3 maande gelede
Moira se besluite maak vinnig vele deure vir haar oop
 ~ 

MOIRA het twee dekades laas spontane besluite geneem sonder om eers mooi na te dink wie almal daardeur geraak sal word. Nou sit sy op ’n vliegtuig op pad Durban toe sonder om te weet waarom. Sy weet net sy is bitter moerig vir haar man en kinders se ondankbare maniere en oor sy as mevrou Onnosel en mevrou Onsigbaar behandel word. Maar gaan die lawyer hier langs haar wat Jarred ken, haar piemp? Lees vandag verder aan CHRISTA PRINSLOO se verhaal Ma Kan Uber.

‘Nou onthou ek! Jy is Wayne Bruinders,” sê Moira spontaan aan die suit hier langs haar op die vliegtuig.

“Heeltemal korrek, mevrou Har­tog,” sê Wayne en smile vir sy ou klasmaat se vrou.

“Nou, wat doen jy dan so in die middel van die week op ’n vlug na Durban?” vra Wayne aan Moira.

Moira dink vinnig en besluit sy gaan skaamteloos vir die laywer lieg oor sy nie soos ’n loser wil klink met die waarheid nie.

Hoe sal dit anyway klink: “Nee, weet jy, Wayne, my man en kids het my vanoggend gespot oor ek nie eens weet van Uber nie. Toe wip ek my en klim op hierdie vliegtuig en weet nou nie wat verder nie.”

Amper so glad soos botter rol die leuen van Moira se lippe af: “Ek het ’n kliënt wat ek kom sien in Durban.”

“ ’n Moeilike een. Jy weet mos ek is in kantoorontwerp. Binneversiering.”

“Ek wil persoonlik sy kantoorruimte saam met hom deurstap omdat hy nie regtig visueel kan dink nie.”

Moira voel half trots op haarself oor die gladde stukkie liegwerk van haar.

Sy kan selfs in die leuen glo.

Maar sy besef ook dat dit onbewustelik is wat sy begeer het om te doen.

Wayne takseer haar ’n rukkie en sê dan: “Jinne, jy is vrek besig. Dis nogal jammer.”

“Ek sou nogal graag wou hê jy moet so ’n bietjie my kantore kom besoek in Somerset-Wes.”

“Dit het ook ’n dringende modern facelift nodig.”

Moira probeer vrek hard om haar gesig saaklik te hou toe sy dit fake met: “Ek gaan jou my nommer gee. Bel in volgende week. Ek moet net op my program kyk hoe my afsprake lyk, maar ek weet volgende week is nie só druk nie. Ek is ook nie uitstedig nie.”

“Dankie, Moira. Ek maak beslis so.”

Dis net té gou wat die vliegtuig begin gereed maak om te land en Moira met die volgende probleem los: Waarheen volgende?

Dan moet sy ook vir haarself uitwerk – ís sy nog so moerig soos vroeër vanoggend?

In die aankomssaal in Durban groet Moira wayne heel plegtig en maak sommer deeglik seker dat sy hom beslis in die volgende week gaan besoek.

Asof die jokduiwel haar besit, voeg sy plegtig vir oulaas by: “Ek hoop jy hou van omgewingsvrien­delike ontwerp. Ál my konsepte is gebaseer op green cli­mate design.”

Dis asof ’n liggie in Wayne se oë aangaan toe hy opmerk met: “Wel, ek spesialiseer in omgewings- en klimaatsveranderingsake. So, dit gaan beslis perfek inpas.”

Moira kan haar eie gat skop.

Sy kom so gou moontlik weg om tussen die massas op die lug­hawe te verdwyn.

Sy het dan nou openlik vir die man gelieg en om alles te kroon, het sy g’n clue wat om volgende te doen nie.

Sy gaan steek haarself weg in een van die kleiner koffiewinkels op die lughawe en hoop dat die belangrike Wayne nou al op pad is na waarheen hy moet gaan.

Sy bestel koffie en haal haar selfoon uit die handsak en skakel dit aan.

Net een missed call.

Nul WhatsApp-boodskappe.

En nee.

Die missed call is nie van haar man nie.

Dis dan nou eers so voor 12:00. Tussen hom en die kinders is hulle so besig met hulle dag dat hulle nog nie een oomblik aan haar gedink het nie.

Dis haar vriendin Nolene van Pretoria wat haar gesoek het.

Sy luister na Nolene se voice message: “En jy? Waar loop jy rond? Ek kom join jou sommer! Moira, as jy die boodskap kry, bel my asseblief. Bye …”

Nolene is ’n goeie vriendin al van Pniël se skooldae af.

Toe trou Nolene ook ná universiteit en hulle trek Pretoria toe.

Die man het die een of ander hoë pos as investment banker gekry en geld was nie ’n probleem nie.

Nolene en haar man het egter kinderloos gebly.

Ook maar goed so.

Sy jolsondes het onlangs op die lappe gekom en Nolene is deur ’n lelike egskeiding.

Sy is ten minste goed agter gelos, asof die joller wou sorry sê met geld.

Moira smile en kry haar plan.

Sy bel Nolene.

Nolene klink heel vrolik toe sy antwoord met ’n vraag: “Nou ja, rondloper! Waar is jy dat ek jou nie in die hande kry nie?”

“Nolene, jy sal my nie glo nie. Ek sit hier in ’n koffiewinkel op die Durban-lughawe …”

“Om te wat?!” vra Nolene dadelik.

Moira vertel haar kortliks en onderbreek haarself dan: “Kom, man. Klim in ’n Uber! Gaan Lanseria toe en kom Durban toe. Nóú! Ek wag vir jou.”

So asof dit niks is nie, skok Nolene haar: “Oukei … Gee my so drie tot vier uur, dan kry ek jou daar. Gaan koop solank vir jou klere, vrou!”

Die eerste keer vir die dag begin Moira hard en spontaan lag.

Sy sien hoe ander in die restaurantjie haar vreemd aanstaar, maar sy gee nie om nie.

Sy bestel iets om te eet en vat alles baie rustig. Sy weet sy het baie tyd om mee te speel.

Sy sal later klere gaan koop en intussen begin kyk na opsies waar sy en Nolene kan gaan bly en vir hoe lank.

Al wat Moira weet, is dat sy nie gaan worry om ’n kar te huur nie. Dis mos waarvoor ’n Uber daar is.

Moira is bleddie bly dat haar man en kinders so sarkasties was.

Hulle het haar ’n dekselse groot guns bewys.

Dis nie asof tyd voete sleep en Moira regtig wag by die lughawe nie.

Sy het intussen rustig deur die winkels gestap en vir haar vir so drie dae se klere gekoop.

Maar ook goeters wat sy nie normaalweg as mevrou Jarred Hartog, die cute matriek twins se mammie, sou koop nie.

Die paar label jeans sit stywer aan haar stêre as wat sy andersins sou koop. Sy het dit selfs gewaag om ’n lekker costume te koop wat meer lyf wys as wat sy andersins sou doen. Selfs make-up!

NOLENE is erg loud en opgewonde soos ’n warrelwind toe sy in Durban aankom.

Sy lag en kan nie ophou om Moira te vertel hoe trots sy op haar halsoorkop trip is nie.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters