20 dae gelede
’n Klop aan die deur laat L. Otto omtrent bebloed
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Meneer L. Otto is ELDRIDGE JASON se jongste pennevrug. Geniet die eerste hoofstuk.

DIE son het skaars sy kop uitgesteek, toe is daar ’n gehamer teen sy voordeur.

Hy wip van die skrik en vloek kliphard.

Wie sal hom dan so vroeg in die oggend kom wakker klop?

En dit op ’n Saterdagoggend?

Traag gooi hy die duvet van hom af en stap die gang af na sy voordeur toe.

Weer is daar ’n gehamer teen sy voordeur.

“Ja, man, ek kom!” gil hy kwaad. Genadiglik is die voordeursleutel in die sleutelgat.

Hy sluit die deur oop en pluk dit oop.

Hy skrik toe hy die twee wetstoepassers voor hom sien staan.

“Meneer L. Otto?” vra die een saaklik.

Sy kollega staan met bloedbelope oë langs hom. Seker te laat gisteraand gesuip, dink Otto.

“Wie wil weet?” probeer hy hom hardegat hou.

Die wetstoepasser laat hom egter nie van stryk bring nie.

“Is jy meneer L. Otto of nie?” vra hy koud.

“Dis vir my om te weet en vir jou om uit te vind,” try hy weer sy luck.

Ou Bloedbelope Oë se hand mik-mik na die vuurwapen wat verveeld langs sy sy hang.

Hy sug en blaas sy asem stadig uit.

“Ons het ’n lasbrief om jou plek te deursoek. Ek is sersant Onvriendelik en hierdie is konstabel Koekemoer.”

Otto kan nie anders as om uit te bars van die lag nie.

“Dis ook maar goed jy werk nie in customer service nie,” sê hy aan sersant Onvriendelik.

“En dit lyk of Koekemoer ook goed gemoer is deur die drank.”

Die twee cops vind sy kwinkslae egter nie snaaks nie.

“Meneer, jy is nou besig met dwarsboming,” blaf sers. Onvriendelik koud. “Moet ons versterkings inroep en jou hek oopbreek?”

Hy trek sy skouers op.

“Wys my jou lasbrief voordat jy met jou oorloggedagtes kom,” antwoord hy lui.

“En moenie dink ek bang julle attitude nie. Elke dag lees ek in die koerante hoe julle mense aanrand. Ek gaan nie stilstaan sodat julle my kan moer nie.”

Sers. Onvriendelik draai na sy kollega.

Traag grawe Koekemoer in sy sak en bring ’n opgefrommelde stuk papier te voorskyn. Hy druk dit onder Otto se neus.

Otto se oë gly oor die bewoording. Met elke spelfout wat hy raaklees, voel dit of hy ’n miltsteek kry.

“Dwelms?” vra hy ná ’n ruk. “Watse k*k is dit? Ek hou my mos nie met sulke stront op nie.”

Sers. Onvriendelik trek sy skouers op.

“Ons doen net ons werk,” antwoord hy bot.

“Ons het ’n anonieme oproep ontvang dat daar dwelms vanuit hierdie perseel gesmokkel word.”

“En ’n hof keur so ’n stuk strontstorie goed?”

Otto voel hoe sy bloed begin kook.

“Ek weier. Gaan kry maar julle versterkings. Ek ken my regte.”

Sonder enige waarskuwing skiet sers. Onvriendelik se arm uit en kry hom aan die keel beet.

“Jy gaan nie my tyd mors nie,” sis hy.

Konst. Koekemoer pluk sy Z88-dienspistool uit en druk dit teen Otto se slaap. Die loop van die pistool wieg so rond van Koekemoer se babelas-gebewe dat Otto vrees ’n skoot kan enige oomblik afgaan.

“Oukei, oukei,” gee hy bes. “Laat my dan toe om die hek oop te sluit. Dis nie reg wat julle doe–”

Voordat hy verder kan praat, ruk sers. Onvriendelik hom vorentoe. Sy voorkop kap teen die traliehek dat dit soos ’n selfoon op steroids begin vibreer. Otto se oë skiet dadelik vol trane.

“Moenie my tyd mors nie,” sis sers. Onvriendelik. “As ek sê jy moet iets doen, dan dóén jy dit.”

Hy verslap sy greep om Otto se nek sonder waarskuwing.

Dis so onverwags dat Otto sy balans verloor en agteruit steier. Hy gluur sers. Onvriendelik met haat aan. Koekemoer staan en grinnik soos hy lekker kry.

“Ek wag ...” sê sers. Onvriendelik kortaf, min gespin oor Otto wat hom met kaal haat aangluur.

Sonder ’n woord sluit Otto die veiligheidshek oop.

Sers. Onvriendelik gee hom nie eens kans om pad te gee nie en loop hom met die skouer uit die pad.

“Gaan kyk in die slaapkamer,” blaf hy op Koekemoer wat haastig in die gang af draf.

“Moet ek dan nie saamgaan om te kyk dat daar nie van my goed wegraak nie?” vra Otto.

Sers. Onvriendelik snork hard deur sy neus. “Jy moet ophou die k*k glo wat jy op TV sien,” sê hy. “Ek doen ’n ondersoek soos ek wil.”

Otto skud sy kop.

“Dis nie hoe dinge gedoen word nie,” skop hy teen die karre.

“Ek ken my reg–”

Dan klap sers. Onvriendelik hom dat sy ore tuit. Voordat Otto van sy skok kan herstel, kry sers. Onvriendelik hom voor die bors beet.

Sy T-shirt se knope spat in alle rigtings.

Sers. Onvriendelik is so naby Otto dat hy die peanut butter en jam-toebie kan ruik wat die cop vroeër geëet het.

Dít en gisteraand se Vat 69.

Voor Otto aan nog ’n protest kan dink, kap sers. Onvriendelik hom met die kop.

Hy val agteroor, maar Onvriendelik kry hom aan die arm beet en tref hom dan weer met ’n vuishou onder die ken.

Otto voel hoe sy knieë die gees wil gee, maar Onvriendelik is nog lank nie klaar met hom nie.

Die cop pomp twee vinnige houe in sy ribbekas en slaan hom dan met die elmboog deur die gesig.

Otto seil oor sy teëlvloer. Sers. Onvriendelik kom staan wydsbeen oor hom.

“Waar is dit? Sê my waar dit is of ek slaan jou f*kk*n flenters.”

Otto wil sy hande beskermend omhoog hou, maar kreun dan van die pyn. Hy sweer Onvriendelik het sy ribbes breek geslaan.

“Ek weet nie waarvan jy praat nie,” hyg hy. “Ek hou my nie op met drugs nie.”

Hy voel hoe ’n warm straal bloed langs sy mond afstroom.

“Moenie vir jou f*kk*n dom hou nie,” sis Onvriendelik. “Of course weet ek jy gooi nie uit met drugs nie. Dis nie wat ek soek nie. Jy weet wat ek soek.”

Otto skud sy kop verward.

“Daar moet ’n misunderstanding wees,” sê hy en hoes. Hy spoeg ’n straal bloed uit. Hy sien hoe twee van sy tande kletterend op die teëlvloer val. Koekemoer kom in die gang af gehuppel.

“Daar is niks nie,” report hy terug aan Onvriendelik.

Die sersant trek sy oë op skrefies.

“Ek soek daai wen-kaartjie van jou,” sê Onvriendelik in ’n onheilspellende stemtoon.

“Ek gaan elke been in jou lyf breek tot jy my sê waar dit is.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters