3 maande gelede
’n Blink idee skiet na vore toe Katryn Miss Sonja besoek
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Katryn van Harspan is in haar laaste jaar op laerskool, maar haar lewe is nie soos dié van ander kinders nie. Sy deal met baie grootmens-probleme. Haar ma het ’n ernstige drankprobleem. Sy het Katryn en haar jonger broers, Jakobus en Pietman, verwaarloos en is nou by oom Floors. Hulle pa het sy vrou en drie kinders jare gelede gelos. Hy het vir Katryn gesê hy is moeg. Katryn speel nou ma vir haar twee boeties en worry oor dinge soos waar hulle volgende maaltyd vandaan gaan kom. Om dinge te vererger hoor sy die skoolhoof, juffrou Baartman, wil haar sien. Dié lig Katryn in dat mevrou Kykers van die welsynkantoor ná die brand hulle huis­sake bekyk. Sy weet Katryn-hulle se ma los hulle alleen en sonder kos by die huis. Katryn is verpletter en worry dat amptenare van welsyn haar en haar boeties gaan skei. Geniet hoofstuk 3 van Katryn van Bo-straat, GWEN KORDOM se jongste pennevrug.

KATRYN gryp haar rugsak in die verbygaan by ’n verdwaasde Jakobus en Pietman nadat sy uit die skoolhoof se kantoor gestorm het.

Hulle volg haar sonder vrae. Hulle wag elke dag van die laaste periode op die buitestoep vir haar.

“Kom, die tyd loop. Ons moet by Miss Sonja uitkom voor ons huis toe gaan.”

Pietman en Jakobus moet byhou toe sy met driftige treë haar weg maak na die groot huis op die heuwel.

Miss Sonja en twee vroue staan en deel al toebroodjies uit.

’n String kinders staan in ’n netjiese lyn by die hek uit.

Miss Sonja kyk op en sien haar. ’n Breë glimlag verhelder haar gesig.

“If it is not the most beautiful girl in Harspan. Katryn. Good afternoon to you and the little ones.

“Do come closer. Here is more than enough.”

Sy wink hulle nader met ’n skraal hand.

“Afternoon, Miss Sonja,” sê sy en stamp gelyktydig aan die ander twee wat dan haar voorbeeld volg.

“Afternoon, Miss Sonja,” sê hulle.

Die vrou oorhandig haar voorskoot aan een van die vroue en kom staan voor haar.

“Katryn, how are you and the little ones doing?”

“We are fine, Miss Sonja.”

“Why do I see sadness in your eyes?”

Sy trek haar skouers op. Wat baat dit dat sy haar probleme aan ’n ander verduidelik?

Dis nie asof hulle iets daaraan kan doen nie. Of wag. ’n Idee skiet na vore.

“Miss Sonja, can we come and live with you?”

“What do you mean, child?”

“Why don’t you take us as your children?”

Daar is ’n stilte. Toe waai die vrou se kekkel-laggie oor die werf.

Agter haar skud die ander twee vroue hulle kop asof sy so pas al haar varkies verloor het.

Katryn kyk uitdagend na hulle voordat sy verder gaan.

“Then you will take the place of our mother.”

Miss Sonja se mooi blou oë rek in hulle kasse.

Langs haar maak Jakobus en Pietman onverstaan­bare geluide.

Haar oë bly egter stip op die mooi vrou met die lang hare.

“That’s absurd, child. Totally absurd.”

Katryn vervies haar.

“Do you know what ‘absurd’ means­? I will tell you.

“You are absurd, coming here from Namibia with your mixed genes. Thinking you belong here.”

Sy beduie rondom haar. “On the wrong side of the Northern Cape, acting like a real Florence Nightingale.

“Do you think you are a saint because you hand out sandwiches and soup to residents?”

“Katryn,” pleit Jakobus.

“That’s enough, Katryn. I will not tolerate you coming –”

“Vlieg in jou maai, Miss Sonja,” onderbreek sy die vrou.

Toe storm sy weg. Sy hardloop al met die straat langs terwyl die trane oor haar wange stroom.

Iewers in die pad neem sy teen die randsteen plaas.

Die woedebui in haar het nou bedaar.

Sy weet haar optrede was verkeerd, maar niemand verstaan wat sy hier binne voel nie.

Hoe kan hulle? Dis nie asof hulle in haar skoene staan nie.

Verlede jaar nadat ’n brand byna hulle huis vernietig het, moes hulle maande lank by tannie Fytjie inwoon terwyl hulle gewag het dat die huis reggemaak word.

Sy het gedog haar ma is klaar met drank, veral nadat hulle teruggekeer het na Harspan.

Haar pa het hier opgeduik en het hulle met ’n leuen hier weggelok.

Toe hulle daar kom, leef hy reeds ’n ander lewe met sy nuwe “gesin”.

Sy kon haar ma nie genoeg kwalik neem nie.

Daar was nie plek vir hulle in sy huis nie.

Hulle moes in ’n armsalige hokkie in sy agterplaas woon. Sonder kos.

Daar was nie eens ordentlike toiletgeriewe nie.

Hy het elke dag ’n vars emmer water voor die deur gelos. Seker om sy gewete te sus.

Verder het hy hande gevou teruggestaan en niks gedoen toe sy vrou hulle slegsê nie.

Haar ma moes haar hand oor haar Katryn se mond vou wanneer die vrou met haar tirades begin het.

Sy stiefseun van 18 het twee keer in die deur kom staan met sy oë gerig op Katryn. Sy blik was onleesbaar.

Dan het haar ma saam met hom verdwyn en eers ure daarna teruggekeer.

Teen die derde dag het haar ma opgevlieg en gesê sy kan nie meer nie. Sy het die hok gesluit en geloop.

Katryn was vreesbevange. Beelde van hulle drie wat van honger sterf, het haar geteister.

Sy het sand uit die vloer gegrawe en met die oorblywende water sandkoekies gerol en dit vir Jakobus en Pietman gevoer.

Ure later het haar ma met oom Danie in sy bakkie verskyn.

“Katryn?” Sy kyk op na die lang skraal seun wat voor haar staan.

Dis Desmond, haar klasmaat met die puisie-gesig. Sy ma, tannie Tienie, is die grootste skinderbek in Harspan.

“Is jy orrait, Katryn?”

“Hoe lyk dit vir jou, hè? Hoekom loop speel jy nie rugby of iets nie.”

Sy gesig verkleur sodat elke puisie ekstra pienk vertoon.

“Dis nie nodig om ongeskik te wees nie. Ek wou net weet of jy oukei is. Dit het gelyk of jy sit en huil.”

“Mind your own business. Toe, skoert hier weg van my af.”

Hy kyk lank na haar voordat hy sê: “Ek dink jy moet gaan kyk of jou ma orrait is daar onder by Boots se tavern.”

Die skrik wil Katryn amper omkeer.

Voordat sy hom kan uitvra, is hy weg.

Nou sit sy daar met ’n onverklaarbare vrees in haar hart.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters