3 maande gelede
Moira besef haar huismense dink sy is heel onnosel
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Huisvroutjies is mos vaal mensies wat kwalik verstand in hulle kop het. Hulle kan ’n bietjie bestuur en huis skoonmaak, maar veel meer is hulle mos nie werd nie. Hulle word as vanselfsprekend aanvaar, soos deel van die deftig ontwerpte muurpapier van die huishouding. Of hoe? Begin vandag lees van so ’n geval in dié verhaal van Christa Prinsloo. Sy noem dit Ma kán Uber. Geniet die eerste hoofstuk!

MOIRA vererg haar so dat sy voel hoe ’n aartjie hier gevaarlik naby haar linkerslaap bly klop.

Sy vat aan haar voorkop en voel hoe warm dit is.

Maar dis nie siekte nie.

Hoewel sy ook al ’n paar jaar terug die groot 40 geslaan het en sien hoe silwer strepe soos onwelkome plakkers in haar donker hare kom nesskop, is daar hoegenaamd niks fout met haar gesondheid nie.

Of is daar...?

Moira Hartog is volgens die algemene samelewing se standaarde een van daardie baie bevoorregte vroue. ’n Vrou waarop baie ander bitter jaloers kan wees. ’n Regte one percenter.

Moira woon in ’n erg upper class woonbuurt.

In die garage staan haar prokureur-man se deftige SUV, wat ook veronderstel is om die gesin se uitgaankar te wees.

Maar weens manlief Jarred se uiters belangrike en druk professionele bestaan, kom daar maar min van uitgaan.

Dus is Jarred een van die statistieke van een man, een kar in die Kaapse metropool se oorvol verkeersdruk.

Moira tel weer as onder die skoolma’s wat skoolkar ry en die verkeer soggens en smiddae verder in sy glory stuur.

Die redenasie is mos dat sulke skoolkar-vroutjies geen benul van tyd het nie en die verkeer net verder beneuk.

Maar terug by waaroor Moira haar vanoggend so vererg het... Dit was vir die opmerking van haar matriekseun, Clive, aan sy tweelingsussie, Claudette.

“Dit sal baie beter wees as ma ons elke dag skool toe en terug kan laat Uber.”

Die reëling was dat Jarred vanoggend die kinders by die skool sou aflaai omdat sy haar kar gaan inneem om gediens te word.

Wat Moira se moermeter totaal in die rooi laat rev het, is toe pa, meneer die prokureur, sy tien sent by die gesprek gooi en opmerk: “Dink julle twee nou rêrig julle ma weet wat Uber is?”

Iets in haar drie huismense se lag was spottend, vernederend.

“Is dít wat hulle dan van my dink?

“’n Oningeligte zombie? ’n Goeie eierbakker en bedopmaker in die oggende?”

Moira raak kwater toe sy besef: Haar huismense dink sy is totaal onnosel! Iemand wat agtergebly het met die voortsnellende tegnologie en nou soos ’n idioot behandel word.

Wat Moira veral ontstel, is die besef dat dit moontlik die waarheid kan wees.

Sy het ná universiteit nooit die geleentheid gehad om een minuut in haar eintlike beroep te gaan werk waarvoor sy geswot het nie.

Moira en Jarred was al van hul tweede jaar op universiteit ’n onafskeidbare item.

“Mooi Moira” was haar bynaam. Die oulike, skamerige meisie van Pniël wat kom swot het.

Jarred was weer die slim student. Die outjie wat uit Goedverwacht gekom het om al die wysneus-stadsjapies se gat te skop wat akademie betref – en sommer op die rugbyveld ook.

Vir almal was dit daai jare al ’n uitgemaakte saak.

Die mooi couple gaan trou omdat hulle vir mekaar bedoel is.

Noem dit ook dan maar by die naam – familiedruk van albei kante en druk van society in die algemeen.

Direk nadat hulle klaar geswot het, is Moira en Jarred daardie Desember getroud.

Dit was ’n groot tradisionele affêre vir die twee families en álmal het uitgesteek. Nie een antie of uncle is oorgesien in die uitnodigings nie.

Presies soos dit so ’n voorspel­bare geval betaam, het baie blessers Moira en Jarred groot gesponsor vir ’n heerlike honeymoon in Durban.

Jarred het baie uitgesien na die vakansie en hy kon rustig slaap omdat hy klaar ’n internskap gekry het by ’n groot prokureursfirma wat hom ’n bogemiddelde salaris aangebied het.

Moira was ook geholpe.

Hoewel die fokus nooit soveel op haar eie universiteitsukses en prestasies geval het nie, het sy immers haar graad in die kunste met lof geslaag.

Een van die grootste klere-kettingwinkelgroepe het haar ook ’n internskap aangebied. Eers net om vertoonvensterontwerpe te doen, maar met die oog daarop om later die binnenshuise winkelontwerp te behartig.

Hieroor was Moira ongelooflik opgewonde omdat dit altyd haar droom was om eendag wanneer sy mooi groot is haar eie binnenshuise versieringsfirma te kon hê.

Maar die lewe het mos sy eie gang en rigting waarin hy jou neem.

Kort nadat die mooi, jong pasgetroudes terug in hulle klein woonstelletjie in die Kaap was, het Moira knaend siek gevoel.

Daai gevoel het haar al getref terwyl sy en Jarred saam met hulle familie in daai woonstelletjie gesit het besig om trou­geskenke oop te maak.

Moira het ’n aanhoudende naarheid gehad wat maar net nie wou weggaan nie.

Binne drie weke het die dokter dit bevestig.

“Baie geluk, julle twee! Julle gaan ouers word.”

Op daai dag 18 jaar gelede was Moira straks die enigste tussen ál die opgewonde familielede, Jarred inkluis, wat effe teleurgesteld was.

Hier binne haar groei twee nuwe klein lewetjies – dít nog voordat sy ’n proeseltjie kon kry aan haar eie professionele lewe.

Oor die jare het Moira daardie gedagte besweer. Sy kan mos nog nooit só daaraan dink nie! Dis mos selfsugtig.

Maar nou, vanoggend, het haar man en kinders se uitlag-maniere haar finaal geknak.

Het sy dan so opgeoffer dat sy nie eens weet waar om te begin om ’n Uber te bestel nie?

Nou lyk dit dan haar kinders en man glo vas sy weet nie eens wat die term “Uber” beteken nie.

Sy is mos maar net Moira. Die skoolkar driver, die eierbakker en bedopmaker. Die vrou wat hulle huis pragtig ontwerp sodat hulle almal daarmee kan spog.

Moira gaan sit op die sitkamerbank en download die Uber app op haar selfoon.

Die woede het steeds haar nie verlaat nie.

Terwyl die application download sê sy: “Ek sal julle wys!”

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters