24 dae gelede
Morgan Setera se liggaam verdwyn uit die lykhuis
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Lees vandag verder aan die verhaal van Salmon Smith genaamd “Projek Bionies”. Geniet hoofstuk 3.

DIE donker skimgedaante sluip die staatslykhuis by ’n sydeur binne. Hy kyk vlugtig om hom rond en sluip toe in die donker gang af – reguit na die koelkamer waar die lyke gestoor word.

Weer kyk hy vlugtig om hom rond. Hy maak die deur oop en loop na binne. Sy oog val sommer onmiddellik op die liggaam van Morgan Setera. Hy streel met sy hand oor die goed geboude maar gebreekte liggaam. Toe vryf hy sy hande ingenome teen mekaar.

“Lekker... Dié liggaam sal kan doen as my proefkonyn,” praat hy met homself. Hy stoot ’n trollie nader en laai Setera se liggaam met moeite daarop.

Vinnig stoot hy dit tot by die deur. Hy maak die deur op ’n skrefie oop en loer weer vlugtig in die donker gang af.

Daar is geen siel in sig nie. Vinnig stoot hy die trollie in die gang af.

Dit vat nie lank om die liggaam van Morgan Setera agterin ’n paneelwa te laai nie. Die geheimsinnige man spring vinnig agter die stuur in en trek stadig weg om nie enige aandag te trek nie.

Op die N1 kies hy koers noorde toe. Byna ’n uur later is hy deur die Hugenote-tonnel. Hy ry so ’n paar kilometer met die Du Toitskloofpas langs. Ná die pas draai hy af in die rigting van Rawsonville.

Hy draai knap regs en vat ’n grondpad tussen die wingerde deur. Die pad vat hom onderdeur die N1 tot waar dit tussen die bosse doodloop. Toe swaai hy sy paneelwa die boendoes in. Die hele gebied is in stikdonkerte gehul.

Gelukkig is hy al vertroud met die gebied. Hy vermy die sandkolle en omgevalle bome.

Ná sowat 20 minute parkeer hy die voertuig tussen die bosse. Hy haal die liggaam agter uit en laat lê dit op ’n saamgeflansde stretcher. Vinnig bedek hy sy voertuig onder bosse en takke.

Toe sleep hy die liggaam tussen die digte bosse deur.

Hy is uitasem toe hy ná 15 minute ’n ou, bouvallige gebou versteek in die diep klowe bereik.

Die man skyn vlugtig met sy flitslig oor die gebied heen. Toe sluit hy die deur oop en sleep die liggaam na binne. Toe hy die ligte aanskakel, onthul dit ’n goed ingerigte laboratorium. Daar is elektroniese masjiene, mediese apparate, metaaltafels, glastenke gevul met sulke groenerige vloeistof waarin die karkasse van dooie diere dryf en televisieskerms oral teen die mure.

Hy kyk vlugtig na die liggaam van Morgan Setera en toe in die vertrek rond. Hy knik sy kop tevrede.

“Prof. Johannes de Boa, jy gaan nou aan die hele wêreld wys jy is nie die mal wetenskaplike waarvoor hulle jou uitkryt nie,” praat hy met homself.

“Jy gaan hulle wys dat jou poging om ’n supermens te bou hierdie keer suksesvol gaan wees.”

Prof. De Boa skakel ’n klein videokamera aan wat op ’n tripod staan.

Hy laai Setera se liggaam op ’n glasblad, stroop die klere af en begin om dit te ondersoek.

Hy kyk vlugtig in die kamera.

“Daar is veelvoudige gebreke aan die liggaam. Albei bene se tibia en fibula, die voorarms se radius en ulna, asook die humerus van die beide bo-arms is gebreek. Al die ribbebene is gebreek – aan die regter- en linkerkant van die bors. Die borsbeen is ook beskadig. Daar is oral kneusplekke op die liggaam. Een enkele koeëlwond loodreg deur die voorkop is blykbaar die oorsaak van sy dood.”

Prof. De Boa maak die regterooglid oop en skyn met ’n klein flitslig op die pupil.

Skielik retireer hy en staar geskok na die liggaam.

“D-dis onmoontlik. D-Dit kan nie wees nie!” stotter hy. Hy kom weer nader en skyn met die flitslig in die linkeroog. Hy sien egter dat dáár ook ’n reaksie op die pupil is. Dit dui op breinaktiwiteite.

Vinnig trek hy die kardiale monitor nader en plaas elektrodes op strategiese plekke op die liggaam.

Met opgehoue asem skakel hy die skerms aan. Sy mond val oop toe hy die hartmonitor en bloeddrukmeter aanskou.

“Die man lewe dan nog!” hyg hy dit geskok uit.

Prof. De Boa voel hoe sy hartklop versnel van opgewondenheid.

Vinnig herrangskik hy sy laboratorium en beplak Setera se hele lyf van kop tot enkels met drade en plakkers. Van die drade koppel hy aan ’n breinmonitor.

Toe hy die flou elektriese impulse in die brein waarneem, val sy mond oop van verbasing.

“Hoe is dit moontlik dat die man gru-beserings én ’n koeëlwond deur die kop kan oorleef?”

Hy laat die driedimensionele beeld van die brein op die skerm in die rondte draai sodat hy dit van alle kante af bekyk – die inferior, sagittal, lateral en die superior view.

Hy stop by die superior view en vergroot die beeld. Hy fluit deur sy tande toe hy die pad sien waarmee die koeël getrek het.

“Die koeël is mooi netjies deur die median longitudinal fissure,” doen hy verslag. “Dit is die diep groef wat die twee serebrale hemisfere van mekaar skei. Geen breinweefsel is in die proses beskadig nie, maar die impak het die slagoffer in ’n koma geplaas.”

Prof. De Boa vryf weer sy hande ingenome teen mekaar. Hy voel hoe die adrenalien deur sy are bruis.

“Prof. Johannes de Boa, hierdie man wat hier lê, is jou perfekte proefkonyn. Jy gaan hom oorbou en laat ontwaak as ’n supermens – ’n mens met bioniese kragte.”

LYK verdwyn uit staatslykhuis!” “Gesin wreed vermoor!” basuin plakkate op lamppale dit twee dae later uit.

“Die liggaam van ’n eks-cop het op ’n geheimsinnige wyse eergisteraand uit die Tygerberg-staatslykhuis verdwyn ná die moord op hom en sy gesin,” lees ’n berig in die Son-koerant.

“Kapt. Morgan Setera, sy vrou en dogter is Woensdagaand wreed in hul huis in Brackenfell aangeval en vermoor. Dié moord het skokgolwe deur die stil en rustige buurt gestuur.

“Die motief vir die aanval is onbekend, maar die polisie vermoed Setera het destyds met sy betrokkenheid by die Highflyer Unit op ’n paar skurwe tone getrap. Dus word die feit dat dit dalk ’n vergeldingsaanval was nie uitgesluit nie. Die ondersoek duur voort.

“Oomblikke nadat die liggame van die gesin by die staatslykhuis afgelaai is, het Setera se liggaam verdwyn. ’n Nagskoflid wat besig was met sy middernagtelike inspeksie, het ontdek dat Setera se liggaam nie op die metaaltafel lê waar dit oomblikke tevore was nie.

“Nadat hy oral gesoek het, het hy dit aan sy bevelvoerder gerapporteer.

“Navrae is aan die gesondheidsdepartement gestuur vir kommentaar, maar teen druktyd het hulle nog nie daarop gereageer nie.”

SES maande later.

In die geheime laboratorium, versteek diep in die klowe van die Du Toitskloof, staan die verstrooide prof. Johannes De Boa voor ’n tafel met ’n glasblad. Hy lyk baie ingenome met homself toe hy na sy skepping voor hom kyk.

Sy regterhand gaan oor die goedgevormde liggaam van Morgan Setera. Dit voel vir De Boa asof hy nou net ’n marathon gehardloop het. Hy voel hoe die endorfiene deur sy liggaam vloei.

’n Snaakse grynslag verskyn op sy gesig.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters