23 dae gelede
’n Driekwartier by Dok maak dat hy ’n crucial call mis
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Ná die dood van die gerespekteerde regter Bennie Arends en rapper Nasty­Boy G is Marky en Deidre nog nie veel wyser oor wie agter die wrede moorde sit nie. Marky gee Deidre opdrag om deur die dock­ets van ’n ou verkragtingsaak te gaan. NastyBoy G is van verkragting aangekla, maar regter Arends het die saak uitgegooi. Marky kan Deidre nie dadelik help nie, want hy moet ’n sielkundige sien. Geniet nou hoofstuk 6 van Kry vir Jou deur ELDRIDGE JASON.

MOOI was nog nooit lelik nie, dink Marky toe hy dr. Jansen se spogge­rige spreekkamer binnestap.

Victoria Jansen is ’n baie mooi vrou. Klassiek mooi.

Een van daai vroue vir wie net mans met geld kan bekostig.

Elke keer wanneer hy haar spreekkamer binnestap, voel hy skoons ongemaklik, asof die weelde hom wil oorval.

Met sy mediese fonds sal hy hierdie sessies nie veel langer kan bekostig nie. Hy weet Gems sal daarvoor sorg.

“En hoe gaan dit vandag?” vra dok Jansen vriendelik.

Die kuiltjies in haar wange is tog te poenankies. Sy beduie Marky moet op die bank gaan sit.

“Nee wat, Dok, ek kan nie kla nie,” antwoord Marky en sak diep in die weelderige bank weg.

“Vir my is dit maar net werk, werk, werk.”

Dok Jansen blaai deur haar notas. Dan kyk sy op en frons.

“As my geheue my nie in die steek laat nie, is jy die ondersoekbeampte in die moordsake van daai twee bekendes, reg?”

Marky knik. Hy voel nooit gemaklik om sy werk met vreemdelinge te bespreek nie.

“En hoe cope jy?” hou dok Jansen egter dik. “Dit moet darem baie stresvol wees?”

Marky trek sy skouers op. “Elke werk het mos maar sy stres, Dok. Maar ek gaan daai killer vang. Elke hond kry mos sy dag.”

“Laat die stres jou nie baie drink nie?” vra die sielkundige en kyk aandagtig na Marky.

Hy skuif ongemaklik op die bank rond.

“Dok, ek het mos net gedrink omdat ek probleme gehad het.”

“Mense sê hulle drink omdat hulle probleme het,” antwoord dok Jansen. “Maar eintlik het hulle probleme omdat hulle drink.”

Marky sit met sy mond vol tande. Hy het nog nooit ’n comeback gehad vir mense met sulke slim sêgoed nie.

“So, waar is ons tans …” Dok Jansen blaai weer deur haar notas. “O, ja, vertel my meer van jou verhouding met jou kollegas …”

PRESIES 45 minute later stap Marky by dok Jansen se spreek­kamer uit.

Hy is ’n verligte man. Om die hele tyd oor sy feelings te praat, is iets wat hy nie graag doen nie, maar dok Jansen wil elke liewe ding weet. Vir wat?

Hy haal sy selfoon uit en sien dadelik iemand het hom gebel. Deidre.

Hy vloek stilletjies. Hy moes tydens sy sessie sy selfoon op silent sit, want die mooie dok hou nie van onderbrekings nie.

Nie eens toe hy teen die karre skop en sê iemand kan hom met ’n belangrike lead oor hulle killer bel, het sy haar laat afsit nie.

“Dit gaan nou hier oor jou en jy wat gesond moet word,” het sy gesê. So asof hy siek is met verkoue of ’n ding.

Hy druk sy selfoon vies teen sy oor om te luister na die voicemail wat Deidre vir hom gelos het. Die sein is swak en Marky sukkel om uit te maak wat sy sê.

“Marky, waar ... jy nou? Ek soek jou ... ’n seer hart.

“Ek ... dockets gekry en jy sal nie glo waarop ek afgekom het nie.” ’n Groot geruis volg, en dan: “Anyway, ek gaan nou na haar toe.”

En daarna weer net een groot geruis.

Marky vloek kliphard toe hy nie die res van die stemboodskap kan uitmaak nie. ’n Ou antie wat verby hom stap, kyk hom afkeurend aan.

Haastig bel by Deidre se nommer. Dit gaan egter straight na voicemail. Weer vloek Marky kliphard.

“Wat makeer die vroumens?” wonder hy hardop.

Sy weet dan dís nie hoe hulle dinge doen nie. En veral nie met so ’n gevaarlike killer wat lustig daar buite rondloop nie.

Hy begin op ’n drafstap kantoor toe march. Hopelik is Deidre op kantoor en haar foon se battery is net pap.

Hy wonder wat sy in die dockets gekry het wat haar so opgewonde gemaak het.

Kan dit wees dat die killer sy gat gesien het?

DIE eerste ding wat Marky opmerk toe hy op kantoor kom, is Deidre se leë stoel. Hy is sommer van voor af vies en stap met lang treë na die stasiebevelvoerder, brig. Simphiwe Ndlozi, se kantoor.

Halfpad in die gang af keer die brigadier se PA hom egter voor.

“Die brigadier het saam met die sector commanders gaan gholf speel,” verduidelik sy.

“Jy weet mos Dinsdae is die dag waarop die brigadier hom verbeel hy is Tiger Woods.”

Op ’n ander dag sou Marky haar woorde snaaks gevind het, maar nou is hy soos ’n beer met ’n seer tand.

Brom-brom stap hy terug na sy lessenaar.

Hy het skaars gesit, toe val sy oë op die stack dockets op Deidre se lessenaar. Hy vlieg weer op en gaan sit by haar lessenaar.

Hy gryp die boonste lêer en begin verwoed daardeur blaai. Dit is die saak teen die Afrikaanse rapper NastyBoy G, die een wat regter Arends uitgegooi het.

Waarom presies die saak uitgegooi is, kan Marky steeds nie agterkom nie.

Terwyl hy deur die docket scroll, kan hy sien AP Bruinders het deeglike ondersoekwerk gedoen.

Al die nodige papierwerk is daar: die J88-vorm met die verslag van die dis­triks­geneesheer wat die slagoffer ondersoek het en ’n volledige verklaring van die slagoffer.

Marky sien Deidre het die bladsy met NastyBoy-lirieke wat sy vroeër vir hom gewys het, ook in die docket gesit. “Djy’t geko’ soese tief innie nag ...”

Hy kan nie anders as om weer oor hierdie simpel lirieke te lag nie, maar sy glimlag verstar toe hy die slagoffer se verklaring lees.

“Hy het op my toegesak soos ’n dief in die nag. Nadat hy klaar was met sy vieslike daad, het hy gesê ek kan maar met ’n vrag gattas by hom opdaag. Dit gaan niks baat nie, want die law is aan sy kant.”

Marky gryp weer die uitgedrukte bladsy met die onsinnige rap song se lirieke op.

Hoekom is daar dan so ’n groot ooreenkoms tussen sy song en hierdie verklaring?

Hy scan vinnig deur die res van die verklaring.

Toe hy die slagoffer se naam aan die einde van die verklaring sien, raak sy bloed yskoud.

Cynthia Ndlozi.

Sy baas se dogter!

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters