19 dae gelede
Mister Vuil Uil sê hy skrik glad nie vir Die Groot Vyf
Oom Sonnie
Oom Sonnie  ~ ~

HAAI, Sonlanders! Die Groot Vyf se video het die tonge behoorlik los. Die vet generaal se dreigement dat die cops op hulle spoor is, is al klaar weer vergete toe hulle op ’n nuwe target fokus. Geniet nou hoofstuk 4 van SALMON SMITH se “Die Groot Vyf Is Terug”.

‘DIE f*kk*n idioot!

“Wie dink daai generaal Takana is hy nogal om óns te dreig?” braak Brian gal terwyl Die Groot Vyf in hulle geheime hoofkwartier in die Epping Industria vergader.

“Hy is ’n groot, vet, breinlose pateet wat hóm eerder in ’n gym moet wegbêre en werk aan daai vet, drillende lyf!”

Brian kyk met ’n ernstige uitdrukking op sy bakkies na sy vier manskappe.

“Manne, solank as wat hulle ons nie kan identifiseer nie, is ons veilig. Ons is hulle ’n punt voor.

“Hulle weet nie dat ons eks-polisiemanne is wat presies weet hoe hulle ondersoekers se koppe werk nie.

“Ons gebruik ons kennis teen hulle. Hulle sal ons nooit kan ontmasker solank ons kan dink soos hulle nie!

“Ons weet waarna hulle kyk vir leidrade op tonele en ons gaan dit nie vir hulle gee nie.

“Ons maak die wêreld warm vir hulle én vir die misdadigers!”

Brian bly ’n rukkie stil en kyk die manne een vir een deur. Hy weet hy kan op dié vier staatmaak. Hulle almal het verskillende spesialiteite.

Samuel Geduldt was ’n skerpskutter. Henry Maarman was ’n taakmaglid. Johnny Vercuil was ’n briljante speurder wat nie stront gevat het van gangsters nie. Clint Daniëls was nog redelik vars in die polisie, maar hy is ’n bobaaspistoolskut met ’n spesiale-wapen-en-tegniek-kursus agter sy naam. En hy wat Brian September is, het ’n onderhandelaarskursus gevolg.

Hy het ook vele taktiese polisiëringskursusse agter sy naam en is ’n expert in martial arts. Saam is hulle ’n gedugte span.

“Ons video clip het die trick gedoen. Dit het nou die tonge los,” gaan Brian voort.

“Almal weet nou wat ons boodskap is. Die regering, die bendes, die drug dealers ... álmal besef nou ons is ernstig daaroor dat ons ons gemeenskappe terug soek!

“Maar daar is nog diegene wat dink ons is besig met jokes ...”

“Okay, dis nuus. Laat ons hoor!” kom dit van Johnny af. Daar is ’n frons op sy voorkop.

“Ek het vroeër vanmiddag ’n bietjie daar in Heideveld gaan scout,” gaan Brian voort.

“Daar bly ’n groot dwelmsmokkelaar genaamd Terence Green. Sy alias is Mister Vuil Uil.

“Mister Vuil Uil het glo baie te sê oor ons video clip.

“Hy het dit sommer daar op sy jaart uitgebasuin hy skrik glad nie vir Die Groot Vyf se dreigemente nie.

“En dat ons sal wys raak, want hy sal chise met ’n battlefield.”

“Die bliksem is mos bleddie arrogant! Ons sal hóm moet gaan chise vanaand!” gaan Johnny gal af.

Brian hou sy hand in die lug. “Stadig, boeta J.

“Ek het alles mooi beplan terwyl ek daar besig was met my dop.

“Vir ’n moegoe met so ’n groot bek het ek nogal nie baie holborsels daar op sy jaart gesien nie.

“Ons gaan môreoggend so 02:00 toeslaan, want dan is daai bietjie holborsels wat daar op wagdiens is, vas aan die slaap.

“Luister nou mooi ...”

KLOKSLAG 02:00 jaag Die Groot Vyf met hulle rooi kombi deur die hekke van Mister Vuil Uil se pozzie.

Dié move betrap die drie slapende wagte wat op die perseel aan diens is, onkant.

Een van hulle beland onder die wiele van die kombi toe hy nog probeer opvlieg. Hy word te pletter getrap.

Die ander twee kom darem orent voordat die aanstormende voertuig hulle saam deur die muur van die groot huis ploeg.

Die momentum laat hulle lewe­lose liggame soos vrot velle oor die vloer trek toe die kombi in die larney voorhuis tot stilstand kom.

Soos blits is Die Groot Vyf by hulle voertuig uit.

“Onthou, Vuil Uil het ’n vrou en kinders. Moet geeneen van hulle seermaak nie!” gee Brian vinnig die bevel voordat hulle op Vuil Uil se slaapkamer toesak.

Die groot dwelmkoning van die Heideveld pie hom sommer nat toe hy wakker skrik van die moerse lawaai en vyf gemaskerde manne hier voor sy bed gewaar.

Langs hom lê sy vrou met oë so groot soos pierings van die skok.

Toe Mister Vuil Uil nog na die pistool in die laai van sy bedkassie wil reik, blaf Clint Daniëls se si­lenced pistool­ en stuur ’n koeël deur sy hand.

Vuil Uil se vrou uiter ’n kort gilletjie en hy self gaan droewig aan die kerm.

Brian sê aan hulle dat dit om gesondheidsredes beter vir hulle is om maar eerder hulle mond te hou.

Toe beduie hy aan die gangster se vrou dat sy haar uit die voete moet maak.

Toe sy halsoorkop by die deur uitvlug, pen Brian en Johnny Mister Vuil Uil dadelik op sy bed vas.

“Jy het mos gedink Die Groot Vyf maak jokes, nè?

“Ja, jy skrik mos nie vir ons nie, nè?” spoeg Brian dit uit.

Vuil Uil se oë rek groter as ’n regte uil s’n.

“Jy dink mos jy kan aanhou dwelms verkoop, jong laities se lewe verwoes en dan nog vir jou lekker­ kite-gat kom staan en hou,” gaan Brian voort.

“Wel, ek het nuus vir jou. Ons gaan julle agterlike skuim uit ons gemeenskappe verwyder.

“Ons gaan ons gemeenskappe terugwen.

“Nou gaan Die Groot Vyf self chise met ’n battlefield!”

Mister Vuil Uil se vlag sak sommer gou. Daar loop trane oor sy wange en die reuk van vars akkies vul die vertrek.

“A-asseblief, G-Groot Vyf-menere, s-spaar my lewe,” soebat hy saggies.

“Nee, jou arrogansie tel teen jou!’’ spoeg Brian dit uit, stuur ’n koeël deur daai verrotte brein en verlos Heideveld van nog ’n groot niksnuts van ’n dwelmhandelaar.

“Gou, manne, laat ons hier weg wees!” gee Brian haastig die bevel.

Buite hardloop hy reguit na Mister Vuil Uil se Ford Fortuner wat eenkant staan.

Hy swaai die sleutel in die lug en beduie aan die ander om hom te volg.

Almal spring haastig by die SUV in.

“Daai Vuil Uil het nie meer die voertuig nodig nie.

“Ons sal dit anyway beter kan gebruik, want ons kombi is moer toe!” sê Brian en skakel die motor aan.

Hy jaag met ’n spoed by die jaart uit.

Agter hulle weergalm die gille van Vuil Uil se vrou en kinders deur die stil nag.

  • Lees môre verder
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters