13 dae gelede
Moira en Nolene se trippie is nie vir spek en bone
 ~ 

DIS die eerste keer in haar lewe dat sy sommer 28 missed calls op haar foon het. Moira het nie besef sy is so in demand nie. Maar is dit net oor haar familie se eie selfsug­tige redes? Daarom besluit sy om sommer ’n uitgerekte langnaweek weg van hulle af te vat. Gaan haar eentonige, bevoorregte lewe as huisvroutjie heeltemal verander nadat sy haar voet so dramaties dwars gesit het? Lees vandag die slot van CHRISTA PRINSLOO se verhaal wat sy Ma Kán Uber noem.

ENIGE een wat gedink het die suur, geskeide rykgat-vroutjie en ’n moerige getroude vroutjie het op ’n trippie gegaan om manne te jag, kan maar twee keer dink.

Hulle is juis pad op Durban toe om net so ’n bietjie te gaan rewind en weer af te koel en weg te kom van die manne wat die stres veroorsaak.

Moira vlug vir haar selfsugtige gesin wat vas glo hulle ma is onsigbaar en boonop erg onnosel.

Hulle dink sy het agtergebly wat die tegnologie betref.

En dan kan geen mens ’n beter vriendin as Nolene kry nie – ’n girl wat deur haar eie pyn, vernedering en hartseer is.

Maar Nolene het nooit haarself soos ’n victim gedra nie.

Sy geniet die rykgat-eks se boetedoening-geld wat hy vir haar agtergelos het.

Maar Nolene besef ook sy sal beslis iets met haar lewe moet begin aanvang.

’n Mens kan mos nie so heeldag op boetedoening-geld leef nie.

Selfs dít raak vervelig.

Die twee vriendinne sak op die rusbanke neer, elk met ’n beker koffie.

“Dis darem maar mooi hier,” begin Moira terwyl sy deur die vensters kyk hoe die dag nou stadig maar seker alles bright en sonnig maak.

“Dit is,” sê Nolene terwyl sy afkyk na haarself.

“Genade! Kyk die biervlekke op my top. Hel tog ... Ek hoop nie ek het my gisteraand sleg gedra nie.”

Moira lag terwyl sy sien sy lyk nie veel beter nie.

“Nee, ek dink net ons was ’n bietjie loud, maar ek glo nie ons het gepla nie. Hulle het ons nie uit hulle plek gegooi nie!”

Die twee lag lekker. Nolene staan op en bring vir elkeen kopseerpille om te sluk vir daai hangover.

“Nou toe, kom ek gaan wys jou op die boonste verdieping waar jou kamer nou eintlik is, dan kan ons elkeen gaan shower en die dag begin.”

By the way, vriendin, trek daai sexy costume aan. Ons gaan eers beach toe.”

Met die costumes aan en ’n helder stuk lap om die lyf wat uitskreeu “ons is bevryde vroue” stap hulle gesels-gesels strand toe.

Dit raak ’n luilekker oggend van sommer net opcatch en ’n bietjie leer oor mekaar se lewe.

Moira voel asof sy heeltyd wil vra of Nolene gisteraand serious was om ’n partner in besigheid te word.

Maar ’n stemmetjie in haar sê: “Wag eers, moenie lyk asof jy te eager is nie.”

Tot Moira se groot verbasing is dit toe Nolene wat eerste melding maak van daardie besigheidsgeleentheid en ’n moontlike vennootskap.

“Jy kan mos onthou van varsity-dae af dat ek in die BComm-rigting geswot het. Ek het bleddie goed gedoen en kan met syfers werk, suster!” sê Nolene.

Moira sê: “Ja, ek kan onthou. Dit was nogal snaaks dat die kuns girlie vrinne kon wees met die syfer girlie. Dis mos nie hoe die dinge op varsity gewerk het nie.”

Die twee besef daar is nie noodwendig iets soos toeval nie. Moontlik het hulle jare gelede vriende geraak om nou iets met hulle onderskeie talente te doen.

Intussen het ’n paar wolke voor die son ingeskuif en die wind begin half geniepsig raak op die strand.

Nolene staan op en sê: “Kom ons gaan huis toe, bestel ’n pizza, shower en sit koppe bymekaar vir ons besigheid.”

Dis woorde wat Moira op cloud nine sit.

Sy’s weg uit die Kaap as ’n moerige vrou wat vlug van haar familie se bitsige woorde. En hier sit sy en ’n hartsvriendin nou en beplan aan ’n nuwe besigheid en toekoms vir hulle twee.

Moira se mond hang oop vir Nolene se ongelooflike goeie besigheidskennis.

Die twee gesels dik stukke en gaandeweg neem ’n splinternuwe idee vir ’n binneversierdersbesigheid gestalte.

Nolene onderbreek hulle gesprek toe sy ewe skielik ’n oproep maak.

Eers dink Moira dis mos nou half ongeskik toe sy die een kant van die gesprek hoor.

“Hallo, Melissa, Nolene hier …”

Die ditjies en datjies volg en dan sê Nolene: “Onthou jy, jy het my ander dag gevra of ek van ’n goeie binneversierder weet vir jou plek? Wel, ek het een vir jou.

“Mella, die enigste ding is dat die girl nie vir jou ’n bargain-prys gaan gee nie, maar vriendin, jy sal beslis die waarde daarvan sien.”

“Wanneer? O nee, sy sal jou eers oor twee weke kan kom sien. Sy is tans besig met ’n baie belangrike kliënt in die Kaap.

“Onthou net, haar konsultasiefooi sluit ook haar vliegkaartjie in. Sy woon in Kaapstad …”

Moira se oë rek soos pierings.

Nolene druk die selfoon dood en sê: “Só handle ’n mens rykgatte. Hulle brand om te betaal sodat hulle ná die tyd kan brag daaroor.”

Hulle bars uit van die lag.

Moira sê: “Jy weet van niks. Volgende week moet jy Kaap toe vlieg as ek daai prokureur gaan sien oor sy offices.”

Nolene sê sonder om ’n oog te knip: “Ek is daar, vennoot.”

Dit raak vir die twee vroue ’n celebration van new beginnings.

Moira gaan saam met Nolene winkels toe.

Hulle uber oral waar hulle wil wees.

Moira skaf intussen vir haar ’n goeie laptop en ’n kamera aan. Dis goed wat sy gaan nodig kry in haar nuwe besigheid.

Sy voel nie eens skuldig dat sy so baie geld spandeer nie.

Wanneer laas het sy immers so ’n bietjie op haarself spandeer?

Dis altyd net op die kinders of Jarred wat sy geld uitgee.

Te gou gaan hulle tyd van saam kuier en beplan verby.

Tog weet Nolene en Moira albei dat hulle mekaar sommer weer in die nuwe week gaan sien en dan weer in die volgende week as Moira Pretoria toe moet gaan.

So tussendeur het Jarred en die kinders kort-kort gebel. Moira het nie die oproepe geantwoord nie.

Sy het net ’n WhatsApp gestuur en verskoning gevra dat sy die oproep gemis het. Sy’t gesê sy is besig.

Toe die vliegtuig Sondag 17:00 in die Kaap land, voel Moira soos ’n ander vrou. Sy dra haar nuwe paar jeans wat klou aan haar stêre en sy lyk soos ’n yummy mummy.

In die aankomssaal staan haar gesin. Elk het ’n bos blomme in die hand en ’n sorry-trek op die gesig.

Moira weet ’n nuwe era het aangebreek. Haar gesin weet dit ook ...

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters