3 maande gelede
’n Game changer word op Arends se liggaam gevind
 ~ 

HAAI, Sonlanders. Speurkapt. Marky Marcus en sy kollega konst. Deidre Louw word ontbied om die dood van ’n bekende regter, Bennie Arends, in sy huis te ondersoek. Deidre, wat eerste daar aangekom het, sê aan Marky sy dink dis ’n moordtoneel wat gelaat is om te lyk soos ’n selfmoord­toneel. Geniet hoofstuk 2 van Kry Vir Jou... deur ELDRIDGE JASON.

‘EK MOET jou waarsku: Die toneel is glad nie ’n pretty sight nie,” fluister Deidre toe hulle by die huis instap.

Marky knik net. Hy is mos al vertroud met misdaadtonele – selfmoord of moord.

Daar is min dinge in die lewe wat hom skok, gru-tonele ingesluit En teen dié tyd weet hy nou al dat diegene wat die hardste op begrafnisse huil, soms die skuldiges is.

Marky fluit toe hy die massiewe voorportaal binnestap. Deidre lag en vra: “En nou?”

Marky skud sy kop. “Ek … Ek weet nie wat om te sê nie ...” prewel hy. “Verdien regters dan só baie geld?

“Waar kom regter Bennie Arends aan ál dié rykdom?”

“Dáái is die million dollar question,” antwoord Deidre. “Kom. Die body is bo in wat lyk soos ’n studeerkamer.”

Marky vergaap hom aan die onbeskaamde weelde terwyl hulle die trap uitklim.

Arends wou hê almal wat vir hom kom kuier, moes sien hy is ’n man van serious pitte, dink hy.

Hy volg Deidre in ’n gang af en by ’n deur in.

Sy sê oor haar skouer: “Forensies is klaar. So, ons hoef darem nie te worry oor waar ons trap nie.”

Marky vries in sy spore toe hy Arends agter sy lessenaar gewaar.

Die regter se oë is leweloos. Dit lyk asof hy net diep in gedagte is, maar die gaatjie in sy regterslaap verklap die waarheid.

Sy een arm hang en op die sagte, peperduur Persiese tapyt lê ’n rewolwer. Dit lyk vir Marky soos ’n .38.

Deidre volg sy blik en sê: “Ons het reeds vasgestel dat dit syne was.

“Moenie jou laat flous deur die klein gaatjie in die slaap nie: Byna die hele linkerkant is weggeblaas.”

“So, dis selfmoord?” vra Marky en frons. “Wat maak ons dan hier as dit duidelik ’n open-and-shut case is?”

Deidre trek haar skouers op en sê: “Apparently. Maar kyk hoe uitgestal lyk alles. So conveniently reg vir ons om tot daai conclusion te kom. Ek hoor hulle wou net die beste detectives op dié saak hê.”

Marky grinnik. “So, is ons nou die beste? Ons wat so die k*kste pay?”

Deidre lag. “Jy weet mos Saps is goed daarmee om sleg te betaal,” sê sy.

Marky sug verlig. Minstens is dié saak straightforward, dink hy.

Hy was bekommerd dat hulle onder politieke druk sou wees om so gou moontlik ’n arrestasie te doen.

Maar as Arends sy eie brains weggeblaas het ...

“Marky, kom kyk gou hier,” onderbreek Deidre sy gedagtes met ’n dringendheid wat hom bekommerd maak.

Sy staan langs die liggaam en vra: “Verbeel ek my, of klem hy iets in sy hand vas?”

Marky stap nader en hurk langs Deidre.

Hy trek sy oë op skrefies en sê: “H’mmm, ek dink jy is reg. “Het jy ’n tweezer vir my?”

“Hoekom sal ek nou so iets op my het?” vra Deidre verontwaardig.

“Want dis net vroumense wat hulle wenkbroue afpluk en dit dan met vetkrytlyne vervang,” antwoord Marky, min gespin oor Deidre se uitbarsting.

“Ag, loop k*k jy,” skel sy vies, en Marky bars uit van die lag.

En tot sy verbasing storm Deidre by die vertrek uit.

Waar brand dit? wonder hy. Ek het tog net ’n joke gemaak.

Hy kom met ’n gekreun en gesteun orent en ril toe hy in Arends se lewelose oë vaskyk ...

“H’mmm, jy het my altyd baie stront in die lewe gegee en kyk nou na jou,” sê Marky.

“Wat baat jou geld jou nou? Jy kon niks daarvan­ saamvat nie.”

Marky wip van die skrik toe die regter se kop skielik agteroor beweeg.

“Jislaik!” sê hy en hop agteruit.

Agter hom klink ’n gelag op. Deidre.

“Ook maar lekker bang, nuh,” sê sy terwyl sy ’n tweezer triomfantlik omhoog hou.

Marky is dadelik op die defence. “Ek is g’n bang nie,” sê hy. “Maar ek sien jy het toe darem ’n tweezer in jou handsak opgespoor.”

“Ek het dit by konstabel Gertse gekry,” antwoord Deidre met ’n vonkel in haar oë.

“Maar Gertse is dan ’n man,” reageer Marky verbaas.

“En jou punt is?” vra Deidre. Die lag sit vlak in haar pragtige bruin oë.

“Jislaik,” sê Marky en trippel dan ongemaklik rond. “Ek het nie geweet Gertse kolf vir die ander team nie.”

“Watter team?” hou Deidre haar moedswillig.

“Vir die Proteas, wie anders?” vra Marky kwaad. “En hou op dink jy is snaaks – gee die tweezer vir my.”

“Sonder om te worry oor wat Gertse alles met dié tweezer bewerk het?” hou Deidre dik.

Marky ruk sy hand terug asof die tweezer ’n slang is.

Deidre giggel verspot, stap tot by die liggaam en begin die stukkie papier versigtig uit die geklemde hand trek.

“Stadig ... Stadig ...” maan Marky. “Moet dit om hemelsnaam nie skeur nie ...”

Deidre loer vies na hom. “Ek doen dié soort ding nie van gister af nie,” sê sy kwaai. “Ek weet wat ek doen.”

Marky asem hard uit. Deidre en haar astrantheid is soms te veel vir hom ...

G’n wonder sy is nog single nie: Wie wil ’n goose hê wat ’n antwoord vir alles het? dink hy terwyl hy haar vasgenael dophou.

Deidre vorder langsaam en hy is skoons bang om asem te haal.

Skielik is die papiertjie los en Deidre skree soos ’n PowerBall-wenner: “Het hom!”

Sy hou die opgevoude papiertjie omhoog. Marky sê haar aan om dit op die lessenaar neer te sit.

Hy grawe vervaard in sy jacket-sak en pluk dan ’n paar sintetiese handskoene uit.

Hy trek hulle blitsig aan en vou die papiertjie oop.

Kry vir jou, Regter, kry vir jou ... staan daarop geskryf.

Marky frons en prewel: “Hier is k*k. Hier is sommer groot k*k ...”

“Wat is dit?” vra Deidre grootoog.

Marky lees vir haar wat geskryf is. Sy vra: “Wat dink jy?”

Hy sê stroef: “Ek dink nie ons het hier met ’n selfmoord te make nie, dís wat ek dink.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters