3 maande gelede
Moira sit nou haar voet dwars en leer Jarred-hulle ’n les
 ~ 

MOIRA sit nou en wag by die lughawe in Durban vir haar vriendin Nolene. Dié het sonder om twee keer te dink ingestem om haar daar by Moira aan te sluit. Intussen los Moira ’n slagveld van leuens agter. En wat gaan gebeur wanneer haar huismense uitvind hulle ma is gone? Lees vandag verder aan CHRISTA PRINSLOO se verhaal wat sy Ma Kán Uber noem.

MOIRA en Nolene kan nie ophou lag terwyl hulle mekaar hug en groet nie.

“Girl! Ek’s trots op jou! Jy skop gat!” begin Nolene dadelik.

“Ek kan nie glo dat jy sonder om twee keer te dink besluit het om hierheen te kom nie,” sê Moira.

Nolene kyk na haar asof sy weet en sê: “Dis waarvoor regte vriende daar is.”

Die dag het aangestap na amper 18:00 en Moira besef twee dinge.

Sy en Nolene moet iewers blyplek kry.

By haar huis moet Jarred en die twins moontlik nou al wonder wat van haar geword het.

Tog het nog nie een van hulle al vir haar gebel of ’n WhatsApp gestuur nie.

Nolene neem die voortou en merk op: “Kom ons koop eers vir jou ’n tas of ’n bag sodat jy die klomp pakkies daarin kan sit en dan vat ons dit verder.”

Dis asof Nolene nou die planne oorvat, want kort daarna stap sy doelgerig na buite en op haar foon bestel sy vir hulle ’n Uber.

Moira keer en vra haar wat aangaan.

Nolene smile en sê: “Kyk, my liewe vriendin, daar is soms voordele as ’n rykgat-joller van jou skei.

“Hy het vir my die strandhuis in Umhlanga Rocks gegee en het gedog hy spite my oor hy die strandhuis in die Kaap gevat het.

“Die spite kom in omdat hy weet jy bly in die Kaap en ek sou moontlik eerder daai strandhuis wou hê.

“So, Tony het my ’n guns gedoen, want hier ontmoet ons nou in Durban en is op pad na die huis.”

Dit raak ’n onvergeetlike tyd vir die vriendinne.

Eerstens verkyk Moira haar aan die pragtige huis wat verlate gestaan en wag het vir hulle twee.

Moira kan ook nie genoeg kry van die anderste klimaat van KwaZulu-Natal en die warmer see wat dramatiese golwe oor die rotse slaan nie.

Nolene gee nie juis tyd vir Moira om een oomblik bitterbek te raak en haarself jammer te kry oor haar gesin haar uitgelag het nie.

Sommerso loopafstand van die pragtige huis is ’n Portugese restaurant wat feitlik direk langs die see is. Die twee vriendinne haak daar vas.

Hulle kuier, en ’n bier elkeen raak meer as ’n six-pack.

In die kuier en opvang vertel Moira vir Nolene hoe sy haar sweerlik vasgelieg het by een van Jarred se ou varsity-vrinne.

Nolene dink egter dis ’n perfekte geleentheid vir Moira om nou in die bedryf te klim.

“Magtig, vrou! Waaroor moan jy? Daar het jy al jou eerste kliënt en jy het nog nie eens met iets begin nie.”

Nolene dink so ’n bietjie en voeg dan heeltemal ernstig by: “Ek het ’n good mind en klim saam met jou as ’n vennoot in die besigheid. Dan wys ons wat in ons steek.”

Moira weet nie of sy haar vriendin hieroor ernstig kan opvat nie en of dit net die bier is wat praat.

Laggend en met ’n gestrompel sukkel die twee ver verby middernag om die voordeur van die grênd huis oop te sluit.

Elkeen beland op ’n gemaklike rusbank in die sitkamer.

Dis net hier waar die vroeë oggendson hulle die volgende oggend kom wakker maak.

Oe, my jimmel! is die eerste skrikgedagte wat deur Moira se verstand flits.

Dié tyd van die oggend spring sy lankal met breakfast en wat nog om haar gesin vir die dag gereed te kry.

Hier is sy met ’n helse hangover baie ver van haar eie huis af.

Sy kyk oor die vertrek en sien dat Nolene nog heerlik opgekrul in ’n rusbank slaap.

Sy krap in haar handbag rond en vat haar selfoon raak. Dié is dood.

Sy plug die charger in terwyl sy haar selfoon weer terug lewe toe roep.

Intussen skakel sy die ketel aan om vir hulle koffie te maak.

Dit klink of die selfoon in cardiac arrest gaan soos dié se liggies begin flikker en onophoudelik twiet en perform.

Sy kyk en haar oë rek. Altesaam 28 missed calls en 26 WhatsApp-boodskappe wat gelees moet word.

Sy kan nie onthou wanneer laas sy so baie in demand was nie.

Sy maak oop en ja, die meeste oproepe is van Jarred.

Die ander is onderskeidelik van haar twee kinders en dan is daar selfs drie missed calls van haar ma.

Die WhatsApp-boodskappe het almal dieselfde tema.

“Waar’s jy? Ons is bekommerd.”

Sonder om skuldig te voel vat Moira haar foon en bel vir Jarred.

Sy merk op dit is nou net so ná 07:00.

So, haar gesin is almal wakker en is besig om gereed te maak vir hulle belangrike dag.

“Moira! Jirre, my skat! Ek worry! Waar’s jy!” antwoord Jarred met feitlik trane en histerie in sy stem.

Moira hou haar komkommerkoel toe sy sê: “Goeiemôre, Jarred. Jy kan nou relax.

“En as jy en jou twee bedorwe kinders my nou regtig verder moerig wil maak, moet julle my as missing by die Pink Ladies of die polisie gaan aangee.

“Ek is in Durban. Ek is hier oor ek gatvol van julle selfsug en selfbeheptheid is.

“Ek vat ’n break van julle af oor ek mos die onnosele huisvrou is.

“By the way … ek is lughawe toe met ’n Uber.”

Nog nooit het Moira soveel sorry en pleit in haar man se stem gehoor nie.

“Jy het vir ons deur hel gesit,” begin hy.

Moira hou haar steeds dik toe sy reply: “Ja, alles gaan oor julle. Shame, so, julle is deur ’n helse worry-nag.

“Wanneer het julle ooit aan my gedink en wat ek wil hê?

“Dink daaroor … sommer die hele naweek. Ek sal julle Sondag weer sien, as ek so voel. So, geniet julle naweek.”

Moira eindig die oproep voor Jarred nog ’n woord kan inkry.

Sy begin kaste oopmaak op soek na koffiebekers.

Langs haar klap Nolene hande.

“Well done, vriendin. Jy handle jou gesin reg. Miskien, as ek dinge so gehanteer het, was ek vandag nog getroud!”

Moira smile vir haar en vra stil waar sy al die koffiemaakgoed hou.

Moira en Nolene gaan sit rustig elk met ’n beker koffie.

Hulle kyk deur die groot venster na die lug wat sag en pienk verkleur. Dit is terwyl die eerste sonstrale en die golwe breek en terugtrek oor die rotse.

Nolene verbreek die stilte toe sy opmerk: “Ons gaan die langnaweek onvergeetlik maak.”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters