19 dae gelede
Moloi probeer ’n onwillige Jules se samewerking kry
Oom Sonnie
Oom Sonnie  ~ ~

HAAI Sonlanders! Ons skop vandag af met “Glo”, ’n nuwe vervolgverhaal deur ELDRIDGE JASON.

HY STAP die hospitaalgang af met lang, lang tree. Daar is ’n haas in hom wat skrik vir niks. Die tyd is teen hom.

Elke sekonde wat wegtik, is ’n sekonde wat verlore gaan en nie teruggekry kan word nie.

Hy sug swaar. Hy is onder druk. Sy base hou ’n blaasvlam onder sy hol. Hulle soek resultate.

Hoe hulle van hom kan verwag om met die skaars resources die saak afgehandel te kry, gaan sy verstand te bowe.

Sy kop pyn. Hy weet darem dat dié nie ’n babelas-kopseer is nie. Daarvoor is hy mos darem al drie maande op die waterkar. Nee, dis stres. Stres en min slaap.

Van ver af sien hy al die figuur aan die einde van die gang in ’n stoel sit. Kop onderstebo. Soos iemand wat slaap.

Maar hy weet Jules Jacobs en slaap is nie vriende nie. Daarvoor hou sy demons hom te veel wakker.

Hy kom voor Jules tot stilstand. Jules beweeg nie. Hy maak sy keel skoon. Geen reaksie van die man voor hom nie.

Hy maak sy keel harder skoon.

Steeds geen reaksie nie.

Hy vervies hom.

“Oh, come on. Ek weet jy slaap nie. Ek ken jou. Jy hou jouself net weer moeilik.”

Steeds geen reaksie nie.

Hy blaas sy asem hard uit. “Brigadier Mthembu soek jou so gou moontlik in sy kantoor. Hy sê –”

“Mthembu se gat,” val die man hom onverwags in die rede.

Speurkaptein Justice Moloi grinnik. “Vir ’n kerkman kan jy darem ook lekker vloek, dominee Jacobs.

“Maar dié is nie nou ’n tyd vir grappies nie. Ons het jou nodig. En teen dié tyd weet jy al die brigadier is ’n moeilike man.”

“En kyk hoe bewe ek van vrees vir Mthembu,” sê Jules in ’n rustige toon.

Sy oë is toe en hy lig steeds nie sy kop nie. “Ek bang nie vir Mthembu nie. I only fear God ... and myself. So, get lost and report yourself missing.”

Moloi lek oor sy lippe en loer oor sy skouer. Ai, hoe mis hy nie nou daai blikkie Zam-Buk van hom wat hy by sy lessenaar vergeet het nie.

“Dominee, dié is nie nou die tyd om hardegat te wees nie. Verskoon my taalgebruik, maar ons sit met ’n krisis. Die media is op ons case. Daar is animals daar buite besig en ...”

Hy bly ’n oomblik stil en loer weer oor sy skouer. Dan gaan hy voort: “En ons intel wys dat dié ouens iets groots beplan. We need you now, more than ever, asseblief.”

Jules maak sy oë vir die eerste keer oop en staar die cop voor hom kil aan.

“Moet my asseblief nie weer ‘dominee’ noem nie. En soos jy kan sien, is ek besig.”

“Besig om wat te doen?” vra Moloi kwaad. “Besig om jou gat lam te sit? Hoe lank sit jy nou al hier in die hospitaal? ’n Week?

“Jy weet die dokters het gesê –”

“Die dokters se gat,” sis Jules. “Dié is nie in hulle hande nie. Ek glo –”

“O, nou glo jy?” val Moloi hom in die rede. “Jy het dan nou net gesê ek moet jou nie ‘dominee’ noem nie, maar tog bly jy ’n man van die cloth.

“Hier sit jy en wag op ’n miracle, terwyl …”

Moloi laat sy woorde in die lug hang. Hy kyk pleitend na Jules.

“Kyk, ek is jammer. Jy is om verstaanbare redes in ’n bad space op die oomblik. Wat met Kia gebeur het …

“Geen ouer behoort hierdeur te gaan nie. Maar dit is juis waar jy ons van hulp kan wees. Die ouens wat dié aan Kia gedoen het ... hulle is besig om ander girls ook te werf.

“Die plot thickens by die minuut. Die Kerk van Alles en sy leier Alexander de Grootte beplan om die land omver te werp. Dié is moer groter as die destydse Boeremag-nagmerrie, I’m telling you.

“As ons nie iets gaan doen nie, gaan daar niks van dié land oorbly nie.”

“Daar is dan klaar nie veel in dié land oor nie,” kap Jules terug. “Eskom het ons in die donker, dwelms verwoes ons kinders, die bendes rule ons gemeenskappe …

“Niks in die lewe maak anyway meer vir my saak nie. As Kia dit nie gaan maak nie …”

Jules se stem breek, maar dan ruk hy hom vinnig reg.

“Cowboys don’t cry,” onthou hy sy pa se woorde van destyds toe hy ’n laitie was wat met seerplekkies dit wou durf waag om by sy pa te gaan kla.

“Waar daar lewe is, is daar hoop,” sê Moloi. “Jy het daai vir my geleer, onthou? Destyds toe ek en Siphokazi deur terrible times gegaan het toe ons kind baie siek was, het dié woorde van jou my staande gehou.

“So, moet nou nie kom vergeet om te practice wat jy preach nie. Moenie ’n k*k dominee kom staan en wees nie.”

Daar is signs van ’n effense smile aan Jules se mondhoeke. So vaag dat Moloi wonder of hy hom nie net verbeel nie.

“Moloi, jou taalgebruik gaan maak dat jy nie eens die poorte van die hemel van Tafelsig se kante af kan sien nie.”

Moloi snork hard. “Ek en jy weet albei dat dit eintlik Tafelsug is en dat ’n mens van daar af skaars die hond se gat kan sien.

“Jules, ek weet dié is moeilik vir jou. Kia se lewe hang aan ’n draadjie en die dokters kan nie definitief vir jou sê of sy dit gaan maak nie.

“Maar demmit, jy hoef nie hier te sit en mope oor die lewe nie. Jy weet De Grootte is hiervoor verantwoordelik. Hy en daai duiwelse kerk van hom.

“Jy kan ons help om seker te maak dat ander jong meisies veilig is. As we speak … het twee ander ouers al klaar hulle dogters as vermis kom aanmeld.”

Daar is ’n effense flikkering in Jules se oë. “En die Kerk van Alles is hierby betrokke?”

Moloi knik. “Ons vermoed so, ja. Maar jy weet hoe ’n glibberige etter daai De Grootte is. Hy dink hy is untouchable, en sonder bewyse … Ons need iemand in die inside en met jou background ...”

“Wat laat jou dink Alexander de Grootte sal my met ope arms in sy kerk aanvaar? Hy weet dan dat Kia my dogter is.”

“A, maar dis waar jy verkeerd is,” antwoord Moloi. “De Grootte is so vol van homself en glo dat hy, en hy alleen, die uitverkorene is, dat hy sal glo dat hy jóú ook sal convert.

“Die profiler wat saam ons aan dié saak werk, glo dat De Grootte jou conversion as ’n persoonlike oorwinning sal beskou.”

“Wie is dié profiler?” vra Jules. Vir die eerste keer is daar nuuskierigheid by hom te bespeur.

“O, jy sal haar wel ontmoet. Dis nou as jy instem om ons te help. Ek moet jou waarsku: Dié gaan nie ’n walk in the park wees nie.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters