2 maande gelede
’n Nagmerrie lê voor op David en sy girl se pad
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Vandag plaas ons ’n verhaal uit die pen van ’n nuwe skrywer, JASMINE UYS. Sy noem dit So Soet die Wraak.

DIS Vrydagaand skuins ná middernag. Die pad is stil en verlate. David het hierdie pad gekies omdat dit ’n kortpad huis toe is.

Hy trap skielik rem toe hy die stil figuur in die pad sien lê. Sy verloofde, Lynette, gil onwillekeurig. Sy is wasbleek van die skok.

“David! Dink jy hy’s dood? Hy lê so stil.”

David sit asof versteen. Hy haal diep asem. “Ek weet nie. Ek sal maar gou gaan kyk.”

David buk besorg oor die stil figuur. Toe hy oor hom buk, kry die figuur skielik lewe.

Hy gryp David aan die arm en bring hom hardhandig grond toe. Toe David opkyk, omsingel vier mans hom.

David probeer orent kom, maar ’n swaar stewel druk hom neer teen die grond.

Lynette spring gillend uit die motor. “Wat doen julle? Los hom!”

David probeer moedig terugveg, maar die oormag is te groot.

“Lynette, hardloop!” gil hy vir haar.

’n Mes flits skielik in een van die skurke se hande. Die mes sink verskeie kere in David se lyf weg.

Lynette is histeries. “Nee! Nee! Julle skurke! Lafaards! Wat doen julle?! Julle moordenaars! Julle het hom doodgemaak!”

Hulle klap haar hard deur die gesig, gooi haar in die motor en jaag dan weg met haar.

Swak en bebloed strompel David pad toe. Minute later laai ’n simpatieke motoris hom op en neem hom hospitaal toe.

Weens die ernstige aard van sy beserings en bloedverlies, kry hy verskeie bloedoortappings en word in ’n mediese koma geplaas.

LYNETTE is steeds vermis. Haar ouers, Heleen en Johan Botha, is rasend van kommer.

Ná 10 dae is daar skielik ’n klop aan hulle deur in Pinelands.

Heleen maak angstig oop en hoop dis nuus oor Lynette. Sy skrik toe sy die polisieman sien. Haar moed sak in haar skoene.

“Mev. Botha? Ek is sers. Van der Merwe. Mag ek binnekom? Dis in verband met u dogter.”

Heleen se bene voel lam. Sy staan eenkant toe en wys die sersant hy moet inkom. Hy lyk ongemaklik en kan haar nie in die oë kyk nie.

“Mevrou, ek dink dis beter as u sit. Ek is bevrees ek het slegte nuus oor u dogter.”

Heleen sak moeg in ’n stoel neer. Sy weet instinktief daar het iets vreesliks met haar dogter gebeur. Sy kyk die sersant vraend aan.

Die sersant speel onbeholpe met sy pet en kug ongemaklik.

“Mevrou, ons vermoed ons het u dogter se lyk op ’n stuk veld naby Delft opgetel. Sy is in die Soutrivier-lykhuis, maar iemand moet haar kom uitken ...”

Heleen staar geskok na die sersant asof dit nie by haar insink wat hy sê nie.

Dan tref dit haar soos ’n vuishou tussen die oë. Haar dogter is dood! Haar enigste dogter is vermoor! Haar geliefde dogter is dood!

Sy gaan onbedaarlik aan die snik. Die sersant sit sy arm lomp om haar skouers.

Sy loer deur haar trane na hom. “Sersant, hoe is my kind dood?”

Die sersant lyk ongemaklik.

“Asseblief, ek moet weet. Het sy baie gely?”

Die sersant sug. “Sy is herhaaldelik verkrag en toe verwurg.”

“My arme kind ... Sy sou nie ’n vlieg kwaad aandoen nie. Hoekom moes sy so wreed sterf? Sy’t nie verdien om so wreed te sterf nie.

“Sersant, julle moet die vuilgoed kry wat dit aan my kind gedoen het! Hulle moet boet vir wat hulle gedoen het!”

“Ons doen ons bes, Mevrou. Ons sal hulle kry, dit belowe ek u.”

Die sersant groet en vertrek. Heleen sit nog verwese op die rusbank toe haar man tuiskom.

Sy val in sy arms en snik onbedaarlik. Die trane rol oor sy wange. Hulle staan mekaar lank net en vashou. Woorde ontbreek hulle.

Johan kry eerste sy selfbeheersing terug. “Ek sal gou na die lykhuis ry en ons dogter gaan uitken. Bly jy maar hier. Dit sal te traumaties vir jou wees. Gaan rus ’n bietjie. Ek is nou weer hier.”

Hy soen haar liggies op haar voorkop en vertrek.

Daardie aand kan nie een van hulle slaap nie. Hulle rol rusteloos op die bed rond terwyl hulle wonder waarom dit met hulle enigste dogter moes gebeur het.

DIS ’n week ná Lynette se begrafnis toe Johan en Heleen toegelaat word om David te besoek.

Dis die eerste keer ná Lynette se verdwyning dat hulle weer vir David sien.

Hulle staar half onseker na die jong man voor hulle. Hy lyk bleek en moeg.

Hy staar hulle afwagtend aan.

“Oom, Tannie, hoe gaan dit? Ek is so bly om julle te sien. Waar is Lynette?” Is sy veilig?”

Heleen begin saggies snik. David kyk haar angstig aan.

“Tannie? Wat makeer? Is dit Lynette? Het iets met haar gebeur?”

David se woorde is skor. ’n Koue hand omklem sy hart.

“Sy is dood, David. Lynette is dood! Sy is herhaaldelik verkrag en toe verwurg ...”

Heleen snik nou onbedaarlik. Johan sit sy hand beskermend om haar skouers. David staar hulle in ongeloof aan.

“Nee! Dit kan nie wees nie! Nie my Lynette nie! Nee!” Hy snik nou skaamteloos.

“Moet jou nie so ontstel nie, David. Jy is nog baie swak.

“Word net gou gesond. Die polisie sal haar moordenaars kry.

“Ons gaan nou. Ons sal weer vir jou kom kuier.”

Hulle groet en vertrek terwyl David hulle agternakyk.

Lank nadat Lynette se ouers weg is, peins David nog oor die gebeure van daai noodlottige aand.

Hy gaan dit nie so los nie. Hy gaan Lynette se dood wreek, al is dit die laaste ding wat hy doen. Hy’s dit aan haar verskuldig. As hy nie daai verlate kortpad gevat het nie, sou dit nie gebeur het nie. Nee, hy sal hulle kry. Dit sweer hy.

TWEE weke later word David uit die hospitaal ontslaan. Sy hart is vol haat en wraakplanne. Dis ’n obsessie by hom om Lynette se moordenaars te kry en te laat boet.

Hy besluit om gou ’n draai by Lynette se ouers te maak. Haar neef Peter is ook daar en baie bly om hom te sien. Hulle het nog altyd baie goed oor die weg gekom.

Heleen maak tee vir hulle. Ná ’n rukkie se kuier staan David op. “Dankie vir die tee, Antie. Ek moet gaan, maar ek sal weer kom kuier.”

Peter stap saam met hom motor toe en draai na David.

“David, weet jy hoeveel van die vuilgoed daar was daardie aand?”

“Dis iets wat ek nooit sal vergeet nie. Dis in my mind gegraveer. Daar was vyf van die gespuis.”

“Het jy enigeen herken?”

“Ja, ek het. Ek wou nie voor antie Heleen praat nie, maar ek dink die een is ’n gangster wat ek al dikwels in Son gesien het. Hulle specialise daarin om mense te rob. Ek kan nie sy naam onthou nie, maar ek gaan uitvind ...

  • Lees volgende Sondag verder

Wat dink jy van hierdie storie? Enige voorstelle? SMS na 32369

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters