5 dae gelede
’n Groot skok wag toe Julia vir Jinx na Smiley toe vat
Oom Sonnie
Oom Sonnie  ~ ~

HAAI, Sonlanders! Jinx en die mooie Interpol cop Julia Kearns se herontmoeting verloop nie glad nie. Jinx vervies hom vir Julia, wat baasspelerig is. ’n Sindikaat kinderontvoerders is in die Kaap woelig en Julia wil Jinx deel van die ondersoek maak. Sy en haar span het ’n wannabe-ontvoerder vasgetrek wat die hele se beans gaan spill. Maar dan is daar ’n geheimsinnige, powerful oudpolitikus wat sy manskappe opdrag gee daar moet met Smiley afgereken word. Gaan Julia en Jinx betyds by Smiley uitkom voordat die goeters ál wat fên is, tref? Geniet hoofstuk 4 van ELDRIDGE JASON se “Skoonveld”.

JINX klim sonder ’n woord in Julia se spoggerige Range Rover. Hy’s diep in sy eer gekrenk.

Julia verbeel haar darem baie, dink hy wroegend.

Sy was nie altyd so nie. Die Julia wat hy in die verlede geken het, was ’n spontane girl wat lief was vir smile.

Nie dié vrou in die peperduur snyerspak wat met ’n oordosis selfvertroue ingespuit is nie.

Maak ’n kwaai job dan só met ’n mens? wonder hy.

Dis mos nou ook nie asof ’n werk by Interpol die coolste ding op aarde is nie. Hy is seker hy kan ook daar ’n job losslaan.

Hy moet net ’n slag sy CV afstof en weer al sy sertifikate soek ...

Julia kyk stip voor haar terwyl sy teen ’n lekker spoed op die R300 voortsnel. Haar voet is plat op die petrolpedaal. Sy is haastig en wil nie ’n sekonde langer as wat nodig is, in Jinx se geselskap wees nie.

Sy sit vlugtig haar indicators aan en draai dan af op die Van Riebeeck-afrit. Onder by die verkeerslig wag sy nie eens op ’n groen lig nie en draai met skreeuende bande regs in die rigting van Kuilsrivier.

By die volgende verkeerslig draai sy links in Pioneerstraat, en ry die woonbuurt Soneike binne.

“Wat hou Interpol dan nou suspects aan waar die wit bruin mense woon?” vra Jinx.

Julia ignoreer hom soos ’n stopstraat in Philippi.

Net oor die bruggie draai sy links.

Sowat 300 m verder hou hulle voor ’n huis met hoë mure stil. Die hek staan oop. Iewers blêr ’n kar se alarm onophoudelik.

’n Ent af in die pad sien Jinx ’n pikswart Ford Everest wegjaag.

“Iets is nie reg nie,” sê Julia en draai na agter en gryp haar handsak. Sy bring ’n pistooltjie te voorskyn.

“Het jy ’n invitation nodig?” vra sy koud. “Jy hoor mos ek het gesê iets is nie lekker hier nie.”

Jinx skud sy kop en klim uit. Hy bodder nie eens om sy Z88 uit te haal nie.

“Is jy mal?” fluister Julia. “Wat dink jy doen jy? Jy kan mos nie sommer net so instap nie.

“Wat as –”

“As is verbrande hout, maar dit weet jy mos,” val Jinx haar in die rede.

“Ek is seker jy het daai Ford Everest van die toneel sien wegjaag? Ek dink dus dis nie nodig om nog te assume dat wie ook al hierdie hek oopgelos het, nog hier is nie.

“Did you know daar is ’n groot verskil tussen ‘dis’ en ‘dus’ en dis nie bedoel om ’n grap te wees nie?”

Sonder om op ’n reaksie van Julia te wag, stap Jinx die perseel binne.

Die eerste ding wat hom opval, is die massiewe rottweiler wat met dowwe oë na hom staar. Hy het nie ’n PhD in rocket science nodig om te weet hierdie hond is doodgeskiet nie.

Hy stap aan en hoor ’n gedempte gil agter hom. Julia het die dooie brak gesien en een goeie ding wat Jinx nog van haar onthou, is dat sy baie lief vir honde is.

Jinx sien die voordeur staan oop. ’n Paar voete steek uit; voete met blink gepoetste swart skoene aan. Spierwit sokkies steek onder die broekspype uit.

Jinx trek sy Z88 uit die skede langs sy sy.

Hy gee ’n paar versigtige treë die trappies op na die voordeur.

Hy skop aan die paar voete. Geen reaksie. Dan stoot Jinx die deur wyer oop met een voet.

Hy staar na die res van die paar pikswart skoene se liggaam.

Die bleskopman staar egter verby hom, die hiernamaals in.

Jinx gaan sit hurkend langs die man en druk twee vingers teen die man se slagaar. Niks. Nada. F*kk*l pols.

’n Skadu val oor hom. Hy swaai vinnig om. Julia.

Sy kyk hom met pierings vir oë aan.

Dan kyk sy af en haar blik verstar.

“Kennedy,” prewel sy. ’n Traan loop oor haar wang.

“Liewe, grappige Kennedy. Hy sou volgende maand oupa raak en einde Januarie op pension gaan.”

Sy ril toe sy die klein, rooi kolletjie langs haar kollega se slaap sien. Jinx volg haar blik.

“Ek dink nie die shooter was ver weg van jou kollega af nie,” sê Jinx, maar hy praat meer met homself.

“Dalk so vyf, sewe meter. Hy het hierdie kollega van jou ... ’m ... Kennedy ... duidelik onverhoeds betrap.

“Hy het nie geweet wat hom tref nie en dit bring dalk nie veel troos nie, maar ek dink jou kollega is dood nog voordat hy die grond getref het.

“Wie ook al dit gedoen het, het so na aan hom gestaan dat ek seker is ons flesh burns en gunpowder residue aan daardie persoon sal kry.”

Jinx vlieg orent toe hy Julia hoor gil. Sy wys geskok na die trappe, waar nóg een van haar kollegas lê. Ook met dowwe oë, pistool nog in die hand.

“Dis René,” sê Julia in ’n fluisterstem. “René Bernoulli van ons Switserse kantoor.

“Hierdie is nou een moerse diplomatieke gemors wat ...”

Julia bly meteens stil. Sy raak bleek in die gesig. Wasbleek.

“Smiley,” prewel sy. “My kollegas het die opdrag gehad om Smiley op te pas.”

“Julia, Julia.” Jinx kry haar aan die skouers beet toe dit lyk asof sy wil float. “Ek weet dis moeilik, maar jy sal jou reg moet hou.

“Waar is Smiley aangehou?”

Julia knik in die rigting van die trappe. Bang dat sy enige oomblik kan omkap, laat Jinx haar versigtig op die onderste trap sit.

Dan storm hy die trappe op. Daar is ’n hele paar deure op die boonste verdieping, maar die een wat oop is, vang Jinx se oog.

Hy storm die vertrek binne, vuurwapen gereed vir enige iets wat dalk daar binne op hom wag.

Dit is egter nie nodig nie. In die verste hoek van die vertrek lê Smiley in ’n plas bloed. Sy hande is nog agter sy rug vasgemaak, maar dis duidelik dat iemand sy keel afgesny het.

Jinx stap vorentoe en kniel by Smiley se lyk. Hy ril effens toe die reuk van bloed sy neus kielie.

Iemand het gekom om Smiley uit te haal. Dis die easy gedeelte.

Maar wat het Smiley geweet wat ’n gevaar vir sy killers ingehou het? Iets maak nie vir hom sin nie. Smiley was dan maar altyd ’n low-profile kroek ...

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters