hel kom jy hier in?” bulder Justin.

Die man hou ’n hand omhoog.

“Ek stel voor dat jy nie so hard praat nie,” sê hy komkommerkoel.

“Ons wil mos nou nie jou vrou of kinders wakker maak nie, of hoe?”

Justin raak bleek om die kiewe.

Misdaad is deesdae op almal se brood, dit weet hy.

Dis hoekom misdaad en die bekamping daarvan altyd ’n belangrike rol in sy verkiesingsveldtogte speel.

Maar ook maar net vir die eyeblind, want wie is dan nou lus om die probleme van Mitchells Plain, Manenberg – eintlik die hele Kaapse Vlakte – op te los?

Tog het hy nooit in sy wildste drome verwag dat misdaad ook by sy huis gaan kom inloer nie.

Veral nie as hy dink aan al die derduisende rande wat hy aan sekuriteitsopgraderings bestee het nie.

Hy sal moet kalm bly, maan hy homself.

Die meeste mense wat omkom tydens rooftogte, is diegene wat hulself verset. Só het hy iewers in ’n koerant gelees.

“Ek het geld in my kluis. Jy kan dit alles kry,” probeer hy so kalm as moontlik praat.

Die man grinnik. “Alles? Net vir my?

“Jy is verskriklik gaaf, meneer. Mense soos jy gaan mos reguit hemel toe.”

“En ek sal nie die polisie bel nie, jy sal veilig kan wegkom. Ek gee jou my woord,” probeer Justin weer.

“Jou woord?”

Die man se stem verhef effe. “En wat het jou woord beteken vir daai meisies wat jy verkrag het?”

Justin voel hoe die bloed uit sy gesig dreineer.

Hierdie is nie ’n gewone rooftog nie, dít besef hy nou.

“Die hof het my onskuldig bevind. Ek het my dag in die hof gehad, en–”

“Maar jy het nog nie jou dag met mý gehad nie,” val die man hom in die rede.

Dan, voordat Justin kan reageer, gaan hy voort: “Latecia Solomons, Wendy Strauss, Mignon Koopman, Genevieve Carelse, Naomi Piedt, Gabby Sylvester… Need I go on?”

Dit voel vir Justin asof iemand sy wind uitgeskop het.

“Wie... wie is jy?”

“Jou worst nightmare,” antwoord die man.

“Iemand wat jou al van skool af volg en moes toekyk hoe jy die een meisie ná die ander se lewe verwoes.

“Van kleins af het jou pa se geld jou mos uit die tronk gehou. Ek het so gehoop jy gaan hierdie keer jou Maker in Pollsmoor ontmoet, maar toe loop koop jy mos die regter om.”

Justin trek sy asem skerp in. “Hoe… hoe…”

Maar dan ruk hy homself reg. “Meneer, ek dink ’n paar van jou varkies het weggehardloop.

“Of jy het uit Stikland weggehardloop. As ek nou my paniekknoppie druk…”

“Jou alarmstelsel het ek lankal ge-disconnect,” sê die man houtgerus. “Ek is hier om jou vir jou sondes te laat boet.

“En nie jou gladde bek of veels te veel geld in die bank gaan my van plan laat verander nie.”

Die man bring ’n pistool te voorskyn.

Justin wil iets sê, maar dan voel dit asof ’n onsigbare hand om sy keel gesluit het.

Dit voel asof hy na ’n movie sit en kyk, terwyl hy aanskou hoe die man iets wat soos ’n knaldemper lyk, aan die voorpunt van die vuurwapen vasskroef.

“Ek verban jou tot die hel waar skuim soos jy verdien om te wees,” sê die man en kyk Justin reguit in die oë.

“Jy is nie die eerste, of die laaste stuk etter op aarde nie, maar dit was die laaste keer dat jy ’n onskuldige se lewe verwoes het.”

Drie, vier sagte poef-geluide klink op. Justin loer instinktief na sy wit hemp wat vinnig besig is om rooi te verkleur.

Hy weet nie of die man met die skor stem nog voor hom staan nie.

Hy weet nie hoekom Eskom dan nou skielik die ligte afgesit het nie.

  • Lees môre verder

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters