9 dae gelede
Muggels hou hom clever, maar moet gou sy woorde sluk
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Speurkapt. Nigels Fluks is nie impress­ed toe hy en die mooie Layla Fortuin by die moordtoneel opdaag en hy sien die Kaapse cop Harry Muggels daar nie. Die twee is sommer dadelik aan mekaar. Dít ten spyte daarvan dat die liggaam van die derde slagoffer van ’n serial killer ontdek is. Geniet nou hoofstuk 4 van ELDRIDGE JASON se “Die Gemaskerde Killer”.

NIGELS onderdruk met groot moeite die begeerte om sy longe uit te kots toe hy die lyk van nader bekyk.

“Aauw, het iemand in jou Kellogg’s gemors?” vra Muggels sarkasties. Nigels gee hom ’n vuil kyk en konsentreer op die toneel voor hom.

Die meisie lyk nog jonk. Bloedjonk. Sy is geklee in ’n wynrooi eina-rokkie en haar oë staar die gryse verte in.

Haar mond is oopgesper en hy hoef nie te loer nie, want hy weet wat hou haar mond so oop: haar eie ore.

“H’m, dit lyk na ’n case van wie nie wil hoor nie, moet voel, nè?” lug Muggels weer sy ongevraagde opinie.

“Wat?” vra hy kamma-likes onskuldig toe Layla hom aangluur.

Layla ignoreer hom soos ’n stopstraat in Philippi en draai na Nigels.

“So, wat dink jy? Dieselfde ou se vuil handewerk?”

Voordat Nigels kan antwoord, spring Muggels hom voor. “Maar natuurlik is dit dieselfde ou se job. Enige aap kan dit sien.

“Die kort rokkie en veels te veel make-up sê my dit was ook ’n sekswerker hierdie.

“Dis immers winter en p**skoud saans. Wie trek haar só skraps aan as dit nie is om attention te soek nie?

“Haar handsak is nie ver van haar gekry nie en dit was propvol kondome en KY-gel. I wonder why.”

Hy lag vir sy eie grappie, maar Nigels en Layla lag nie saam nie.

“Ag, come on, mense. Hoekom is julle so suur?” vra Muggels gefrustreerd.

“Dit vat nie baie detective work om uit te figure dat hierdie meisie, nes die ander, ’n lady van die nag was nie.

“Wat egter baie interessant is, is nes die vorige kere, was daar ’n witness wat ’n gemaskerde ou hier in die cemetery gesien het. En raai wat: dieselfde witness as met die ander murders. Nou wat sê daai vir julle?”

Nigels antwoord Muggels nie dadelik nie. Hy laat sy oë ’n wyle verder oor die toneel dwaal en dan kom hy stadig orent.

Hy weet nie hoekom hy dit aan homself doen om elke moordtoneel so met sy oë in te drink nie, want die Vader weet, vanaand makeer hy weer ’n stywe dop. Net om te kan slaap.

“En wie is die witness?” vra hy dan aan Muggels, wat vinnig omdraai en na ’n paar cops wys wat by ’n polisievên staan.

“Hy is in daai vên. Sy naam is Tiekie of ’n ding. Ek is nie seker nie, maar wat ek wel weet, is dat ons ons man het,” sê Muggels baie vol van homself.”

Tot sy en Layla se verbasing bars Nigels uit van die lag.

“Tiekie? Tiekie wat in Carolusstraat bly? Jy seker?”

“Natuurlik is ek seker!” antwoord Muggels geïrriteerd. “Wil jy vir my sê ek weet nie hoe om my job te doen nie?

“Ek is highly trained en was destyds betrokke by ondersoeke van die stasiemoordenaa-”

“Paternoster het nie ’n stasie nie,” val Nigels hom koud in die rede.

“En as jy moeite gedoen het, sou jy gesien het Tiekie stap met ietwat van ’n mank stappie.

“Knie wat lelik uitgehaak het. So, hoe kan iemand met só ’n slegte knie drie vroue vermoor en hulle tot hier gedra het?”

Muggels begin op die spot rondtrippel.

Hy lyk nie meer so seker van homself nie, maar Nigels is nog baie lus om stamps op te plak.

“Het jy ook die moeite gedoen om hom te vra wat hy hier in die begraafplaas kom maak het? Dis immers ’n vreemde plek om ’n walk te kom vat.”

Muggels raak bloedrooi in die gesig.

“En nog ’n ding–”

“Oukei, oukei,” val Muggels hom in die rede. “I get your point.”

“In die meeste van gevalle is ’n punt maar net ’n dotjie,” kap Nigels terug.

Layla onderdruk met moeite ’n proes.

“Ek en Layla gaan dinge van hier af vat,” sê Nigels en kyk Muggels straight in die oë.

“Jy kan solank Lego-polisieman by brig. Beneke gaan speel en hom impress met jou bydrae tot die vastrek van die station strangler.”

Dan stap hy in die rigting van die polisievên en laat ’n stomgeslane Muggels agter. Layla kom haastig agter hom aangestap.

“Jirre, eerste dag terug van leave en jy vat nie k*k nie, nè?”

“Ek vat nie k*k van Kaapse kabouters nie,” antwoord Nigels en grinnik. “Ou Muggels dink daai bietjie Engels wat hy uit die woordeboek gekrip het, maak hom slim. Maar dis duidelik dat hy nog min jokes ken.”

“So, wat nou?” vra Layla. Nigels verkyk hom aan die oulike fronsie tussen haar oë.

“Jy sê dis nie Tiekie nie en ek stem saam met jou. Hierdie moorde maak my bang, want ek kry die gevoel dat dit nog lank nie over is nie.”

Nigels gaan so vinnig stilstaan dat Layla byna in hom vasloop.

Hy kry haar haastig aan die arm beet sodat sy nie haar balans kan verloor nie.

Vir ’n oomblik verdwaal hy in haar oë. Dan ruk hy hom reg.

“Jy moet ophou so diep in my pragtige, navy blue oë kyk,” probeer hy ’n grappie maak.

Sy slaan hom speels op die skouer. “Ag, loop skyt jy.”

Hy kraai so bo uit van die lag dat van hul kollegas nuuskierig na hulle loer en dan onder mekaar fluister.

“Daar begin dit,” sê Layla en skud haar kop.

“Daar begin wat?” vra Nigels.

“Die office gossip dat jy, geharde polisieman van die Weskus, en die girl met die snaakse Afrikaans van die Kaap ’n ding aan het.”

“O,” is al wat Nigels kan uitkry. ’n Warm gloed spoel oor hom. Hy is nie eens warm aangetrek nie, maar hy kry meteens warm.

“Wat dink jy gaan hier aan, behalwe die obvious ding dat ’n siek etter hier onder sekswerkers maai?” vra Layla.

Nigels blaas sy asem hard uit.

“Kan nog nie sê nie, maar wat ek wel weet, is dat ons met ’n helse groot probleem sit.”

“Met GBV-groepe?” vra Layla. Nigels skud sy kop. “Nie net dit nie,” sê hy en pluk weer aan sy masker.

“Tiekie sê hy het ’n gemaskerde ou gesien die lyke hier kom dump.

“Danksy antie Corona loop die meeste van ons deesdae met ’n masker rond. So, die killer kan enige een van ons wees.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters