2 maande gelede
Missing Pynappel maak baas Boetie baie bekommerd
 ~ 

HAAI, Sonlanders! Lees vandag hoofstuk 4 van CHRISTO MEYER se verhaal Die Surprise.

‘HET een van julle dalk vir Cloretta gesien?” vra Boetie Beergaardt, eienaar van Boetie’s Supermarket die volgende oggend.

“Dis stocktake preparation en sy is die enigste een wat nog nie hier is nie. Ek het mooi gevra almal moet vanoggend hul bes probeer om betyds te wees.”

Van sy personeellede trek hulle skouers op. Ander kyk onseker na mekaar. Sommige fluister onderlangs, maar aan die uitdrukking op hulle gesigte is dit duidelik dat nie een van hulle kennis dra van Cloretta se doen en late nie.

Boetie begryp dit nie. Cloretta is nie ’n laatkommer nie. Op haar kon hy nog altyd staatmaak. En sy weet tog hoe belangrik voorraadopname is.

Die nuwe boekjaar het onlangs begin en hy wil ál sy papierwerk in orde kry.

“Kelly, jy en Cloretta is mos goed bevriend. Het sy niks vir jou gesê nie?”

“Nee, Meneer,” antwoord Kelly vinnig.

“Ek verstaan dit nie. Julle almal het tog WhatsApp en Facebook. Wanneer laas was sy online?”

“Gistermiddag lunch-tyd nog nadat sy haar boyfriend gevra het om haar gisteraand by die gemeenskapsaal te gaan haal,” sê Kelly.

“Was daar dan ’n funksie by die gemeenskapsaal?” wil Boetie weet.

“Nee, Meneer. Sommer net ’n politieke ding?”

“Politiek?” vra Boetie en rek sy oë. “Van wanneer af stel Cloretta belang in politiek?”

Weer antwoord Kelly. “Dis juis die funny part, Meneer. Cloretta wou nie regtig daar wees nie. Haar suster, Charnelle, het haar gevra om te gaan hoor waaroor daar alles gepraat word.”

Boetie dink ’n oomblik na.

“Maar dan behoort Cloretta se suster mos te weet waar sy is.”

Kelly skud haar kop.

“Cloretta se suster doen security-werk, Meneer. Sy sit haar phone op silent wanneer sy soggens uit nagskof kom. Sy hou nie daarvan om gepla te word nie.”

Boetie karring nie verder nie. Hy wil nie hê die ander moet die indruk kry dat hy Cloretta voortrek nie. Hy sal maar wag tot Cloretta opdaag en uit haar eie mond hoor hoekom sy laat is. Daar moet ’n goeie verduideliking wees. Dalk het sy haar net verslaap, maar daaroor twyfel hy. Cloretta sou ten minste iemand ingelig het.

Toe Cloretta teen tienuur nog nie haar opwagting gemaak het of iets laat weet het nie, begin Boetie bekommerd raak. Hy verneem by almal in die winkel of hulle nog niks van haar gehoor het nie. Het daar dalk iets met haar gebeur?

“Ek het haar probeer bel, maar haar foon gaan reguit voicemail toe,” lig Kelly hom in toe hy weer navraag doen. “Ek begin ook nogal worry.”

Boetie sukkel om op sy werk te konsentreer. Sy gedagtes is die hele tyd by Cloretta Pynappel. As hy nie so besig was nie, het hy sowaar in sy kar geklim en gaan kyk waar sy is.

Sy is nie verniet verlede Desember as die werknemer van die jaar aangewys nie. Sy doen nie net die minimum soos baie van die ander nie – sy sit altyd ’n ietsie ekstra in. Sy sê nooit nee as sy gevra word om oortyd te werk nie.

Kort ná middagete ontbied Boetie vir Kelly na sy kantoor.

“Het ek iets verkeerds gedoen, Meneer?” vra Kelly toe sy in die deur staan.

“Nee, sit gerus. Ek wil net iets uitvind en ek wil hê jy moet heeltemal eerlik wees.”

Kelly gaan sit.

“Jy ken vir Cloretta beter as ek. Julle hang naweke saam uit.Watter tipe mens is haar kêrel?”

“Hoe bedoel Meneer nou?”

“Is hy gewelddadig of aggressief?”

Kelly gee ’n laggie. “Nooit gesien nie, Meneer. Nie Jackson Peerboom nie. Ek sê nie hy is ’n engeltjie nie, maar hy het nog nooit sy hande vir Cloretta gelig nie. En ek dink nie hy sal dit ooit doen nie.”

“Hoekom sê jy hy is nie ’n engeltjie nie?”

“Ek wil nou nie uit my beurt praat nie, maar Jackson is baie vrouerig. Hy sal niks daarvan dink om by Cloretta se vriendinne aan te lê nie. Dis hoekom sy vorige meisie hom gelos het. Hy kan nie sy oë van ander girls afhou nie.”

“Is dit so? En is Cloretta bewus daarvan?”

“Ek dink nie so nie, anders het sy hom lankal gelos. Maar ek soek nie moeilikheid nie. Dink Meneer miskien Jackson het Cloretta teen haar sin by die huis laat bly?”

“Ek weet nie wat om te dink nie, Kelly. Jy weet self Cloretta kom altyd werk toe, al is sy siek ook. En die feit dat haar foon af is, maak my onrustig. Dis nie hoe ons haar ken nie.”

“Ek het Jackson se nommer op my foon. As Meneer wil, kan Meneer bel en hoor of hy weet waar Cloretta is.”

Sy skryf die nommer op ’n stukkie papier neer.

“Dankie, Kelly. Jy kan maar gaan.”

Kelly kan nie gou genoeg opstaan en uitloop nie. Etlike minute gaan verby voordat Boetie Jackson Peerboom se nommer skakel.

Hy is verlig toe hy die foon hoor lui.

“Hallo,” antwoord ’n man.

“Wie praat nou?”

“Jackson Peerboom hier. Met wie praat ek?”

“Jackson, dis Boetie Beergaardt. Weet jy dalk waar Cloretta is? Sy het nie vanoggend kom werk nie.”

“Ek weet waar sy is en ek weet hoekom sy nie by die werk is nie.”

“Is sy siek?” vra Boetie besorg.

“Ek gaan die foon vir haar gee sodat sy self kan praat.”

“Hallo, Meneer!” kom dit in Cloretta se opgewonde stem. Dit klink glad nie vir Boetie of sy siek is nie.

“Ons almal het begin worry toe ons jou nie vanoggend sien nie. Is alles oukei?”

“Meneer-hulle hoef nie oor my te worry nie. Ek is mos ’n grootmens.”

“Maar dis stocktake en –”

“Jammer ek het niks laat weet nie, Meneer, maar ek was te excited­.”

“Excited oor?”

“Oor gisteraand se surprise, Meneer. Ek het sommer ’n gróót surprise gekry. Jackson het in die donkerte by my aangekom met ’n verloofring en my gevra om met hom te trou.”

“Dis goeie nuus. Ek neem aan jy het ja gesê.”

“Natuurlik! Dis hoekom ek nie kom werk het nie. Ons het die verlowing gaan vier.

“Meneer weet mos ek het nog ’n klomp verlofdae oor. So, ek is jammer, maar hierdie jaar se stocktake gaan my nie sien nie. Meneer verstaan mos, nè?”

Boetie Beergaardt is so uit die veld geslaan dat hy nie weet wat om te sê nie. Sy hart is nou gerus. Hy weet ten minste Cloretta is veilig. Sy is ’n harde werker en verdien ’n break.

Hy sal later die nuus met die ander deel.

  • Die einde
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters