Verlede maand
Moloi kry ’n groot skok toe hulle in die dorpie aankom
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Oe, hierdie oom se nerves is gaar! Gaan Moloi daarin slaag om Jules te red? En watse plan het die sekte-leier Alexander de Grootte met Jules? Geniet nou die slothoofstuk van ELDRIDGE JASON se “Glo”.

DIE R45 tussen Malmesbury en Hopefield voel gans te lank vir Justice Moloi.

Hy ry asof die duiwel hom jaag. Tyd is van kardinale belang. Tyd wat hy nie eintlik het nie.

Daar is immers ’n lewe op die spel – Jules s’n – en hy hoop en bid dat hy nie te laat is nie.

Verligting spoel oor hom toe hy Hopefield voor hom sien lê.

Hy verloor amper beheer van sy kar toe hy die dorp indraai. Langs hom gil doktor Tamzin Crule. Moloi mompel ’n verskoning. Hy het op die ingewing van die oomblik besluit om haar saam te bring.

Hy weet nie hoekom nie – dis net ’n feeling, maar dr. Crule was nie juis impressed nie en het heelwat teen die karre geskop.

Tog het sy ingestem en sit al die hele trippie bollewange langs hom. Praat nie ’n woord nie. Staar net na buite, so asof die pad na Hopefield ’n view to die for het …

Hy ry vinnig verby die Hamper King-winkeltjie en draai links by die stopstraat. By die Commercial Hotel sien hy geen lewe nie. Jy moet darem dapper wees om hier in Hopefield te bly, dink hy.

Of jy moet ’n death wish hê. Voor die plaaslike museumpie sien hy ’n ou sit wat hoopvol in sy sakke grawe en dit omdop in die hoop dat daar ’n paar verlore muntstukke lê.

Die local drankwinkel is tjoepstil. Smaak nie vir hom of enigeen hier lus is om in stilte te drink nie.

Dan, naby die plaaslike kerkie, sien hy ’n boom op ’n oop stuk veld en sy hart gaan amper staan.

Moloi trap vinnig briek. Dis mos iemand wat in daai boom hang. Iemand wat darem baie vir hom soos Jules lyk.

Hy trek die kar se handrem haastig op. Sonder om sy voertuig af te skakel, spring hy uit die kar uit. Dis vrek, vrek warm. So vroeg in die oggend, maar alreeds ongenadiglik warm.

Die hitte slaan hom soos ’n tropiese sikloon vir ’n ses. Sweetdruppels begin dadelik teen sy voorkop pêrel.

Hy hardloop in die rigting van die boom, maar gaan staan toe hy sy bevelvoerder oorkant die pad opmerk.

“Wat de f*k maak jy hier?” gil brig. Mthembu op hom.

Justice ignoreer sy baas se vraag. “Is daai Jules wat daar hang?” vra hy.

Mthembu gluur hom aan en blaas dan sy asem hard uit. “Ja,” antwoord hy kortaf.

“Maar jy gee nie ’n tree nader aan daai boom nie. Daar is groot k*k.

“Ons vermoed dis een of ander biological motherf*ck*r van ’n bom wat aan hom vasgegespe is.

“Een verkeerde move en ons is net so dood soos hierdie dorpie.”

Moloi lek oor sy droë lippe. “Le-lewe Jules nog?”

Voordat Mthembu hom kan antwoord, kom ’n aantal voertuie met loeiende sirenes aan. Moloi merk op dat ’n klein skare nou ook nader staan.

Hierdie is natuurlik weer die highlight van hul jaar, dink hy kwaad.

Dan storm hy vorentoe. Hy hoor hoe Mthembu ma-se-goeters vir hom vloek, maar hy gee nie ’n damn om nie. Wat soek Mthembu anyway hier?

Hoekom het hy hom nie vroegtydig van hierdie gebeure ingelig nie? ’n Paar meter weg van die boom af gaan Moloi staan.

“Jules?”

Geen reaksie nie. Dan roep hy sy vriend weer. Hierdie keer met meer dringendheid in sy stem.

Jules lig sy kop effens. Dit vat hom ’n rukkie om te besef waar hy is.

“Mo-Mo-Moloi?” vra hy in ’n skor stem. Dan loer hy rondom hom en die situasie waarin hy hom bevind, tref hom soos ’n vuishou.

“Wat de fo–”

“Vloek gaan jou nie nou help nie, my vriend. Dis net gebed wat jou uit hierdie sh*t sal kry.

“Dis interessant.”

Moloi wip van die skrik toe Crule langs hom praat. Hy draai kwaad na haar.

“Is daar nie gesê niemand moet tot hier kom nie?” vra hy kwaai.

Crule wip haar. “Hoekom moet ek luister as jy self nie ore het nie?” vra sy parmantig.

“En besides, jy gaan my hulp nodig het.”

“O ja?” vra Moloi uitdagend. “Hoe kan jy van hulp wees?”

“Ek weet presies watter biologiese stof hierdie is en hoe daar te werk gegaan moet word om ’n ramp te voorkom,” antwoord sy en kyk Moloi vierkant in die oë.

“Moloi,” sê Jules. “De Grootte en sy fanatiese gespuis is nie ver van hier af nie op ’n hoewe. Hulle het gasmaskers daar opgestock asof dit uit die mode uit gaan.

“Ek besef nou hoekom. Maar as daar dalk ’n taakspan kan gaan om hulle nagmaal te gaan gee?”

Moloi grinnik en haal sy selfoon uit.

“Wat dink jy doen jy?” gil Crule en gryp die selfoon uit die verdwaasde cop se hand.

Sy gee ’n hele aantal treë weg van die boom.

“Die non-ionizing radiation wat selfone afgee, kan daardie bom trigger,” sê Crule.

“As jy nou ons almal die hemelruim wil inblaas, dan moet jy nou ’n oproep staan en maak.

Sy oorhandig die selfoon weer aan Moloi. Hy gryp sy radio en blaf ’n paar bevele.

“Dis gereël!” skree hy aan Jules.

“ ’n Span is op pad om gou huisbesoek aan De Grootte te bring.”

Hy draai dan na Crule.

“Right, dok. Die ball is in jou court.

“Hoe disarm ons hierdie etter van ’n bom?”

DIT voel vir Jules asof doktor Crule ure lank vroetel met die gespes aan sy lyf. Dit voel asof hy genoeg tyd gehad het om oor al die sondes van sy hele lewe na te dink.

Hier en daar het sy verduidelik dat dit een of ander senugas is wat in die Tweede Wêreldoorlog gebruik is.

Maar sy nerves is klaar.

Hy wip van die skrik toe sy ’n klein gilletjie gee, maar besef dan wat het gebeur toe sy met die gespe-gedoentes voor hom staan.

’n Taakmag-lid storm nader en neem dit uit haar hande.

“Dis verby, die nagmerrie is oor,” sê sy verlig.

Moloi skud sy kop. “Dis glad nie oor nie,” sê hy stroef.

“Iemand het De Grootte ’n tip-off gegee en ons manne het niks op daai kleinhoewe gekry nie.”

Hy loer in die rigting van sy bevelvoerder.

“So lank as wat daar mense is wat glo hulle is untouchable en ander se stront glo, is hierdie battle ver van gewen af.

  • “Maar vir eers bly glo ons dat miracles steeds ’n job het om te doen.” Slot

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters